肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Geregtigheidslesing bied hoop en inspirasie vir onstuimige tye
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 21/02/2025

In 'n inspirerende sosiale geregtigheidslesing het die befaamde sosiale geregtigheid-advokaat Lord Dr Michael Hastings die gehoor van die Universiteit Stellenbosch (US) aangemoedig om opoffering en solidariteit te omarm in die strewe na 'n regverdiger samelewing.

Hastings, 'n Britse edelman en voorsitter van die Skool vir Oosterse en Afrikastudie aan die Universiteit van Londen, het Suid-Afrikaners uitgedaag om ongemaklike waarhede te konfronteer en betekenisvolle betrokkenheid oor grense heen na te streef.

Die sesde jaarlikse sosiale geregtigheidslesing, aangebied deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) en die US-rektor, prof Wim de Villiers, ter herdenking van Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid, het vertragings ondervind weens studentebetogings, maar Hastings se kragtige boodskap het uiteindelik aanklank by die gehoor en aanlyn-kykers gevind.

Terwyl die geleentheid se gasheer, prof Thuli Madonsela, Direkteur: CSJ, aan die begin van die verrigtinge met studente buite die Adam Small-teater gesels het, het prof Nicola Smit, Dekaan:  Fakulteit Regsgeleerdheid, die probleme wat studente ervaar en die bre?r uitdagings in Suid-Afrikaanse ho?r onderwys benadruk. Sy het gesê dit is 'n eer om die geleentheidspreker te verwelkom wat 'n toegewyde kampvegter is vir die moeilike kwessies waarmee die land tans worstel.

'n Wêreld in krisis

Hastings, wat bekend is vir sy roemryke loopbaan wat oor staatsdiens én korporatiewe leierskap strek, het in sy lesing met die tema "Opoffering en integriteit – Die ondeelbare onvermydelikheid vir sosiale geregtigheid" nie weggeskram van die erns van huidige uitdagings nie.

Hy het na die Wêreld Ekonomiese Forum se 2025 Globale Risiko-verslag verwys, wat disinformasie, uiterste weerstoestande en gemeenskaps-polarisasie as die grootste risiko's identifiseer wat die wêreld in die gesig staar. Hy het aan die hand van die sogenaamde Doomsday Clock, wat nou op 'n skamele 89 sekondes voor middernag staan, die dringende toedrag van sake beklemtoon. Hastings het 'n prentjie geskilder van 'n wêreld wat op die randjie van 'n afgrond wankel. 

"Daar is nie meer konsensus oor wat die kritieke prioriteite van nasieskap of leierskap eintlik is nie," het Hastings gesê. “Omdat ons nie meer kan saamstem nie, kan ons nie meer duidelike paaie na vooruitgang in die vooruitsig stel nie. Ons samelewing is te disfunksioneel om ons toe te laat om sekerheid te hê."

Hastings het 'n beduidende deel van sy toespraak aan die krag van vergifnis en persoonlike verantwoordelikheid as katalisators vir sosiale genesing gewy. Hy het die US se Templeton-pryswenner prof Pumla Gobodo-Madikizela geloof vir haar werk oor versoening en haar voorspraak vir 'n “herstellende soeke".

Hy het genoem dat haar ontmoeting met die apartheidsmoordenaar Eugene de Kock tekenend van die morele verbeelding is wat nodig is om verby ge?soleerde dade van vergifnis na volgehoue versoening te beweeg. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om oortreders te verstaan om solidariteit oor historiese grense heen moontlik te maak.

Lesse uit die geskiedenis

Stories van individue wat vir buitengewoon deernisvolle gebare bekend is, het Hastings se pleidooi vir integriteit in die openbare sfeer onderstreep. Hy het vertel hoe die eertydse Amerikaanse president Jimmy Carter en sy vrou Rosalynn konvensie uitgedaag het deur Mary Prince, 'n jong vrou wat onregverdig skuldig bevind is aan moord, as hulle dogter se oppasser in die Withuis aan te stel. "Dít is sosiale geregtigheid," het Hastings verklaar. "Dit is die individu wat 'n besluit neem in weerwil van die staat om die merkwaardige, selfs waarneembaar gevaarlike, dwingend moeilike, irriterend frustrerende ding te doen wat die stelsel sê jy moenie doen nie."

