'n Baie spesiale jong man is Maandag by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheid luidkeels deur twee "gesinne" toegejuig. Toe
Ubaid Abrahams sy honneursgraad in joernalistiek ontvang, het sy ma, Najma, en sy tannie Azba van trots gestraal om te sien hoe die eerste lid van hulle gesin gradueer. Vir hulle aanhangers staan die Abrahams-susters onder hulle byname – Tietie en Nanna – bekend, 'n geliefde kook-paar wat bekendheid verwerf het danksy die TikTok-video's wat Abrahams van hulle maak.
Die bekwame inhoudskepper is ook deur sy nuwe "gesin" – die US se Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarkingsafdeling – gevier, waar hy sedert die begin van die jaar geweldige waarde as junior multimediajoernalis toevoeg.
Wat Abrahams se prestasie as die kreatiewe dryfkrag agter twee van Suid-Afrika se mees geliefde sosialemedia-sensasies so merkwaardig maak, is dat hy aan sy ma en tante se kookprojek gewerk het terwyl hy ook aan die eise van 'n baie veeleisende honneursgraadkursus in joernalistiek moes voldoen.
Die skep van 'n sensasie op sosiale media
Terwyl Abrahams 'n finalejaar-BA-student was, het 'n onverwagte projek tuis ontvou. In 2023 het hy sy ma en tannie oortuig om hulle kookkuns te begin verfilm. "Ek sê al jare lank vir hulle hulle moet iets op sosiale media doen," verduidelik hy. "Hulle het wonderlike persoonlikhede en hulle kán kook. Maar hulle het dit nooit ernstig opgeneem nie."
Terwyl hulle een Vrydag besig was om roetie en kerrie vir 'n klein tuisgebaseerde voedselonderneming voor te berei, het Abrahams sy foon opgetel en begin opneem hoe Tietie 'n gereg voorberei. "Ek het vir my ma gesê: 'Kom ons probeer net iets.' Daardie video het binne 'n paar uur honderdduisende kyke gekry. Van daar af het dit met mag en mening gegroei."
Hul TikTok-kanaal,
@tietie_and_nanna786, het 'n soos 'n veldbrand versprei en het oornag 'n treffer geword met miljoene kyke en meer as 300 000 volgelinge. Die susters se sjarme, egtheid en watertand Kaaps-Maleise geregte het by mense regoor Suid-Afrika en verder aanklank gevind. Hulle het sosialemedialieflinge geword, is 'n kookprogram op VIA TV aangebied, het 'n gewilde kookboek,
Tietie en Nanna se Huiskos, laat verskyn en is vir Netwerk24 se Be?nvloederstoekennings genomineer.
Vir Abrahams was die lonendste aspek die gemeenskap wat rondom hulle gevorm het. "Mense kyk nie net na hulle video's nie – hulle voel verbonde tot hulle. Hulle sien hulle as hulle eie ma's en tantes. Die kommentaar en boodskappe wat ons ontvang, is oorweldigend."
Van onsekerheid na joernalistiek
Abrahams was lank onseker oor sy toekoms. Die situasie by die huis was uitdagend aangesien die gesin dikwels sonder enige finansi?le sekerheid rondgetrek het. Terwyl sy gesin hom aangemoedig het om in die onderwys te gaan studeer vir werksekerheid, het hy tot storievertelling aangetrokke gevoel. "Ek was nog altyd 'n skepper," sê hy. "Gee vir my 'n kamera, 'n foon en 'n mikrofoon, en die ware ek kom na vore."
Nadat hy sy BA-graad voltooi het, het hy sy visier op die US se gesogte joernalistieke honneursprogram gerig, hoewel hy nie optimisties was dat hy sou inkom nadat hy op 'n waglys geplaas is nie. Hy is aanvanklik 'n plek in die Departement Afrikaans en Nederlands se honneurskursus in vertaling en redigering aangebied. Toe, 'n week voordat klasse sou begin, het hy 'n onverwagte oproep ontvang: 'n plek het op die laaste oomblik in die joernalistiekkursus beskikbaar geword. Ondanks die feit dat hy nie finansiering gehad het nie, het hy 'n geloofsprong geneem. "Ek het dit as 'n teken gesien dat dit is waar ek moet wees."
Die program was intens. "Hulle sê van die begin af vir jou dat hierdie kursus jou lewe gaan oorneem. En hulle is reg," lag hy. Laat nagte, sperdatums op die laaste oomblik en meedo?nlose druk het sy jaar gedefinieer. Maar deur dit alles het een gedagte hom aan die gang gehou: "Daar is so baie mense wat nie hierdie geleentheid kry nie. Ek moes net deurdruk."
Abrahams het hom aan die begin van 2025 by die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking as 'n junior multimedia-inhoudvervaardiger aangesluit, en hy het vinnig sy merk gemaak met sy skerp oog vir video-storievertelling. "Dit was nie wat ek my oorspronklik voorgestel het toe ek aan joernalistiek gedink het nie, maar dit is 'n ongelooflike ervaring. Ek het al soveel oor inhoudskepping en handelsmerkbestuur geleer. Die joernalis in my is nog steeds daar – hy pas net aan."
Gryp geleenthede aan
Ondanks Tietie en Nanna se sukses, is dit nie altyd so eenvoudig om 'n inkomste as sosialemedia-handelsmerk te verdien nie, sê Abrahams oor sy deeltydse beroep. "Mense dink dat as jy op TV is of duisende volgelinge het, jy miljoene moet maak. Dis nie waar nie. Maar vir ons het dit nooit oor die geld gegaan nie. My ma sê altyd sy doen dit nie vir 'naam en roem' nie – sy wil net haar liefde vir kook deel."
Abrahams bly beskermend vir die handelsmerk. "Ek dink nie ek sal ooit 'n eksterne entiteit vertrou om my ma en tannie te bestuur nie. Ek hou dit eerder outentiek as om openbarebetrekkingemense te hê wat alles vir geld probeer beheer. My ma en tannie het dit diep in hulle 50's begin. Daar sal 'n afsnypunt vir hulle tyd op sosiale media wees. En dit is oukei. Wat saak maak, is dat hulle 'n nalatenskap agterlaat – die video's, die kookboek, die TV-program. Dit sal altyd daar wees."
Vir eers lyk die toekoms blink, en hulle dagboeke is oorlopens toe volg met afsprake. Tietie en Nanna is na kunste- en boekfeeste regoor die land genooi waar gretige aanhangers ongetwyfeld toustaan om hulle te ontmoet.
Najma sê sy is baie trots op haar seun se prestasies, al het Abrahams nog nie veel tekens van talent as kok getoon nie, skerts sy. Op 'n ernstiger noot voeg sy by: "Vir my was dit baie belangrik dat Ubaid 'n goeie kwalifikasie moes verwerf. Ons het 'n groot gesin, maar hy was die eerste een om aan 'n universiteit te studeer. En die Universiteit Stellenbosch was nog altyd vir ons spesiaal. Dit is 'n wonderlike oomblik."
Van links na regs: Azba, Ubaid en Najma Abrahams.
FOTO: Stefan Els