肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA se topmatrikulant nou ’n trotse Matie
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 26/01/2024

Toe Melissa Müller en haar ma, Lucille, vroe?r vandeesweek die Neelsie-studentesentrum besoek het, het dit nogal 'n opskudding veroorsaak. “Ek het jou in die koerant gesien!" het 'n winkelassistent gegil terwyl sy die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe akademiese superster gelukwens. Sedert sy op 18 Januarie as die land se top openbare skoolmatrikulant aangewys is, moes Melissa gewoond raak daaraan om soos 'n bekende persoon behandel te word.

Die Rhenish Girls' High-alumna, wat vanjaar megatroniese ingenieurswese aan die US gaan studeer, is geen vreemdeling op die kampus nie, aangesien haar ma as multimedia-adviseur, grafiese ontwerper & videoredigeerder by die Sentrum vir Leertegnologie? werk en deel is van die Hibridiese Leer-span. Die ma-dogter-duo het nog gestraal terwyl hulle die hoogtepunte van 'n warrelwindweek gedeel het wat ná die nuus van Melissa se merkwaardige prestasie gevolg het.

Melissa het kort voor die toppresteerdersgeleentheid drie oproepe van 'n onbekende nommer misgeloop voordat sy besef het dit is 'n oproep van die Departement van Onderwys om haar na die viering in Johannesburg te nooi. “Ek kon nie ophou glimlag toe ek die uitnodiging kry nie," sê sy met 'n groot glimlag.

Dit was ietwat van 'n geskarrel toe Lucille besef Melissa het nie meer 'n skooluniform om na die geleentheid te dra nie. “Ek het reeds haar skoolklere weggegee en ek moes vra of ek dit asseblief weer kon leen. Elke ouer dink seker maar hulle kinders is oulik, maar ons was verras om te besef presies hoe oulik Melissa is," vertel die trotse ma.

Nadat sy verlede jaar haar wiskunde- en rekeningkunde-eksamenvraestelle geskryf het, het Melissa nogal 'n goeie gevoel gehad. “Maar ek was nog altyd huiwerig om ná 'n eksamen 'n ophef by die huis te maak as dit goed gegaan het. Net nadat ek die uitnodiging ontvang het, het ek vir my ma gesê ek dink ek gaan moontlik 'n toekenning vir wiskunde ontvang. Ek het nie gedink dit sou die toekenning vir topleerder wees nie."

Sterk mededinging

Wiskunde en wetenskap was nog altyd haar sterkste vakke – 'n talent wat Melissa by haar pa André, die hoof- finansi?le beampte by Quantum Foods, ge?rf het. Melissa spog met sewe onderskeidings en 'n algehele gemiddeld van 97,6%, en het 'n verstommende 100% vir onderskeidelik wiskunde en rekeningkunde, asook 99% vir fisiese en lewenswetenskappe behaal. Hoewel sy tale as haar “swakste vakke" beskryf, het sy 93% vir Engels en 95% vir Afrikaans gekry.

“Dit het beslis gehelp dat ek tweetalig grootgeword het. Ons praat Afrikaans by die huis en ek het in Engels skoolgegaan, so ek is dubbel bevoorreg," sê Melissa.

Benewens die normale matriekkurrikulum verlede jaar, het die 18-jarige ook haar A-vlakke in fisika en wiskunde deur die Cambridge Assessment International Education-stelsel gedoen en onderskeidings in albei vakke behaal. Daarbenewens het sy 'n briljante telling in die Scholastic Aptitude Test (SAT)-eksamen in Engels en wiskunde behaal.

Melissa skryf haar uitstekende prestasie aan die sterk mededinging  by Rhenish toe. Altesaam 14 matrikulante het verlede jaar 'n gemiddeld bo 90% by die skool behaal. Sy gebruik 'n analogie uit die wêreld van tennis om die voordeel van sterk mededinging te verduidelik. “As Nadal, Djokovic en Federer nie in dieselfde era gespeel het nie, sou hulle nie so goed gewees het soos hulle is nie. Jy het daardie bietjie druk nodig."

Sy glo die feit dat sy net saam met meisies skoolgegaan het, het ook 'n verskil gemaak. “Dit is 'n gesonde soort mededinging waar ons mekaar voortdurend aangemoedig het."

