肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nóg ’n pluimpie vir US se taaltowenaar
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 27/03/2024

Wanneer jy 'n artikel op die Universiteit Stellenbosch (US) se webtuiste of 'n nuusbrief of kennisgewing van die instelling lees, het die redigeerder en vertaler Elsabé Grauso dit waarskynlik onder o? gehad. Kollegas wonder dalk waarom dié vrolike woordkunstenaar op die kruin van haar loopbaan as 'n taalpraktisyn ook nog 'n honneursgraad op haar gebied wou verwerf; nietemin ken hulle ook Grauso se ondersoekende gees en die loutere plesier wat sy uit die aanleer en bemeestering van nuwe vaardighede kry.

'n Bestuurder het op 'n keer na haar verwys as die “taalpolisie" van die Universiteit. Dié beskrywing is dalk tegnies in die kol, maar die gemoedelikheid waarmee Grauso haar kollegas aan die US se stylgidse help voldoen, kan beswaarlik as polisi?ring beskryf word. Sy is ewe vaardig in Afrikaans en Engels en bestee die meeste van haar tyd daaraan om kopie in albei tale te proeflees en korporatiewe kommunikasie te vertaal.  

Saam met haar swaar werklas by die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking het Grauso verlede jaar 'n BA-honneursgraad in Taalpraktyk voltooi, maar dit danksy fyn voetwerk na kinderspeletjies laat lyk. Sy het aanvanklik vir 'n honneursgraad in Vertaling geregistreer, maar omdat dié program deesdae ook redigering en tolking insluit, is dit sedertdien tot die graad HonsBA (Taalpraktyk) herdoop. Grauso reken die nuwe naam is 'n veel beter weerspie?ling van wat hierdie praktykgerigte program, wat in die Departement Afrikaans en Nederlands aangebied word, behels. Sy is vol lof vir hoe die Departement haar in die program tegemoetgekom het. “Dit was nie altyd maklik om te werk én te studeer nie, en dan was daar natuurlik ook die pandemie, wat bykomende uitdagings meegebring het. Ek moes dikwels by my dosente om genade en uitstel pleit. My studieleier, prof Harold Lesch, verdien 'n medalje vir sy geduld. Ek is ewig dankbaar vir hulle grasie, en vir my medestudente se geduld met die dinosourus in die klas!"

Sy bly vanjaar akademies op spoed en het reeds met 'n nagraadse diploma in Toegepaste Etiek weggeval. “Ek wil in kunsmatige intelligensie (KI) spesialiseer, want op ons terrein van redigering, inhoudskepping en vertaling ontwikkel die tegnologie so vinnig dat ons al hoe meer voor etiese dilemmas oor die gebruik van generatiewe KI te staan kom." Hoewel sy al self die krag van rekenaarskryfwerk en -vertaling ervaar het, glo Grauso dat die menslike element in taalwerk nog in die afsienbare toekoms noodsaaklik sal bly.

“Ja, die groot taalmodelle verbeter en brei voortdurend uit en sal waarskynlik so goed word dat ons uiteindelik almal in wese redigeerders sal wees. Maar jy sal altyd menslike ingryping nodig hê vir daardie grys gebiede in taal, waar daar nuanse, dubbelsinnigheid of dubbele betekenisse is. Elke taal spruit uit komplekse kulturele norme wat bepaal hoe ons kommunikeer en mekaar verstaan. En ChatGPT kan nie tussen die lyne lees nie, en verstaan ook nie altyd konteks nie," merk Grauso op.

Van die joernalistiek na die akademie

Haar liefde vir taal is reeds van jongs af gevestig met haar grootwordjare in 'n huis vol boeke. “Ek dink 'n passie vir werk met woorde begin altyd met lees. So ver ek kan onthou, was boeke nog altyd deel van my lewe. My vroegste herinnering aan my pa in ons huis op Cradock is van hom wat Saterdagmiddae sy Konsalik-romans of Wilbur Smiths op die bed lê en lees. My ma was ook altyd 'n kranige leser."

