?Met hulle 600 km-fietsry-uitdaging pas agter die rug, het dr Marietjie Lutz, dosent van die Universiteit Stellenbosch (US), en haar span fietsryers hulle visier op die uiteindelike eindstreep gestel – om minstens R100 000 vir wetenskapstudente in nood in te samel.
Hulle het reeds R92 000 ingesamel met hulle Wheels of Opportunity (WOOP25)-veldtog en het daarmee verlede jaar se R75 000 wat ingesamel is, oortref. "Hierdie veldtog het nie net bewustheid oor die finansi?le uitdagings geskep wat baie van ons studente in die gesig staar nie, maar het ook 'n kragtige belegging in die toekoms van hardwerkende en verdienstelike individue geword. Ons beplan om die GivenGain-platform tot einde April oop te hou."
Hulle lywe herstel dalk nog van die uitmergelende fietstoer, maar Lutz sê die span se toewyding aan die saak het nooit gewankel nie. Haar vier kinders het die volle afstand oor ses dae saam met haar voltooi – selfs die jongste, Dani?l (14), wat in graad 8 by Paul Roos Gimnasium is. "Hy was (aan die begin) onseker oor watter afstand hy sou kon aflê, en hy het uiteindelik die hele ding gedoen." Sy het gesê almal wat by die fietstoer betrokke was, het die heeltyd op die einddoel gefokus gebly. "Niemand het ooit gevra 'hoekom doen ons dit?' nie, ons het almal net aanhou vorentoe beweeg."
Lutz sê die ervaring het oor soveel meer gegaan as om net grense te verskuif en 'n uitdaging te voltooi. "Vir elkeen van die ryers was dit 'n reis van persoonlike groei. Dit het daaroor gegaan om vir iemand anders terug te ploeg." Die doelwit om geld vir talentvolle maar minderbevoorregte studente in te samel, het veral by haar twee oudste seuns, Ben en Jan, aanklank gevind wat albei aan die US studeer.
Net soos in 2024, was die fietstog nie sonder sy uitdagings nie. Lang afstande het hulle tol ge?is en op Dag 2 het die groep 'n veeleisende 125 km getrap en meer as sewe uur in die saal spandeer. "Ons was almal gedaan," onthou Lutz. Die nuuskierige koedoe van verlede jaar het weer eens sy verskyning gemaak, vertel Lutz, en hierdie keer het 'n energieke eland ook vir 'n entjie by die groep aangesluit. Gelukkig het haar geskeurde heuplabrum nie probleme veroorsaak nie. "Ek het verbasend genoeg geen probleme ondervind nie. Ek dink dit was omdat ek fisies beter voorbereid was as voorheen." Sy voeg by dat beter beplanning dit moontlik gemaak het om die groep uit te brei om haar hele gesin en vier bykomende fietsryers in te sluit. Aangevuur deur gesoute aartappels en verdunde Coca-Cola, het hulle ongeag die hitte en heuwels deurgedruk om die afstand te voltooi.
Die ondersteuning – finansieel en in die vorm van onderskraging – was oorweldigend, sê sy. Lutz wou aanvanklik weer die geldinsamelingsdoelwit tot R75 000 beperk. Maar, aangemoedig deur haar man om ho?r te mik, het sy 'n teiken van R100 000 gestel. Die skenkings wat begin het nog voordat die eerste kilometer afgelê is, het haar laat besef dat "as ons aan die begin besluit oor die uitkoms, beperk ons onsself en hoe sal die onmoontlike dan waar word?". Uiteindelik, voeg Lutz by, het sy besluit: "As ons goed wil doen, moet ons onsself nie beperk nie. En dit geld vir enigiets in die lewe – byvoorbeeld 'n student wat vir 'n graad studeer. Ons moenie die uitkoms van so 'n droom beperk nie."
Lutz het die drome van baie studente die ses dae saam met haar gedra, en 'n miniatuurweergawe van die US se gelukbringer, Pokkel, is aan haar stuurstang vasgemaak as 'n herinnering aan die veldtog se doelwit. "Toe dinge geestelik en fisies moeilik geraak het, het ek afgekyk na Pokkel en dit het my herinner aan die rede waarom ons dit doen."
Onderskrifte:
Die Lutz-gesin, waarvan al vier kinders die volle 600 km-uitdaging voltooi het.
Uitputting ná die tweede dag se skof van 125 km.
Pragtige natuurskoon op die WOOP25-fietstoer.
Die US se Pokkel het vir aansporing gesorg toe dinge moeilik geraak het. ?