肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe studie lê verborge gesondheidsrisiko's van binnenshuise kaggels bloot
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/07/2024

Dit is baie lekker en gesellig om gedurende die koue wintermaande 'n binnenshuise kaggel aan te steek vir ekstra warmte of om af en toe vleis te braai. Die nadeel is dat jy baie klein vaste of vloeibare stowwe inasem wat skadelik vir jou gesondheid kan wees.

Volgens 'n navorsingartikel in Energy Research & Social Science het 'n groep navorsers van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) in 'n nuwe studie bevind dat die gebruik van 'n binnenshuise kaggel tot die vrystelling van skadelike deeltjies kan lei wat in die lug versprei kan word en gesondheidsprobleme kan veroorsaak wanneer dit ingeasem word. Sommige deeltjies kan in die longe vestig, terwyl ander selfs die bloedstroom kan binnedring.

Die navorsers wys daarop dat verskeie navorsingstudies reeds kommer uitgespreek het oor die swak binnenshuise luggehalte in informele nedersettings, waar daar binnenshuis vuur gemaak word as 'n noodsaaklike bron van hitte. Die uitwerking daarvan in formele behuising, waar kaggels en binnenshuise braaiplekke algemeen as geriewe gebruik word, is egter nog nie ondersoek nie.

"Ons resultate toon dat die vlakke van skadelike stowwe wat tydens binnenshuise kaggelgebruik vrygestel word, die aanbevole riglyne en standaarde van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oorskry het. Die WGO beveel langdurige blootstelling aan hierdie klein deeltjies vir hoogstens drie dae in 'n jaar aan," sê PhD-kandidaat Rita van der Walt van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US.

"Langdurige blootstelling (maande tot jare) aan fyner stowwe word met vroe? sterftes, veral onder individue met chroniese hart- of longtoestande, en vertraagde groei in longfunksies by kinders verbind," voeg Van der Walt by, wat saam met haar studieleiers en kollegas van haar departement en die Departement Bedryfsingenieurswese die navorsing onderneem het.

Hulle het na die luggehalte in 'n paar huise gekyk wat oop en geslote binnenshuise kaggels gedurende die winter gebruik. "Dit is noodsaaklik om die uitwerking van deeltjies wat uit 'n binnenshuise kaggel vrygestel word, op die binnenshuise luggehalte en die potensi?le gesondheidsrisiko's wat daarmee gepaard gaan, in ag te neem."

Om luggehalte-data in te samel, het hulle waarnemingstoestelle gebruik om die konsentrasie van klein deeltjies in die lug elke 11 minute te meet en op te teken – altesaam 130 keer per dag. Hierdie waarnemingstoestelle is op toonbanke of tafels naby die kaggel geplaas.

"Ons resultate dui daarop dat die 24-uur gemiddelde konsentrasie klein deeltjies dikwels die WGO se aanbevole perk van 15 mikrogram per kubieke meter ('n spasie wat een meter lank, een meter breed en een meter hoog is) oorskry. Vyftien mikrogram is baie klein en liggewig. As jy 'n korrel tafelsout in vier gelyke dele sou verdeel, sou een deel 15 mikrogram weeg.

"Die daaglikse gemiddelde blootstelling aan hierdie deeltjies het daarop gedui dat deeltjievlakke in alle huishoudings wat gemeet is, lank ná kaggelgebruik nog steeds bo die aanbevole perk gebly het. Die resultate het tydperke van ho? blootstelling aangedui wat gewissel het van net minder as 'n uur tot meer as drie uur.

"Die konsentrasies van hierdie stowwe is slegs effens ho?r vir oop kaggels as vir toe kaggels."

"Toe ons egter die gemiddelde vlakke van klein deeltjies tussen oop en geslote kaggels vergelyk, het ons baie ho?r en meer ongewone lesings in huise met oop kaggels gevind," voeg die navorsers by.

Hulle het gedurende die navorsingstudie hulle bevindings met een van die huishoudings gedeel. "Nadat hulle die voorlopige metings met een van die huishoudings met 'n oop kaggel gedeel het, het die huisbewoners dadelik opgehou om binnenshuis vuur te maak. Dit het gelei tot 'n aansienlike vermindering in die deeltjieskonsentrasies en piekmetings.

"Aangesien baie Suid-Afrikaners dalk nie weet van die gesondheidsrisiko's verbonde aan die gebruik van binnenshuise kaggels nie, kan hierdie resultate huishoudings inlig oor kaggels en binnenshuise luggehalte. Hopelik sal dit die aantal binnenshuise vure verminder of mense laat ophou om vuur te maak."

Die navorsers sê hoewel dit 'n verkennende studie was, het dit waardevolle resultate opgelewer wat die grondslag lê vir 'n groter studie met meer huishoudings in die toekoms. Hierdie huishoudings kan laerinkomstebehuising insluit, waar dit noodsaaklik raak om vuur te maak vir verhitting in die winter, wat 'n moontlike openbare gesondheidsrisiko inhou.

Hulle voeg by dat toekomstige werk ook die uitvoer van intervensieproewe kan insluit wat kan behels dat binnenshuise luggehaltemoniteringsdata aan huishoudings beskikbaar gestel word, wat moontlik tot proaktiewe veranderinge in gedrag en binnenshuise omgewingspraktyke kan lei.

  • Bron: Van der Walt RE, Jacobs R, Grobbelaar SS & Booysen MJ 2024. Lifting the unseen smokescreen on indoor air quality due to amenity indoor fireplaces in South African homes. Energy Research & Social Science 114 (2024) 103597: DOI: 10.1016/j.erss.2024.103597