In 'n meningstuk in die 肆客足球 World News vestig Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, die aandag op die voortslepende spanning tussen universiteitsleierskap en studente-aktivisme in Suid-Afrika.
- Lees die artikel hier onder of klik hier vir die gepubliseerde stuk.
In die afgelope veertig jaar van my lewe het ek gesien hoe politieke kwessies op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse ontvou.
Dr Stuart Saunders het die Universiteit van Kaapstad (UK) – waar ek my voorgraadse studie onderneem het – deur die onstuimige apartheidstydperk in ons land se geskiedenis gelei. As studente was ons vasbeslote om ons kiesafdeling te mobiliseer en met die bre?r anti-apartheidsbeweging saam te werk aan die omverwerping van die apartheidsregering. Dr Saunders het hom dikwels tussen ons en die onlustepolisie bevind. Ek kan ons protesaksie wat die M3 by verskeie geleenthede tot stilstand gebring het, nog goed onthou.
Dit was duidelik dat dr Saunders druk ervaar het van konserwatiewe elemente in die UK Raad, die Senaat, en die skenkergemeenskap. Ondanks hierdie druk het ons studenteleierskap altyd gevoel hulle kan op hom reken. Hy was 'n slim onderhandelaar wat die universiteit bymekaar kon hou – ondanks al die geskilpunte.
As visekanselier in die onstuimige tye was hy noodwendig by tye in die spervuur van die studenteprotesaksie. Ek onthou die liedjies wat hom tot aksie aangespoor het oor studentegelde, uitsluitings, verblyf, en ander kwessies – uitdagings waarmee universiteite tot vandag toe te kampe het. Nogtans het hy ons reg om te protesteer hardnekkig verdedig. Hy wou die universiteit behou as 'n ruimte waar die maghebbers die waarheid moet hoor, en akademiese opdrag nooit onverskillig beje?n is nie. Sy nalatenskap leef voort in dié wat hy help vorm het en in die DNS van 'n universiteit onder sy onwrikbare rentmeesterskap.
Vir my was prof Jakes Gerwel een van daardie leiers wat ons in die donkerste dae van apartheid ge?nspireer het – of ons studente van die Universiteit van Wes-Kaapland of van elders was – om vir 'n beter opvoeding te veg. Hy wou net die beste vir sy studente hê. Ons moet nooit nalaat om erkenning te gee aan mense soos hy nie, mense wie se leierskap gehelp het om ons land se toekoms te vorm.
En weer was ek deel van 'n universiteit toe die student-geleide #FeesMustFall-beweging in Oktober 2015 losgebars het. Tydens daardie protesaksie het mediaberigte beweer professor Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, is deur studente gyselaar gehou – iets wat hy destyds betwis het en waaroor hy later in sy boek Rebels and Rage: Reflecting on #FeesMustFall (2019) sou besin. Volgens Habib was #FeesMustFall 'n wettige en progressiewe stryd, alhoewel hy 'n probleem gehad met bepaalde taktiek en strategie? wat die beweging gebruik het.
Habib bied 'n ongewone perspektief op die gebeure wat in daardie tyd in die tersiêre onderwyssektor afgespeel het. Hy beskryf hoe politieke partye gou uit die beweging se momentum munt geslaan het en pogings bemoeilik het om 'n oplossing te bereik. Teen 2016 het eksterne politieke belange onderhandeling byna onmoontlik gemaak, met verskeie faksies wat enige vorm van kompromie sou verwerp. Hy wys verder op die gevaarlike “aansporingstruktuur" wat na vore gekom het – studente wat chaos geskep het om 'n politieke profiel te bou, stemme te verdien, en gunstige posisies in die regering te bekom.
