By 'n gradeplegtigheid beskryf akademici soms die moeisame proses om 'n PhD te voltooi as 'n “wonderwerk". Maar toe dr Chris Jurgens, 'n dosent in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), vandeesweek sy PhD ontvang het, het hy nuwe betekenis aan die frase 'n “wandelende wonderwerk" gegee.
Jurgens het vroeg verlede jaar sulke ernstige beserings in 'n motorfietsongeluk opgedoen dat sy lewe aan 'n draadjie gehang het. 'n Ongelooflik toevallige reeks gebeure en “wonderwerkers" het sy lewe gered. Ná die ongeluk het Jurgens se hernieude doelgerigtheid, geloof en lewenslus 'n groot rol gespeel in sy herstel en akademiese sukses.
Op Donderdag 9 Februarie 2023 het die trajek van Jurgens se lewe in 'n oogwink verander. Hy was op sy motorfiets op die R44 op pad na Stellenbosch – 'n roete wat hy male sonder tal al gery het. Op dié noodlottige oggend het 'n besoeker van Namibi? wat verdwaal het egter 'n onwettige kruising reg voor hom gemaak. Net toe Jurgens uitswaai om 'n ongeluk te vermy, het die voertuig in dieselfde rigting versnel.
Hy het die agterdeur van die motor getref, onmiddellik sy bewussyn verloor en afgryslike beserings opgedoen: skedelbreuk, ernstige bloeding op die brein, 'n gebreekte pols, 'n gebreekte skouer, geskeurde knieligamente en 'n platgevalde long.
Jurgens beskryf die ongeluk in fyn detail, maar nie omdat hy dit goed onthou nie – sy traumatiese breinbeserings het tot gevolg gehad dat hy niks van die gebeurtenis kan herroep? ?nie. Wat hy weet van die ongeluk is later deur ondersoekers, ooggetuies en mediese personeel aan hom oorgedra. “Gelukkig het ek nie gejaag nie, en ek het al die regte veiligheidstoerusting gedra – 'n motorfietshelm, nekstut en 'n beskermende baadjie. Ek dink dit het 'n groot rol daarin gespeel dat ek vandag hier is," vertel hy.
'n Reeks wonderwerke
Dat Jurgens die botsing oorleef het, is te danke aan 'n reeks gebeure wat só gunstig op mekaar gevolg het dat dit moeilik is om te glo dit is nie deur 'n ho?r mag georkestreer nie. Daarom dat die nadraai van sy ongeluk so 'n groot impak op sy geloof gehad het.
Die eerste mens op die toneel was 'n verpleegster van die nabygele? LifeShine Wellness Centre, wat Jurgens se hand vasgehou en hom gemaklik gemaak het. Sy het die aandag van verbygaande motoriste getrek. Oomblikke later het 'n oogkundige, wat ook 'n motorfietsryer is, stilgehou. Die verpleegster en dokter het noodhulp begin toepas.
Net toe Jurgens se hart ophou klop, kom die perfekte held op die toneel aan: Ryan Wills, Mediclinic se opleidingsbestuurder vir noodsorg, is selde self betrokke by noodbehandeling op ongelukstonele, maar hy het toevallig daardie dag mediese toerusting in sy motor gehad wat vir opleiding bedoel was. Wills het met behulp van dié noodhulptoerusting Jurgens se hart weer aan die klop gekry en 'n ambulans ontbied.
Wills en die ER24-paramedikus het in die ambulans 'n asemhalingsbuis ingesit en Jurgens op 'n ventilator geplaas. Dit het verseker dat die beserings wat hy aan sy kop, gesig en bors opgedoen het, nie sy lugweg en asemhaling sou belemmer nie. Op pad na die hospitaal het nog 'n ingryping verseker dat Jurgens betyds noodbehandeling sou ontvang.
“Terwyl hulle besig was om my te stabiliseer, het my vrou Alet my gebel – suiwer toeval. Die ambulansbestuurder het my selfoon geantwoord en verduidelik wat gebeur het. Hy het haar gevra om dadelik na die Vergelegen Mediclinic toe te gaan en solank die nodige vorms te begin invul sodat alles gereed sou wees vir my om opgeneem te word. Toe die ambulans by die hospitaal opdaag, het al die dokters staan en wag, gereed in hul teaterklere. Daardie kosbare sekondes het gehelp om my lewe te red."
Dokters het eers 'n noodoperasie gedoen om die druk op sy brein te verlig. 'n Verguisde pols wat deur 'n handspesialis as onredbaar beskryf is, is uiteindelik deur 'n ortopediese chirurg se dapper ingryping gered. “Die X-straal van my pols het gelyk asof iemand 'n handvol macaroni op 'n tafel gegooi het," sê Jurgens en hou sy hand omhoog. “Maar die ortopeed het 'n pen ingesit en my pols reggetrek. En vandag kan ek steeds my hand en al vyf vingers gebruik," demonstreer hy met 'n bre? glimlag.
“Dit was ongelooflik, die regte mense op die regte tyd…" voeg hy in verwondering by. “Statisties is die waarskynlikheid dat al daardie dinge in perfekte chronologiese volgorde gebeur, onbeskryflik klein. Ek twyfel nie daaraan dat dit Goddelike ingrype was nie."
Die lang pad na herstel
Dokters het Alet gewaarsku dat sy kans op oorlewing skraal is. Sy het vir 'n week elke dag hospitaal toe gegaan, onseker of dit die laaste keer sou wees dat sy haar man lewendig sou sien. Jurgens het wonderbaarlik deurgetrek, maar die pad na herstel was lank en veeleisend. “Ek was vir 'n week in die waakeenheid, ongeveer 'n maand in 'n ander saal en toe 'n oorgangsfasiliteit. Dit was 'n baie traumatiese beproewing vir my gesin."
