肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Eucalyptus-navorsingsprogram ontvang R20 mijoen se hupstoot
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 18/03/2024

Navorsers van die Hans Merensky-leerstoel in Gevorderde Modellering van Bloekomhoutproduksie (EucXylo) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is danksy finansiering van bykans R20 miljoen oor vyf jaar (2024 tot 2028) goed geplaas om hulle werk oor bloekombome na die volgende vlak te neem.

Die EucXylo-program, wat in die US se Departement Bos- en Houtkunde gesetel is en onder leiding van prof Dave Drew staan, het onlangs 'n toekenning van meer as R17 miljoen van die Hans Merensky Erfenis-stigting ontvang. Dié stigting finansieer sedert 2019 die tienjaar-inisiatief. Daarbenewens het EucXylo 'n R 2,7 miljoen-bydrae ontvang van die Departement van Wetenskap en Innovasie se Sektorinnovasiefonds, wat deur Bosbou Suid-Afrika vir die bosboubedryf geadministreer word.

“Ons is dankbaar vir die Hans Merensky Erfenis-stigting en Bosbou Suid-Afrika se belegging in ons program. Dit bied 'n wye reeks nuwe moontlikhede om verskeie nuwe grense in Bosbouwetenskapnavorsing te verken," sê prof Dave Drew, 'n medeprofessor in die Departement Bos- en Houtkunde.

“Bloekombone is fassinerend. Hulle is die wêreld se grootste blombome. En hulle is ook 'n belangrike kern van ons volhoubare bosbouproduktebedryf in Suid-Afrika. Die EucXialo-program dra belangrike basiese en toegepaste navorsing by om sleutelvrae wat ons bedryf in die gesig staar, te verstaan. Ons lei ook 'n nuwe generasie biologiese en bosbouwetenskaplikes vir Suid-Afrika op."

Volgens Drew sal die implementering van die IMPACT-opeluglaboratorium (OAL) op die Lourensford-plaas by Somerset-Wes 'n fokuspunt van die EucXylo-program wees in die vyfjaarfase wat voorlê.

“'n Navorsingsfasiliteit van tien hektaar word in vennootskap met die eienaars en bestuur van die plaas gevestig, met die aanplant van bome in 'n omvattende ontwerp wat vir April 2024 beplan word. Hierdie vlagskipfasiliteit sal oor die nuutste moniteringstegnologie beskik wat ultramoderne sensorstelsels gebruik wat aan die Internet van Dinge gekoppel is, asook afstandswaarnemingstelsels, insluitende gevorderde LiDAR- (“Light Detection and Ranging") tegnologie en gedetailleerde karakterisering van terrein- en omgewingsveranderlikes."

Drew sê verder dat die IMPACT-OAL later vanjaar oopgestel sal word vir wetenskaplikes en studente van alle agtergronde wat dalk belangstel om navorsing te doen oor plantasiebosekologie en hoe bome (veral bloekombome) groei en hulle hout vorm. Die fasiliteit sal ook vir die publiek en skole oopgestel word om die gemeenskap in staat te stel om 'n voorbeeld van uitstekende bosbouwetenskap te ervaar en om die produksieproses van volhoubare hout- en veselprodukte beter te verstaan.

Mnr. Chris Pienaar, 'n trustee van die raad, het in reaksie op die Hans Merensky Erfenis-stigting se volgehoue ondersteuning aan die EucXylo-program gesê: “Een van dr Merensky se nalatenskappe was die volhoubare bestuur van bloekombome. Die Raad is daartoe verbind om saam met prof Drew en die Universiteit Stellenbosch te werk om ons kollektiewe kennis uit te bou oor hoe hierdie merkwaardige bome groei en hoe moderne wetenskap tot ekonomiese welvaart kan bydra. Daarbenewens is ons trots op die ontwikkeling van jong breine deur hierdie samewerking met die Universiteit Stellenbosch."

In aansluiting by Drew en Pienaar, het die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, prof Sibusiso Moyo, gesê “ons is baie bly om met die Hans Merensky Erfenis-stigting saam te werk gedurende hierdie opwindende volgende fase van die EucXylo-projek. Met sy fokus op voorpunt-bosbouwetenskapnavorsing en volhoubare woudbestuur, is dit 'n uitstekende voorbeeld van 'n program wat briljante mense na die Universiteit bring en navorsers met mekaar verbind."

  • Die Departement Bos- en Houtkunde by die Universiteit Stellenbosch is die enigste universiteitsdepartement in Suid-Afrika wat 'n omvattende vierjarige BSc-graadprogram in Boskunde én Houtprodukkunde aanbied. Daardeur word die hele bosbouwaardeketting gedek. Dis ook die enigste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat opleiding op BSc-, MSc- en PhD-vlak bied in beide Bos- en Natuurlike Hulpbronne en Houtprodukkunde. Die departement streef daarna om veelsydige bestuurders en navorsers vir die houtverwerkings- en bosboubedrywe op te lei wat die vaardighede het die om al die kompleksiteite rondom tegnologie-oordrag te bestuur en te verstaan.

?Foto: Prof Dave Drew (middel) van die EucXylo-program saam met spanlede by die terrein waar die IMPACT-opeluglaboratorium gevestig sal word.