S'thabile Duma se gradeplegtigheidstorie is nie 'n gewone een nie. Ja, dit is 'n storie van triomf oor baie moeilike omstandighede en dit spreek van volharding. Maar uiteindelik gaan dit oor Ubuntu – oor 'n groep Suid-Afrikaners wat oor grense heen bymekaargekom het om te wys watter wonderlike goed kan gebeur wanneer ons ons harte oopmaak om met welwillendheid te gee en met genade te ontvang.
Aan die begin van 2024 het S'thabile gedink die uitdagings wat sy in die gesig staar, is feitlik onoorkomelik. Sy het geen idee gehad hoe sy deur haar finale jaar van bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan kom nie. In die eerste week van Februarie het sy geen blyplek gehad nie, en sy was bang sy sou nie kon registreer weens uitstaande skuld van die vorige jaar nie.
Die behuisingskrisis het verlede jaar 'n hoogtepunt op Stellenbosch bereik en soos baie ander desperate studente, het die jong vrou letterlik aan deure geklop en gesmeek vir verblyf. Terwyl sy kilometers ver in die versengende Februarie-son deur die dorp geloop het op soek na 'n blyplek, het sy gesukkel om haar trane te bedwing.
'n Bietjie meer as 'n jaar later het St'ha – soos haar geliefdes haar noem – die trane vrylik laat vloei. Hierdie keer het sy van vreugde en diepe dankbaarheid gehuil toe sy haar ingenieursgraad saam met haar nuwe Stellenbosse "gesin" gevier het
Toe S'thabile die meeste ondersteuning nodig gehad het, het Ben en Jeanneret Momberg hulle harte en huis vir haar oopgemaak.
Passievol daaroor om te help
Sy was nog altyd baie selfstandig, sê S'thabile. "Ek is iemand wat nie daarvan hou om mense te pla nie, ek probeer dinge vir myself uitsorteer. Maar hierdie keer kon ek nie aan nog maniere dink om myself te red nie."
S'thabile se wanhoop verlede jaar was op 'n manier ironies, want sy was 'n toegewyde vrywilliger by Action4Inclusion, 'n inisiatief wat deur die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) bestuur word om die "verlore middel"-studente te ondersteun om die gaping tussen talent en finansi?le nood te verklein.
"Ek het drie jaar lank ander gehelp om hulle studieskuld te delg en maniere gevind om geld in te samel deur geleenthede soos die jaarlikse Sosiale Geregtigheid-staptog te re?l," verduidelik S'thabile. "In al daardie tyd wou ek nie hê iemand in die Action4Inclusion-groep moet van my eie stryd weet nie. Ek het altyd 'n manier gevind om my studiegeld te betaal deur aan deure by die US se Kantoor vir Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, studentefinansies en die ingenieursfakulteit te klop wat met dinge soos beurse en verblyf gehelp het."
Toe sy aan die begin van die 2024-akademiese jaar geen uitweg uit haar eie, desperate situasie kon sien nie, het S'thabile 'n vriendin in haar vertroue geneem. In daardie stadium was sy gereed om moed op te gee en terug te keer na haar ouerhuis in KwaZulu-Natal. Maar 'n paar oproepe later is die wiele deur die Action4Inclusion-span aan die rol gesit.
"Ek onthou hoe prof Thuli Madonsela, die direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid, my laatmiddag baie bekommerd gebel het. Sy was gekrenk dat ek nie vroe?r iets oor my probleme gesê het nie. Sy het my verseker dat sy haar bes sal doen om uit te reik na die gemeenskap en hulp vir my te kry."
Die eerste reddingsboei het van 'n goeie vriendin van Madonsela gekom wat aangebied het om S'thabile by te staan met haar uitstaande studieskuld. "Ek was heeltemal oorweldig toe dit tot my deurgedring het dat ek nou kan registreer. Ek sukkel nog steeds om die woorde te vind om my dankbaarheid uit te druk," sê sy.
Onvoorwaardelike liefde
'n Week voor die aanvang van klasse het S'thabile 'n oproep van Jeanneret ontvang wat haar 'n blyplek op die gesin se plaas net buite Stellenbosch aangebied het. "Dit was 'n groot verligting. Aanvanklik was die plan dat ek vir 'n paar weke daar sou bly terwyl ek iets permanents soek," onthou S'thabile.