Toe hy uiteindelik ses weke later sy bewussyn herwin, kon hy glad nie die ongeluk onthou nie. Erger nog, hy kon nie onthou dat hy die pa van twee kleuters is nie.
“Ek het in die middel van die nag wakker geword, die hospitaalbed gesien en gedink: 'Wat het gebeur? Ek was dan vanoggend op pad werk toe.' Die volgende oggend het ek net my vrou herken; ek kon nie onthou dat ek twee dogtertjies het of wat hulle name is nie! Gelukkig het hulle my toe nog nie besoek nie. Dit het nog sowat drie weke geneem vir my herinneringe aan hulle om terug te keer."
Terwyl Jurgens stadig sy fisiese en kognitiewe vermo?ns herwin het, het sy gesin om hom laer getrek. Die onderskraging van sy vrou en kinders, sy ouers en skoonouers, asook die onwrikbare steun van die US-gemeenskap, het 'n belangrike rol in sy rehabilitasie gespeel, benadruk Jurgens.
“Dit moes bitter moeilik gewees het vir my vrou. Ek dink sy het meer gely as ek terwyl ek in 'n koma was. Die ondersteuning van die Universiteit was ook ongelooflik. My studieleier, prof Jan Wium, die voorsitter van die Departement Siviele Ingenieurswese, en my SU-kollegas het my almal in die hospitaal kom besoek. By 'n Rektorsontbyt vroe?r vanjaar het ek ook die geleentheid gehad om prof Wim de Villiers persoonlik te bedank. Ek het vir hom gesê die Universiteit Stellenbosch het 'n groot rol gespeel in my dryfkrag om te herstel. Daardie ondersteuning was van onskatbare waarde."
Jurgens het maande se uitmergelende rehabilitasie in die gesig gestaar. Sy arbeidsterapeut het 'n plan beraam om sy kognitiewe vermo?ns te herbou. “Sy het vir my gesê om baie te lees, die teks op te som en mondelings oor te dra," vertel Jurgens. “My arme vrou ... sy moes luister na elke detail van Elon Musk se biografie en elke boek wat ek gelees het!" Dié oefeninge, saam met legkaarte en breinspeletjies, het sy konsentrasie geleidelik herstel.
Ondanks voortslepende fisieke beperkings – 'n stywe pols, verminderde skouermobiliteit en die feit dat hy nie meer kan draf nie – beskou Jurgens homself as gelukkig. “In vergelyking met die alternatief om nie hier te wees nie, is ek baie bly om met geringe uitdagings saam te leef."
'n Nuwe lewe
Die ongeluk was 'n “algehele oorbegin" en 'n nodige ingryping, glo Jurgens. “Dit moes gebeur. Daardie dag het die Here vir my 'n duidelike boodskap gegee: 'Jy is nie op die regte pad nie. Jy moet dinge regmaak ter wille van jouself en ter wille van jou gesin'."
Hoewel die ongeluk byna rampspoedig was, het dit Jurgens 'n grensverskuiwende insig besorg. “Voor die ongeluk het ek met uitstel gesukkel," erken hy. “My doenlysies was eindeloos. Maar terwyl ek in die hospitaal was het ek gewonder: 'Wat sou hulle op my grafsteen skryf? Hier lê Chris, 'n gawe ou wat nooit iets klaargemaak het nie?' Dit is nie wie ek wil wees nie."
Vasbeslote om te verander, het Jurgens in Julie 2023, net vyf maande ná die ongeluk, na die US teruggekeer. “Ek het vir myself gesê ek gaan saam met die studente by die lesingsaal instap vir die tweede semester, en deur die genade van Bo kon ek dit doen."
Jurgens het hom met nuutgevonde ywer daarin verdiep om sy PhD te voltooi wat fokus op tegnologie-aanvaarding in die konstruksiebedryf. “Voor die ongeluk wou ek net my tesis klaarkry," sê hy. “Nou is ek baie trots op dít wat ek met my navorsing bereik het. Ek het twee keer so hard gewerk om iets te lewer waarop ek werklik trots is. Ek het ook besef dat ek regtig baie, baie lief is vir die Universiteit Stellenbosch. Ek geniet dit om met studente te werk en hulle op hul eie vorderingsreise te help."
Jurgens het nege maande ná sy ongeluk al sewe mense gaan besoek wat instrumenteel was in sy oorlewing om hulle persoonlik te bedank. “Ek is alles verskuldig aan die hoogs bekwame en passievolle mense wat presies op die regte tyd in my lewe gekom het."
Sy ervaring het hom ook 'n nuwe waardering vir geestelike welstand gegee. “Die arbeidsterapeute, sielkundiges en ondersteunende fisioterapeute het my letterlik weer lewendig gemaak. Om na jou innerlike om te sien is net so belangrik soos om gesond te eet of te oefen."
Hy beplan om aan elkeen van hulle 'n gradeplegtigheidsfoto in sy rooi doktorale toga te stuur as 'n klein blyk van sy dankbaarheid.
Hoewel hy dit mis om op sy motorfiets te ry, het hy sy vrou belowe om nooit weer op 'n motorfiets te klim nie. “Sy het my gewaarsku: 'As jy ooit weer aan 'n motorfiets raak, skei ek van jou!'" lag Jurgens. “Maar op 'n ernstige noot: Ek is baie, baie groot dank aan my vrou verskuldig. Sy was nog altyd gretig om oorsee te gaan, terwyl ek verkies om Suid-Afrika te verken. Aanstaande jaar neem ek haar en die kinders op 'n vakansie oorsee. Hulle verdien dit om bederf te word ná die drama van die afgelope twee jaar."
FOTO: Stefan Els