Hy het ook president Nelson Mandela se daad van versoening met sy voormalige tronkbewaarder, wat hom eens verneder en gemartel het, beklemtoon. Mandela kon wraak geneem het, het Lord Hastings gesê. Maar hy het gekies om sy vervolger 'n beter uitweg te wys. Dít is die krag van vergifnis en vernuwing.

Hastings het teen die groeiende epidemie van eensaamheid en selfopgelegde isolasie in die moderne samelewing gewaarsku en na statistiek verwys wat toon mense het meer kontak met elektroniese skerms as met mekaar. “Die ernstige negatiewe gevolge van isolasie veroorsaak dat mense na radikale oortuigings gedryf word," het hy gewaarsku. “As ons samelewings wil oorhaal na doeltreffende sosiale geregtigheid, is die enigste manier om deurlopende, gesnoerde, relasionele identiteit te hê. Ons eie geluk is in ons gemeenskappe gewortel, nie in die draadwerk van politieke beleid of van die dinge rondom ons nie, maar in ons vermo? om met mense om te gaan."

'n Boodskap van hoop en volharding

Hoewel hy kommer uitgespreek het oor die wêreldwye agteruitgang van die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling, het Hastings gesê hy glo steeds dit is die moeite werd om na te streef. "Dit maak my meer vasberade," het hy aangedring. “Ons moenie toegee aan die siniese, desperate sienings van diegene wat voortdurend vir ons sê, swyg, staan terug, onttrek nie."

Hastings se slotargument was dat 'n land nie gevorm word deur wat ons vergader en ophoop nie, maar deur ons gewilligheid om gerief prys te gee, om uit te reik na diegene wat ons seergemaak het en meer te gee as wat ons ontvang. “Om 'n lewe te lei wat saak maak, is om 'n lewe van liefde te lei. En daar is geen liefde sonder opoffering nie," het hy gesê.

'n Staande toejuiging het dit duidelik gemaak dat Hastings se woorde diep by die gehoor aanklank gevind het. "Jy het die beter kante van onsself versterk," het die anti-apartheidaktivis en voormalige regter van die grondwethof, Albie Sachs, aan Hasting gesê toe hy gevra is om op die lesing te reageer. Sachs, wat die sosiale geregtigheidlesing in 2023 gelewer het, het Hastings se boodskap geloof as 'n opregte en vreugdevolle verkenning van sosiale geregtigheid. Hy het opgemerk dat Hastings se boodskap die unieke Suid-Afrikaanse beginsel van Ubuntu weerspie?l – die geloof in menslike verbintenis en die krag van versoening.

Een van die hooggeplaaste gaste wat die lesing bygewoon het, Minister Maropene Ramokgopa, minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluering, het Madonsela en haar span in 'n spesiale boodskap vir hul bydrae tot sosiale geregtigheid geloof. “Instellings soos die Universiteit Stellenbosch en die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid is belangrike vennote vir die regering om tegniese kundigheid en bewysgebaseerde benaderings te lewer om die regering se ingrypings te ondersteun om planne en beleide te implementeer om sosiale geregtigheid in die land te bereik," het Ramokgopa gesê.

Madonsela het Hastings in haar slotopmerkings vir sy hartroerende lesing oor opoffering en integriteit bedank. "Hierdie boodskap gaan nie net oor die uitreik van 'n hand van vrede na diegene wat jou fisies benadeel het nie, dit gaan ook daaroor om 'n hand van versoening na diegene uit te reik wat sosiaal en ekonomies benadeel is en te vra: 'Wat kan ons doen om te help?"

Daar is 'n barmhartige Samaritaan in ons almal, het Madonsela gesê. "Ek glo as ons 'n vreedsame wêreld wil hê, moet ons begryp dat ons mekaar se bewakers en ankers van hoop is."

FOTO: Stefan Els