?Drie beste vriende stap by 'n kroeg in. Almal van hulle is prokureurs. Een is Xhosa, een is Afrikaans en een is Indi?r… As dit vir jou na die begin van 'n grap of 'n raaisel klink, was jy dalk nie onlangs op Stellenbosch nie.
Dié drie uitsonderlike regs-studente het verlede week rede gehad om die vonkelwyn te laat vloei, want almal het met vlie?nde vaandels aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer. Akhona Sandaza en Dawid Oosthuizen het LLM-grade ontvang, terwyl Seyuran Arran sy LLB verwerf het.
Akhona, oorspronklik van Knysna, was die eerste om in 2018 'n Matie te word. Dawid en Seyuran – of Sey soos sy vriende hom noem – was ho?rskoolvriende in Johannesburg wat in 2019 by die US aangekom het. As 'n tweedejaarstudent is Akhona in die ori?nteringsweek aan Dawid toegewys as 'n mentor van die Vesta Pendelstudentegemeenskap (PSG) se regsgeleerdheidtak.
Sey het kort voor lank by hulle sosiale aktiwiteite aangesluit en 'n diep en blywende vriendskap het begin vorm aanneem. Oor die verloop van ses jaar het die drie vriende akademiese uitdagings, prestasies en teleurstellings gedeel. Hulle het saam geswot, oor aktuele sake en regsuitsprake gedebateer en soms oor 'n koppie koffie al te lekker geskinder. Tussendeur het die jong manne tot gerespekteerde studenteleiers ontwikkel.
Sey was 'n huiskomiteelid in Metanoia-koshuis en het op vele gebiede tot die koshuis bygedra, soos as voorsitter van die Vensters-komitee en as kaptein van die koshuis se sokkerspan. Akhona en Dawid was albei mentors en het vir twee termyne elk op Vesta se huiskomitee gedien. Gedurende hulle termyne het Akhona as onder-primarius en Dawid as hoof van verwelkoming en uiteindelik as primarius van Vesta gedien.
Op hulle onlangse gradeplegtigheidsdag het hulle besin oor hoe hulle die US se unieke Drie Musketiers geword het.
Grondslag van respek en vertroue
Die grondslag van hulle vriendskap is in vertroue, gedeelde waardes en respek vir mekaar se verskille gesetel, verduidelik Akhona. “Ons band is baie sterk. Ons het mekaar altyd deur persoonlike groei en uitdagings ondersteun."
Dawid, wat in 'n hegte Afrikaanse gesin grootgeword het, het hom dikwels verwonder aan Akhona en Sey se uitgebreide families en hulle feestelike samekomste. Sey het hulle aan Indiese kookkuns en Hindoe-tradisies bekendgestel, terwyl Akhona Xhosa-gebruike en gesegdes gedeel het. “Om mekaar se families te ontmoet, het die sirkel voltooi," sê Sey. “Ons het besef hoe eenders ons kernwaardes was, ondanks al die verskille."
“Teen hierdie tyd is ons almal soos familie vir mekaar," bevestig Dawid, wat deesdae as 'n belasting-kenner by 'n firma in Kaapstad werk. “My vriendskap met Akhona en Sey het my studentelewe op Stellenbosch ekstra spesiaal gemaak." Die Universiteit het hulle verbintenis bemiddel, maar dit nie geforseer nie, beklemtoon Dawid. “Dit het ons 'n platform gebied om mekaar te leer ken. Die res het natuurlik gekom."
Hoewel hy aanvanklik as mentor opgetree het, sê Akhona hy het ook waardevolle lesse by sy jonger vriende geleer. “By Sey het ek die belangrikheid van geduld geleer; ook die waarde van familie en om aan tradisies vas te hou, maar ook oop te wees vir verandering. By Dawid het ek die krag van veerkragtigheid geleer en hoe om uitdagings met 'n positiewe ingesteldheid te navigeer. Sey en Dawid het my albei geleer hoe om lesse uit my verlede met balans en egtheid in my toekoms te integreer."
