?Die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap word jaarliks op 11 Februarie gevier. In ? meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, dat om vroue en meisies aan te moedig om meer by die wetenskap betrokke te wees, nie net oor regverdigheid gaan nie, maar ook oor vooruitgang. Deur meer vroue en meisies in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde te bemagtig, ontsluit ons potensiaal, dryf ons innovasie aan en bou ons 'n meer volhoubare, billiker toekoms vir almal.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Sibusiso Moyo*
Ons vier elke jaar op 11 Februarie die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap om die onskatbare bydraes van vroue in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) te vier. Hierdie dag, wat in 2015 deur die Verenigde Nasies ingestel is, dien as 'n viering en 'n oproep tot aksie. Dit is 'n geleentheid om te besin oor die vordering wat ons gemaak het en die uitdagings wat steeds in die bevordering van die deelname van vroue en meisies aan STEM-vakgebiede ondervind word.
Uitdagings vir toegang
Ondanks beduidende vordering ten opsigte van geslagsgelykheid in die wetenskap, bestaan daar steeds skeidsmure. Vroue en meisies staar steeds sistemiese uitdagings in die gesig wat hulle toegang tot STEM-onderwys en -loopbane beperk. Dit sluit in:
- Diep gewortelde stereotipes dat STEM-vakgebiede deur mans oorheers word wat jong meisies ontmoedig om verder in hierdie vakke te studeer.
- Ongelyke toegang tot uitstekende leer- en onderriggeleenthede en infrastruktuur soos laboratoriums waar hulle vroeg al aan die basiese beginsels in die onderskeie vakgebiede blootgestel en opgelei kan word om hulle 'n voorsprong te gee.
- Beperkte mentorskap en rolmodelle, aangesien vroue onderverteenwoordig bly, veral in die Afrika-konteks, op senior STEM-verwante akademiese en navorsingsverwante leierskapsvlakke.
- Ongelykhede in die werkplek wat beleide, praktyke en kultuur kan insluit wat nie geslagsverskille in ag neem nie, insluitende toegang tot navorsingsfinansieringsgeleenthede.
- Kulturele en samelewingsverwagtinge, wat dit vir vroue 'n groter uitdaging kan maak om 'n balans tussen hulle loopbane in die wetenskap en persoonlike/gesinsverantwoordelikhede te handhaaf.
Volgens UNESCO is meer as 50% van alle universiteitsgegradueerdes vroue, maar hulle maak minder as 30% van die wêreld se navorsers uit. Hierdie skrille ongelykheid is nie net 'n verlies vir vroue nie; dit is 'n verlies vir die samelewing. Innovasie floreer op diversiteit, en die wetenskap trek voordeel uit die unieke perspektiewe en talente wat vroue en meisies na die tafel bring.
Dit is noodsaaklik dat ons in Suid-Afrika aanhou om die aantal vroue en meisies in STEM-vakke te vermeerder, aangesien dit ons baie sal help om die ho? vlakke van armoede, werkloosheid en ongelykheid te verminder. 'n Doelbewuste poging om leer- en onderriginfrastruktuur te verbeter, ho?gehalte-lewering van onderwys vir almal en die versekering van ho?-end STEM-opleiding vir onderwysers, akademici en diegene wat die kern van die opleiding van die volgende generasie is, moet 'n prioriteit bly.
Vooruitgang en sukses
Die goeie nuus is dat dinge besig is om te verander. Oor die jare het ons toenemende verteenwoordiging van vroue in STEM gesien, met meer vrouewetenskaplikes wat baanbrekersnavorsing lei, aan die hoof van gesogte instellings staan en die volgende generasie inspireer. Wêreldwye inisiatiewe, beurse, mentorskapprogramme en beleidshervormings skep nuwe geleenthede vir vroue en meisies om in wetenskap en tegnologie te floreer.
By die Universiteit Stellenbosch (US) doen ons ons deel omdat ons die behoefte besef om hierdie verandering aan te dryf. Ons is daartoe verbind om 'n meer inklusiewe wetenskaplike omgewing te bevorder deur doelgerigte inisiatiewe, wat mentorskap en netwerkgeleenthede vir vroulike studente en navorsers bied, asook STEM-uitreikingsprogramme vir jong meisies wat hulle aanmoedig om van kleins af in die wetenskap belang te stel. Dit is belangrik om jong meisies se belangstelling in die wetenskap te prikkel en dit te koester terwyl hulle nog op skool is.
