肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Oggend van ware ubuntu ter viering van US se unieke gevangeniskursus
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 07/03/2025

?In 'n roerende voorbeeld van die krag van onderwys is 'n gevangenis einde verlede jaar in 'n baken van vryheid en hoop omskep. Die merkwaardige "gradeplegtigheid" by die Brandvlei Maksimum Korrektiewe Sentrum naby Worcester was die hoogtepunt van vanjaar se Ubuntu-leerkortkursus wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) akademici aangebied is.

Die Ubuntu-leergemeenskap (ULC), 'n baanbrekersvennootskap wat in 2018 tussen die US en die Departement van Korrektiewe Dienste gevestig is, het die lewens van gevangenes en universiteitstudente deur gedeelde leer hervorm. Die program het ten doel om opvoedkundige toegang vir diegene in die gevangenis te bevorder, terwyl studente bemagtig word om sinvol by kwessies van maatskaplike geregtigheid en persoonlike transformasie betrokke te raak.

Deelnemers het by die jaareindfunksie??? sertifikate vir die voltooiing van 'n US-geakkrediteerde interdissiplinêre kortkursus ontvang. Die kursus is deur US-akademici van verskeie fakulteite en departemente gefasiliteer, insluitende Geskiedenis, Regsgeleerdheid, Engels en Ekonomie. Die 2024-kortkursustema was "Ons is omdat ons kan: Veranderende tye, veranderende gedagtes".

Die opwinding was tasbaar in die ontspanningsaal van die Brandvlei-gevangenis wat kleurryk versier was, toe 20 US-studente en akademici saam met die 20 deelnemers aan die ULC-program en hulle gesinne die geleentheidspreker, dr Pieter Groenewald, Minister van Korrektiewe Dienste, verwelkom het. Onder die gaste was verskeie senior amptenare van die Departement van Korrektiewe Dienste, insluitend die nasionale kommissaris, Makgothi Thobakgale, en streekskommissaris Kenneth Mthombeni.

Een woord wat 'n mens nie met 'n gevangenis assosieer nie, is die woord 'vreugde', het Groenewald opgemerk terwyl hy die gehoor gegroet het. "Maar vanoggend het julle dit verkeerd bewys; dit is 'n vreugdevolle geleentheid," het hy gesê.

Bou br?e deur onderwys

Dr Mary Nel, senior dosent in die Departement Publiekreg aan die US en die direkteur van die ULC, het 'n oorsig van die program gegee en die kursus se transformerende uitwerking beklemtoon. Die unieke inisiatief het nie net aan individue in die gevangenis nie, maar ook aan US-studente die geleentheid gebied om 'n nuwe toekoms te bou deur die gees van ubuntu te omarm – "ek is omdat ons is," het Nel gesê.

"Die Ubuntu-leerkortkursus gee aan US- én Brandvlei-studente die geleentheid om 50 uur lank langs mekaar te leer, skeidsmure af te breek en lewenslange verbintenisse te skep," het Nel verduidelik. Dit was die vierde keer dat die kursus persoonlik aangebied is, het sy gesê. "Dit is wonderlik om alumni van die vorige jare vandag hier saam met ons te sien."

Nel het insigte gedeel oor Amerikaanse navorsing wat getoon het dat enige vorm van onderwys in die gevangenis mense minder geneig maak om in die toekoms misdaad te pleeg en meer geneig is om in diens geneem te word en beter salarisse te verdien. "Diegene wat agter tralies vir universiteitsgrade gestudeer het, was 'n yslike 28% minder geneig om na 'n lewe van misdaad terug te keer en tersiêre onderwys het die grootste voordeel per student opgelewer ten opsigte van lone en opvoedkundige en werksgeleenthede," het Nel gesê.

Die ULC-program het ook ten doel om die stigma aan te spreek wat met gevangeneskap  gepaard gaan – iets wat mense dikwels selfs ná hulle vrylating nog ondervind. ULC bied sosiale ondersteuning en herintegrasie vir deelnemers nadat hulle vrygelaat is.

Nel het die roerende terugvoer van een die jaar se deelnemers in Brandvlei gelees: "Die kursus het my verstand, siel en gees bevry, want ek het daardie gevoel van menswees gekry," het die gevangene geskryf. Die tronk laat jou soms voel asof jy 'n dooie mens is, asof jy nie meer bestaan nie. Maar interaksie met mense van die buitewêreld en om idees met hulle te deel, het my laat besef ek is steeds 'n mens."