Byna 'n dekade ná #FeesMustFall bly die onderliggende kwessies dieselfde. In 2024 lei langdurige waterontwrigtings in Makhanda daartoe dat Rhodes Universiteit se visekanselier dr Sizwe Mabizela en sy studente die strate invaar in protesaksie teen die Makana Munisipaliteit. Hulle frustrasie is duidelik: hulle menswaardigheid en grondwetlike regte word aangetas. “Hulle gee nie om vir ons universiteit nie, hulle gee nie om vir ons skole nie, hulle gee nie om vir ons personeel en studente nie, hulle gee nie om vir hierdie stad se inwoners nie," het Mabizela verklaar.
Verlede week het protesaksie by universiteite oor die hele land uitgebreek weens finansi?le uitsluitings – waaronder die UK, Universiteit Stellenbosch, Nelson Mandela Universiteit, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, en die Durban Universiteit van Tegnologie, terwyl 'n hongerstaking by Wits gehou is. Ná twee weke die akademiese jaar in was verskeie studente weens vertragings deur die Nasionale Finansi?le Hulpskema vir Studente (NSFAS) nog nie ingeskryf nie, met sommige wat buite die NSFAS-perk van R360 000 per jaar per huishouding val, maar steeds te arm is om studiegeld te bekostig, en ander wat alle hulpbronne uitgeput het teen hul finale studiejaar – so naby en tog so ver.
Hierdie frustrasies strek veel verder as individuele universiteite. Deur die voortslepende studenteskuldkrisis en die NSFAS se mislukkings het toegang tot die ho?r onderwys 'n nasionale kwessie geword, wat sistemiese uitdagings verskans. Universiteite kan nie bloot studenteskuld uitwis nie, of finansi?le uitsluitings wat deur swak regeringsbeleid geskep is, alleen oplos nie. Ho?ronderwysleiers raak toenemend vasgevang tussen studente wat onmiddellike hulp eis en 'n politieke stelsel wat weier om dieper strukturele probleme aan te pak.
Professor Mosa Moshabela, visekanselier van die UK, het laas week op studenteprotesaksie gereageer deur 'n nuwe veiligheidsprotokol aan te kondig. Terwyl hy die universiteit se verbintenis tot vrye uitdrukking herbevestig het, het hy dit duidelik gemaak dat ontwrigtende optrede nie langer geduld sal word nie – 'n aanduiding van hoe universiteite hulle benadering verander. Intussen het duisende studente Kaapstad se strate ingevaar in 'n stap wat bedoel was om met die minister van finansies se begrotingsrede saam te val. Studente het die uitstel van die toespraak gevier en aangevoer die regering “moet teruggaan en 'n begroting ontwerp wat geskik is vir Suid-Afrika en sy studente."
Teen die tyd van hierdie skrywe was die enigste gevolg dat minister dr Nobuhle Nkabane op Vrydag, 21 Februarie 2025, aangekondig het die Departement van Ho?r Onderwys en Opleiding – in samewerking met NSFAS, Universiteite Suid-Afrika en studenteliggame in die land – besluit het om die finansi?le hulpliggaam vir studente se toelaes vir universiteitstudente met 4% te verhoog, die eerste aanpassing in drie jaar. NSFAS het voorlopig 800 000 studente vir die 2025 akademiese jaar befonds. Hierdie befondsing word eers gefinaliseer wanneer registrasiedata bevestig is, waarna die betalingsprosesse kan begin.
So duur die siklus voort. Universiteitsleiers bevind hulle dekades lank die bemiddelaars tussen studente en die politieke realiteite van die dag. Soms staan hulle saam met die studente wat hulle frustrasies en die mislukkings van die regering betref, ander kere word die leiers self teikens van die protesaksie, wat aanspreeklik gehou word vir sistemiese probleme buite hul beheer.
Die spanning tussen studente en universiteitsleierskap is niks nuuts nie en ook nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is egter duidelik dat solank regeringsinstellings nalaat om daadwerklik op te tree wat studentefinansiering en ho?ronderwysbeleid betref, universiteite sal voortgaan om as slagveld vir die groter politieke stryd te dien. Die vraag is nie of die protes gaan ophou nie – eerder hoe universiteite die protes gaan hanteer, en of die maghebbers ooit gaan luister na die stemme van diegene wat in die strate opruk.