Deur navorsing te finansier en vrouewetenskaplikes te ondersteun, verseker ons dat hulle billik verteenwoordig word in navorsingsprojekte en publikasies. Bedryfs- en regeringsvennootskappe stel ons in staat om meer loopbaanpaaie vir vroue die wetenskap en tegnologie te skep. Ons ondersteun deur hierdie inisiatiewe nie net vroue wat reeds in die wetenskap is nie, maar ons inspireer ook toekomstige geslagte jong meisies om hulleself as wetenskaplikes, ingenieurs en innoveerders te sien.
Gegewe ons verbintenis tot die bevordering van die deelname van vroue en meisies aan die wetenskap, was dit veral verblydend toe drie van ons opkomende vrouenavorsers – Kimberley Coetzer, dr Lesha Pretorius en dr Nonsikelelo Hlongwa – in Oktober verlede jaar met die gesogte L'Oréal-UNESCO for Woman in Science-toekennings erken is, wat hulle uitsonderlike bydrae tot wetenskaplike navorsing en innovasie beklemtoon. Hulle is vir die 2024 L'Oréal-UNESCO For Women in Science South Africa Young Talent-program gekies. Hierdie wêreldwye inisiatief het ten doel om vroue in wetenskaplike navorsing te erken en te ondersteun deur toekennings en genootskappe aan jong vroulike wetenskaplike te verskaf, hulle te help om hulle werk te bevorder en geslagshindernisse in STEM-vakgebiede te oorkom.
In dieselfde jaar het prof Pumla Gobodo-Madikizela ook die gesogte Templeton-prys ontvang ter erkenning van die werk wat sy doen, insluitende mentorskap en studieleiding aan jonger vakkundiges van verskillende agtergronde. Daar is baie ander vroue by die US wat uitstekende werk doen en ons gaan voort om hulle werk op die Research for Impact-platform ten toon te stel.
Oproep tot aksie
Hoewel universiteite 'n uiters belangrike rol speel, is dit 'n kollektiewe verantwoordelikheid – een wat regerings, die private sektor en die burgerlike samelewing se toewyding vereis. Ons moet almal saamwerk om:
- stereotipes uit te daag deur vroulike rolmodelle in STEM-vakgebiede te bevorder en sigbaarheid vir hulle prestasies te verseker;
- beleide te versterk deur geslagsgelykheid in navorsingsfinansiering, aanstellingspraktyke en loopbaanbevorderingsgeleenthede te verseker;
- mentorskap- en borgskapgeleenthede te skep sodat meer jong vroue toegang kan kry tot die ondersteuning wat hulle nodig het om sukses te behaal;
- in STEM-onderwys vir meisies en vroue te belê deur programme te finansier wat meisies aanmoedig en ondersteun om die wetenskappe te studeer.
Om vroue en meisies aan te moedig om meer by die wetenskap betrokke te wees, gaan nie net oor regverdigheid nie; dit gaan oor vooruitgang. Die slimste verstande uit alle agtergronde is nodig indien ons die groot uitdagings wat ons in die gesig staar – wat strek van klimaatsverandering tot wêreldwye gesondheidskrisisse – wil oplos. Deur meer vroue en meisies in STEM-vakke te bemagtig, ontsluit ons potensiaal, dryf ons innovasie aan en bou ons 'n meer volhoubare, billiker toekoms vir almal.
Laat ons op hierdie Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap ons verbintenis herbevestig om hindernisse af te breek en 'n wêreld te skep waar elke meisie tot die wetenskap kan bydra en die toekoms kan help vorm. Baie dankie aan al ons vroulike en manlike kollegas wat tot die opleiding van die volgende geslag wetenskaplikes, vakkundiges en innoveerders bydra!
Word deel van hierdie missie – die wetenskap het ons almal nodig.
- Foto deur Stefan Els (Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking)
*Professor Sibusiso Moyo is die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die Universiteit Stellenbosch.