Sportiewe durf

Nog 'n voordeel was om super ondersteunende onderwysers en ouers te hê. “My ma en pa het my nooit onder druk geplaas nie. Ek was nog altyd baie onafhanklik, en my selfmotivering gee my dryfkrag om sukses te behaal. Waar ander ouers vir hulle kinders moet sê om te begin studeer, het my ma en pa gereeld in my kamer ingekom om vir my te sê ek moet 'n blaaskans neem. Hulle het my herinner dat ek nie eerstespan hokkie of waterpolo hoef te speel nie, maar ek wou al die dinge doen wat ek geniet. Om fiks en gesond te wees, is 'n integrale deel van my lewe en vorm die ruggraat vir my prestasies. Ek glo daaraan om 100% te gee in alles wat ek doen."

“Ek het onlangs aan my pa verduidelik hoe ek dít wat ek in sport geleer het, op my studie toegepas het. Ek gebruik 'n soortgelyke oefenstrategie. As jy nie die werk bestudeer en reguit na vorige vraestelle gaan nie, gaan jy oorweldig word. Jy moet opwarm deur jouself vertroud te maak met die inhoud. Dan kom jy by die intense oefentydperk waar jy die ou eksamenvraestelle aanpak. Daarna 'koel jy af' deur te evalueer wat jy weet. Ek begin altyd deur al die werk deur te lees en dan werk ek deur vorige vraestelle en probeer al die definisies en formules memoriseer. Aan die einde behels my 'afkoel-tydperk' om die werk wat ek geleer het, vir myself op te sê en te sien hoeveel ek onthou."

Toe sy verlede jaar op haar eksamens moes fokus, het Melissa alle afleidings, selfs sosiale media, vermy. “Ek verwyder gewoonlik my Instagram-app tydens eksamens. Jy kan jouself beperk tot 'n paar minute op sosiale media wanneer jy 'n blaaskans neem, maar ek verkies om dit heeltemal uit die weg te ruim."

Lucille sê sy het nog altyd Melissa se vasberadenheid bewonder. “Om sesuur die oggend in 'n swembad te duik vir waterpolo-oefening wanneer dit yskoud buite is, verg 'n spesiale soort durf. Dit is daardie soort dissipline wat 'n verskil maak in alle aspekte van jou lewe."

Die Müller-familie is almal baie sportief. Melissa se jonger suster, Nicola (14), speel ook waterpolo en  hokkie en net soos haar ouer suster, blink Nicola ook akademies uit by Rhenish, waar sy 'n ontluikende leier is wat as graad 9-leerling op die Leerderraad dien.

“Ons glo nie daaraan om lui te wees nie," sê Lucille. " Ek het aanvanklik my lewenspassie gevolg en ballet studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna het ek 'n loopbaan as internasionaal gekwalifiseerde ballet-onderwyser gevolg. Dit het my dissipline geleer wat ek by my dogters ingeprent het. As ouers het ons 'n liefde vir leer in ons huis gekweek. Ons is almal weetgierig. Ek glo vas in lewenslange leer."

Trotse Matie

Lucille is verheug dat Melissa vanjaar 'n Matie gaan word, en merk op dat die US-omgewing haar dogter soos 'n handskoen sal pas. “Die US het soveel om te bied. Dit is 'n uitstekende instelling om by te werk. Ek dink sy sal baie gelukkig wees hier en dis 'n bonus om haar naby aan ons te hê. Sy sal in Huis ten Bosch bly, maar ons sien uit daarna om haar naweke te sien."

Afgesien van haar akademiese prestasies, het Melissa ook 'n sterk sin van sosiale geregtigheid. Sy het by die toppresteerdersgeleentheid oudpresident Nelson Mandela aangehaal oor onderwys wat die kragtigste wapen is om die wêreld te verander. Gedurende die Covid-pandemie het sy met behulp van YouTube-video's geleer hekel en wolmusse vir die Siyanqoba-crèche in Kayamandi gemaak. Velrede jaar het sy opvoedkundige speletjies vir die skooltjie gemaak. Melissa sê sy wil graag by sosiale-impakorganisasies by die US betrokke raak, veral dié wat op voedselsekerheid fokus.

Maar haar primêre fokus vanjaar gaan die akademie wees, beklemtoon sy. “My graad sal voorrang geniet. Ek sal seker vir my koshuis hokkie speel, maar ek sal nie vir die Matiespan mik nie. Ek sal dalk ook aanhou waterpolo speel. Ek is 'n bietjie senuweeagtig oor verwagtinge, maar gelukkig floreer ek onder druk. Alles wat die afgelope week gebeur het, was 'n bietjie oorweldigend, maar ek voel baie bevoorreg om die erkenning en ondersteuning te ontvang. Ek is baie opgewonde om megatroniese ingenieurswese te studeer. Uiteindelik wil ek in biomediese ingenieurswese spesialiseer, 'n vakgebied waar daar wonderlike moontlikhede is om mense se lewens te verbeter."

FOTO: Stefan Els