Nel het die blywende impak van sulke ervarings op gegradueerdes se lewens beklemtoon en opgemerk hoe ULC-alumni dikwels met 'n verbondenheid tot positiewe sosiale betrokkenheid na hulle gemeenskappe terugkeer.

So 'n rolmodel is Awande Mshotana wat die viering bygewoon het. Mshotana, 'n Brandvlei-alumni van 2019, is nou die direkteur van pararegsopleiding by die People's Legal Centre, 'n Kaapstad-gebaseerde gemeenskapsorganisasie wat Suid-Afrikaners met regshulpbronne bemagtig. Nadat hy Brandvlei verlaat het, het hy in die regte gaan studeer en is hy as gasdosent vir die Strafreg in Aksie-regsmodule aan die US genooi.

'Maatskaplike verantwoordelikheid in aksie'

Voordat die minister aan die woord gestel is, het studente en familielede emosionele getuienisse oor die impak van die ULC-program gedeel. 'n Pa van een van die Brandvlei-deelnemers het beskryf hoe deelname aan die ULC-program sy seun se lewe radikaal verander het. "Ek wil vir die minister sê, hier word goeie werk gedoen. As ouers neem ons dit nie ligtelik op nie. Almal wil 'n gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch wees."

Groenewald het die gesamentlike poging tussen die US en Korrektiewe Dienste as 'n model vir transformasie geloof. "Dit is 'n praktiese demonstrasie van maatskaplike verantwoordelikheid in aksie, en ons wil julle bedank vir wat jy en jou span doen," het hy aan Nel gesê.

Korrektiewe Dienste se uiteindelike doel is om te verseker dat mense in fasiliteite weer op 'n suksesvolle manier in die samelewing ge?ntegreer word, het Groenewald benadruk.

Hy het ook 'n opregte boodskap vir studente in die gevangenis gehad. "Elkeen van ons het iets goeds in ons. Dit maak nie saak watter foute jy gemaak het nie. Die geheim is hoe jy jou foute hanteer," het hy gesê. "Jy is 'n bewys dat jy jou foute kan oorkom, en jy kan bemagtig word."

Groenewald het gesê hy is dit eens met Nel dat "niemand vir ewig net gedefinieer moet word deur die ergste ding wat hulle nog ooit gedoen het nie".

In 'n aangrypende oomblik het die minister 'n jong deelnemer genooi om op te staan en na die woorde agter op haar T-hemp gewys: "Free our minds" (die ULC-slagspreuk). Hy het besin oor die dieper betekenis van die frase en gegradueerdes aangemoedig om hulleself van geestelike beperkings te bevry. "Vryheid moet beoefen word," het hy beklemtoon. Vryheid is nie net die afwesigheid van fisiese tralies nie; dit gaan daaroor om jou gedagtes te bevry van die beperkings wat jy op jouself plaas, het hy afgesluit.

Een van die oggend se hoogtepunte was toe Groenewald 'n pragtige portret ontvang het wat een van die Brandvlei-studente van hom geskilder het. 'n Kunsprogram, aangebied deur Vanessa Pilkington, is in 2024 by die ULC-program ingesluit om gevangenes die geleentheid te bied om hulle kreatiwiteit te verken en hulle persoonlike groei deur visuele kuns uit te druk. Groenewald het gesê hy is lief vir kuns en die skildery sal 'n baie spesiale plek in sy kantoor hê.

Met die prestasies van die 2024-kohort gaan die ULC voort om sy netwerk van alumni uit te brei wat vasbeslote is om die beginsels van ubuntu na hulle gemeenskappe toe te neem. Baie van die groep gegradueerdes beplan om hulle opleiding voort te sit, terwyl ander op gemeenskapsdiens sal fokus, wat die ULC se boodskap van sosiale geregtigheid en versoening beliggaam.

Inligtingsessie: "Bevry ons gedagtes" – Ubuntu-leerkortkursus

'n Inligtingsessie word 12 Maart 2025 vir studente gehou wat aan vanjaar se kursus wil deelneem.

  • Plek: Ou Hoofgebou (Fakulteit Regsgeleerdheid), Stellenbosch-kampus: Kamer 10230
  • Tyd: 17:30

Vir meer inligting, kontak dr Mary Nel by mnel@sun.ac.za.