肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe, opgedateerde MobiLex-toepassing gereed om te gebruik
Outeur: Jana Nel
Gepubliseer: 13/02/2024

Met die ondersteuning van Universiteit Stellenbosch se IT-departement het MobiLex (’n veeltalige webgebaseerde vakwoordeboek)  aan die begin van 2024 nuwe vlerke gekry. Gedurende 2023 moes die toepassing groot veranderinge ondergaan om te verseker dat dit werkbaar is op alle elektroniese toestelle. Dit is herontwerp as 'n progressiewe webtoepassing (PWA) en kan as 'n toepassing op enige elektroniese toestel afgelaai word. Die skakel is: mobilex.sun.ac.za

Omdat die toepassing vir 'n groot deel van 2023 nie beskikbaar was nie, kon die integrasie nie plaasvind soos beplan nie, maar studente by Fakulteit Opvoedkunde het 'n ori?ntasie ontvang om die ondersteuning wat MobiLex kan bied, te verduidelik.

'n Suksesvolle werkswinkel, met prof. Madiba (dekaan Fakulteit Opvoedkunde) en Jana Nel (dosent Kurrikulum Studie) as aanbieders, is deur Fakulteit Opvoedkunde vir Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied en dit is baie goed ontvang. Termlyste vir Ingenieurswese is deur die Taalsentrum in Afrikaans en isiXhosa vertaal. 'n Termlys vir die Departement Fisika is in die tweede semester van 2023 leksikografies saamgestel en geredigeer. Baie opwindend is dat MobiLex ook na isiZulu uitbrei en die vertalings van taalonderrigterme in isiZulu is afgehandel.

'n Algemene “Hoe om gids" vir opvoedkunde personeel by die universiteit is ontwikkel en is beskikbaar in Afrikaans, Engels en isiXhosa. Die gids verskaf inligting rakende die ontwikkeling van MobiLex, die teoretiese grondslag vir 'n veeltalige woordelys soos MobiLex, die praktiese V&A van die toepassing asook voorbeelde van aktiwiteite vir onderrig en leer wat in verskillende fakulteite gebruik kan word.

Die integrasie van MobiLex sal in 2024 voortgaan. By Fakulteit Opvoedkunde sal alle Eerstejaar- en NOS-studente tutoriale ontvang om studente te help en te lei oor hoe om MobiLex in hul onderrig en leer te gebruik. Die plan is om 'n werkswinkel aan te bied vir al die dosente binne Fakulteit Opvoedkunde om die gids te loods en om leiding te gee oor hoe dosente MobiLex as deel van hul onderrig en leer kan gebruik.

Die integrasie by Fakulteit Natuurwetenskappe sal gedurende die eerste semester voortgaan, met die ondersteuning van Nel. Eerstejaarstudente sal 'n voor-geletterdheidstoets skryf, 'n MobiLex-werkswinkel doen en daarna 'n na-geletterdheidstoets skryf.

MobiLex het nuwe vlerke ontvang en is gereed om te vlieg!


Navrae: 

Prof Michele van der Merwe 

Projekbestuurder

E-pos: michelevdm@sun.ac.za