Jeanneret is ook al 'n paar jaar by Action4Inclusion betrokke. Toe Madonsela Jeanneret met S'thabile in aanraking gebring het, was die Momberg-gesin nog besig om van 'n tragedie te steier. Aan die einde van 2023 is Jeanneret en Ben se seun Benje deur gewapende rowers by 'n kroeg op Stellenbosch geskiet en verlam gelaat.
By S'thabile se gradueringspartytjie het Jeanneret roerend vertel hoe sy binne 'n paar weke soos 'n dogter vir hulle geword het. Sy het hulde gebring aan die "sonstraal" wat S'thabile in 'n moeilike tyd in die gesin se lewe ingebring het. "Ons het net almal op haar verlief geraak," het Jeanneret gesê. Wat net 'n tydelike verblyfre?ling sou wees, het gou permanent geword.
S'thabile erken sy het aanvanklik gestoei met vooropgestelde idees van wit Afrikaanse mense. Toe Ben aanbied om haar die eerste dag dorp toe te neem om klas toe te gaan, was sy baie senuweeagtig om alleen saam met 'n wit boer in 'n voertuig te sit. "Terwyl ek in die parkeerterrein gewag het, het ek gedink: 'Waarin het jy jouself laat beland!?' Toe Ben uitkom, sê hy 'Haai S'tha' en hy maak die deur vir my oop. Niemand het dit nog ooit vir my gedoen nie! Ben is die lieflikste, vriendelikste man wat ek nog ooit ontmoet het."
Sy het later uitgevind Ben het nie werklik gereelde sake op die dorp gehad soos hy beweer het nie – hy het elke dag uit sy pad gegaan om haar na die US-kampus te neem. "Hy het dit met soveel toewyding en sorg gedoen. Ek sal dit nooit vergeet nie," sê S'thabile.
"Ek het nog nooit sulke liefde van mense ervaar wat my nie ken nie. Hulle is so 'n koel, inspirerende gesin. Ons het gereeld saam aan die etenstafel gesit. Sondae was my gunsteling omdat dit gewoonlik braaityd was. Gedurende eksamentyd is ek tot in die afgrond toe bederf. Jeanneret het seker gemaak ek eet 'n groot ontbyt met eiers vir 'breinkos'. Sy het altyd gevra wat ek vir middagete wou hê en wanneer ek tuiskom, wag daar 'n bord kos in die mikrogolfoond."
Doen goed vir ander
S'thabile sê as sy terugkyk op verlede jaar, laat dit haar dink aan die bekende aanhaling wat Madonsela dikwels gebruik: "Dit neem 'n dorpie om 'n kind groot te maak."
"Ek het dit gesien en ondervind. Al hierdie mense het bymekaargekom om my deur my finale jaar te help, en dit het my lewe vir altyd verander. Danksy hierdie gemeenskap is ek nou 'n gegradueerde. “
"Ek deel my storie nie net om my dankbaarheid uit te spreek nie, maar om mense aan te moedig om aan te hou gee. Selfs as jy nie geld het om te skenk nie, kan jy jou hulpbronne of jou tyd gee. Omdat ek sulke ongelooflike hulp ontvang het, beplan ek om vir ander goed te doen waar ek ook al kan. My lewensroeping is om ander te help. Ek glo ek kan met hierdie graad my gemeenskap en ons land deur innoverende sake-idees help ophef wat tot ons ekonomie en die welstand van ons mense bydra.
"My ervaring in 2024 wys ook dat Nelson Mandela se droom en visie vir ons land moontlik is wanneer ons bymekaar kom. Ek het nou 'n wonderlike gesin op Stellenbosch – iets wat ek nooit gedink het ek sou sê nie!"
Die Mombergs gaan dié naweek S'thabile help om in 'n nuwe woonstel in Kaapstad in te trek waar sy binnekort gaan begin werk.
"Om deel van S'thabile se reis te wees is werklik 'n se?n," sê Jeanneret. "Haar storie is 'n pragtige versinnebeelding van Ubuntu – van wat moontlik is as ons mekaar ondersteun. Om so 'n talentvolle jong vrou te help om haar potensiaal te verwesenlik, is 'n voorreg. Ons wil hê ons jongmense moet groot droom sodat hulle bo omstandighede kan uitstyg en weet hulle is nooit alleen nie."
FOTO: Stefan Els