? ????REGISTREER SO AS STUDENT OP TYGERBERG-KAMPUS

Daar is twee verskillende opsies beskikbaar waarvolgens jy amptelik as student van die Universiteit in Januarie 2017 kan registreer.

Die een is selfregistrasie (e-registrasie) , en die ander een is deur gebruik te maak van die registrasieproses in GERGA op die Tygerberg-kampus vir studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Indien jy die Nasionale Senior Sertifikaat of die IEB-sertifikaat verwerf het, sal jy van selfregistrasie gebruik kan maak. Kandidate uit ander skoolstelsels kan nie self registreer nie.

Dit is belangrik dat jy die kennisgewing oor registrasie wat die Registrateur van die Universiteit afsonderlik voor die einde van die jaar aan jou sal stuur deeglik lees. Al die inligting wat jy benodig om te besluit of jy van selfregistrasie gebruik wil maak, en of jy eerder gedurende die verwelkomingsprogram in GERGA op Tygerberg-kampus wil kom registreer, sal in die kennisgewing verskaf word. Al die nodige datums, tye, dokumentasie benodig en ander belangrike inligting sal in die kennisgewing verskaf word. Die selfregistrasiestelsel sal vanaf 13 tot 26 Januarie oop wees.

Selfregistrasie kan gedoen word vanaf enige rekenaar met internettoegang op www.maties.com. Ons wil jou graag sterk aanmoedig om hierdie opsie te gebruik, aangesien jy dan reeds voor jou vertrek na Stellenbosch sal weet of jy aan die toelatingsvereistes van die studieprogram waartoe jy voorwaardelik toegelaat is voldoen en, indien wel, dat jy finaal as student aanvaar en geregistreer is. Jy sal dan net jou studentekaart in GERGA op Tygerberg-kampus moet gaan kry. Dit is egter belangrik dat jy steeds die volle verwelkomingsprogram bywoon.

Indien jy nie van selfregistrasie kan of wil gebruik maak nie, moet jy die kennisgewing oor registrasie wat aan jou gestuur word deeglik lees om te verseker dat jy op die regte dag en tyd by  GERGA vir registrasie aanmeld en al die nodige dokumente byderhand het (kyk verder aan vir dokumente wat vereis word). Vir Tygerberg-kampus vind GERGA-registrasie reeds op Vrydag 20 Januarie plaas, terwyl NARGA-registrasie vir Stellenbosch-kampus per fakulteit, ingedeel in tydgleuwe, op Maandag 23 en Dinsdag 24 Januarie plaasvind. Let asseblief daarop dat eerstejaarstudente wat nie op hierdie datums geregistreer het nie en spesiale toestemming kry om nog te mag registreer (die program waarvoor jy wil registreer mag dalk reeds vol wees), later in die week saam met die senior studente van hulle fakulteit moet registreer. Eerstejaarstudente wat later as dit registreer, sal 'n heffing van R500 moet betaal.

Indien jy nie van selfregistrasie gebruik gaan maak voordat jy op Tygerberg aanmeld nie, is dit jóú verantwoordelikheid om seker te maak dat jy aan al die toelatingsvereistes van jou studieprogram voldoen vóór jy na Tygerberg vertrek. Indien jy in GERGA gaan registreer, moet jy die volgende oorspronklike dokumente toon wanneer jy in jou fakulteit se geskeduleerde registrasie-tydgleuf daar aanmeld:

  1. Uitslagadvies van die 2016 NSS- of IEB-skooleindeksamen.
  2. NSS- of IEB-kandidate wat in 2015 of vroe?r gematrikuleer het: Nasionale Senior Sertifikaat.
  3. Kandidate uit ander skoolstelsels: skooleindsertifikaat/e en universiteitvrystellingsertifikaat uitgereik deur die SA Matrikulasieraad.
  4. Kandidate wat by ander universiteite studeer het: Die dokument/e by 2 of 3 hierbo genoem, sowel as 'n volledige studierekord en bevredigende gedragsertifikaat van die betrokke universiteit.
  5. Indien jy nie 'n Suid-Afrikaanse burger is nie: 'n geldige studiepermit.

?Jy MOET die Nasionale Normt?oetse aflê.??