Grauso se gawe vir skryfwerk, haar slag met mense en haar nuuskierigheid oor die wêreld om haar het haar ná matriek 'n loopbaan in die joernalistiek laat volg. “Die Universiteit Stellenbosch was nog altyd my eerste keuse, en hoewel ek dit oorweeg het om in vertaling te spesialiseer, was ek gelukkig genoeg om ná by BA-graad keuring vir die honneursprogram in Joernalistiek te kry."

Haar Joernalistiekjaar was 1990, ook die jaar toe wyle president Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is. “Dit was 'n baie onstuimige tyd, maar ook interessant om die geboorte van ons demokrasie te kon beleef," dink sy terug. Haar eerste pos as koerantverslaggewer was in Port Elizabeth (nou Gqeberha) by Oosterlig, wat sedertdien tot niet is. Grauso het ook 'n ruk in Namibi? as joernalis gewerk, weer teruggekeer na Oosterlig en haar later by 'n gemeenskapskoerant aangesluit. Daarna het sy by Struik Uitgewers as projekbestuurder en redigeerder gewerk voordat sy in 2019 by die US aangestel is.

Die herinneringe aan haar dae as joernalis is vir Grauso kosbaar. “By gemeenskapskoerante leer doen jy alles – van skryf en redigeer tot uitleg en fotografie. President Mandela het kort na die verkiesing in 1994 ereburgerskap van die dorp Uitenhage (nou Kariega) ontvang. As 'n gemeenskapsjoernalis, was ek bevoorreg om die hele dag deel te kon wees van sy entourage. Ek het nie destyds besef wat 'n ongelooflike ervaring dit eintlik was nie. Noudat ek terugkyk, is ek so dankbaar vir die geleenthede wat ek gehad en die wonderlike mense wat ek ontmoet het."

Om nou reeds 'n aantal jaar in 'n akademiese omgewing te kan werk is vir haar 'n voorreg en 'n bron van groot vreugde, sê Grauso. “Ek is mal daaroor om nuwe dinge te leer. Elke artikel wat ek redigeer of vertaal, brei my denke uit. Die meningsartikels fassineer my; dit laat besef my hoe oppervlakkig ons soms na die wêreld kyk. Mense van my generasie is nie altyd bewus van die oogklappe waarmee ons deur die lewe gaan en in watter mate ons as kinders en jongmense gebreinspoel is nie. By die US het ek diep insig gekry in soveel aspekte wat ons lewens raak. My werk en studie het my o? laat oopgaan vir kwessies soos sistemiese rassisme en waarom verandering 'n konstante is."

'Biker Barbie'

?Wanneer sy nie met woorde stoei of haar in akademiese teorie? oor taal verdiep nie, tref jy die sonnige rooikop oor naweke op 'n onwaarskynlike plek aan – agter haar Italiaanse man op 'n Harley Davidson, besig om die natuurskoon van die wynlande te verken. “Ek is nie juis stabiel op twee wiele nie, maar my man is 'n meesterlike motorfietsryer. Om die pad te vat is hoe ons van die wêreld en al sy probleme ontsnap. Ek kan net agter hom terugsit soos 'n koningin uitgevat in leer. Van agterop 'n motorfiets lyk die wêreld heel anders. Dit is 'n gevoel van vryheid wat my jonk hou."

Dit verbaas dus nie dat Grauso verlede jaar vir Loslitdag by die US die prys vir beste kostuum in Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking losgeslaan het met haar Biker Barbie-uitrusting nie. Die spatsel pienk in haar leeruitrusting is dieselfde skakering as die sjampanje in haar kollegas se glase toe hulle op gradedag hulle gunsteling-taalfoendi se prestasie saam met haar gevier het.

Welgedaan, Elsabé!

FOTO: Curt Ruiters