Dawid sê hy is dol daaroor om met Akhona te debatteer. "Dit klink dalk nerdy, maar vir 'n toegewyde regstudent is dit spesiaal om iemand te vind wat ook passievol is oor wat in die regswêreld aangaan en altyd bereid is om oor regsuitsprake te debatteer. Ons stem nie altyd saam nie, maar ons verfyn mekaar se standpunte. Die geheim is om oopkop te bly en bereid te wees om te luister."
Hoewel daar soms misverstande was, het dinge nooit in 'n lelike twis ontaard nie. “Ons hanteer nie mekaar met handskoentjies nie," sê Sey. “Omdat ons oop en respekvol is, het dit nooit giftig geword nie." Akhona beaam dit: “Ons sal sit en dinge uitpraat, raakpunte vind en tot 'n vergelyk kom."
Die sielsgenote sê hulle beste herinneringe aan hulle studentelewe aan die US is die lekker kuier en klets oor koffie of aandete en die goue tye op kampus. “Of dit nou was om oor die lewe te besin, of oor die nuus of politiek te gesels, of net pret te hê – ons is immers tog jonk! – ons het altyd op 'n dieper vlak bande gesmee," sê Akhona. “Ons was mal daaroor om op avonture op en om die dorp te gaan."
Hulle deel 'n liefde daarvoor om mense dop te hou, voeg Sey met 'n glimlag by. “En ons het elke moontlike geleentheid aangegryp om wynplase te besoek."
Veilige ruimte vir kwesbaarheid
Dawid en Sey is kranige sokkerspelers, maar sport is nie Akhona se sterk punt nie. "Ek het hulle egter altyd saamgesleep op staptoere, soos die Action4Inclusion Sosiale Geregtigheid-staptog," glimlag hy. “Ons vriendskap is 'n ruimte waar ek gemaklik voel om kwesbaar te wees. Die feit dat ek op sekere maniere anders is, was nooit 'n probleem nie. Ons kon almal net onsself wees. Ons het na mekaar uitgereik sonder vrees of oordeel. Dit het my die waarde van hegte vriendskappe tussen mans gewys wat sosiale verwagtings van manlikheid te bowe gaan," voeg Akhona op 'n ernstiger noot by.
In 'n wêreld waar jong mans soms worstel met isolasie of verwronge idees van manlikheid, het hulle vriendskap 'n toevlugsoord geword.
Sey, wat deesdae in Johannesburg in die regsafdeling van 'n ingenieurs- en konstruksiekonsultasiemaatskappy werk, beskryf hulle vriendskap as 'n “se?ning". “Die feit dat almal van ons so verskillend is, maar soortgelyke kernwaardes het, het ons gehelp om deur dinge te praat en mekaar aanspreeklik te hou wanneer daar baie op die spel was. Ons het geweet wanneer om pret te hê en wanneer om ernstig te wees. Ons het almal vir mekaar en onsselfverantwoordelik gevoel."
Sey is veral nostalgies oor 2021, die jaar toe hulle almal as studenteleiers aan die US hulle maroen baadjies met trots gedra het.
Wat begin het as 'n mentorskap-mentee-verhouding, is nou 'n broederskap wat volgens die driemanskap 'n lewenslange band sal bly. “Ons vriendskap ontwikkel voortdurend," sê Akhona wat tans 'n regsdosent by IIE Rosebank College in Kaapstad is nadat hy by PSG Finansi?le Dienste gewerk het. “Ongeag waarheen die lewe ons neem, ons sal mekaar steeds ondersteun en ons suksesse saam vier. My droom vir ons is dat ons vervullende loopbaneen gelukkige gesinne sal hê en altyd vir mekaar daar sal wees."
Vir 'n instelling wat lank gesien is as 'n simbool van skeiding tussen rasse, spreek die drie manne se ervaring aan die US van betekenisvolle verandering. “Die US is soos 'n mikrokosmos van die samelewing," verduidelik Sey. Sy boodskap aan studente is om die meeste te maak van alles wat die Universiteit bied. “Die enigste manier om te groei is om deel te neem. Raak betrokke. Of dit nou akademies, kultureel, sosiaal of sport is – doen iets," moedig hy huidige studente aan.
Die hegte band wat die drie jong mans saam met hulle die toekoms in dra, is 'n bewys dat betekenisvolle manlike vriendskap grense kan oorsteek, lewens transformeer en almal stewig geanker kan hou.
FOTO: Stefan Els