肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumna maak betekenisvolle bydrae tot #Move4Food
Outeur: Lyndon Julius
Gepubliseer: 18/12/2023

?Marilet Daniel, 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), het haar tuisdorp Rawsonville met trots verteenwoordig toe sy onlangs die Berlynse Marathon 2023 voltooi het. Sy het nie net 'n item op haar emmerskoplys afgetik nie, maar ook 'n betekenisvolle bydrae tot die US se #Move4Food-veldtog gemaak.

Daniel, wat vir 'n BRek-graad studeer het en in 2007 haar honneurs verwerf het, besin oor haar tyd aan die US en erken hoe verlig sy was toe haar studies afgehandel is en hoe haar US-kwalifikasie vir haar deure oopgemaak het.

“Om 'n marathon te voltooi was al lankal in my agterkop, en daar is ek toe so gelukkig om 'n lotery-inskrywing vir Berlyn te kry, eerder 'n geval dat Berlyn my gekies het as andersom," sê Marilet. “Alison April, Direkteur vir Europa: Fondswerwing en Alumnibetrekkinge, het voorgestel ek gebruik die marathon as 'n fondswerwingsplatform en verskuif die fokus van persoonlike prestasie na iets wat jy vir ander kan doen."

Marilet het aanklank gevind by die #Move4Food-veldtog, wat studente met gesonde maaltye vir betrokke studie bystaan, en dit het haar meer bewus gemaak van die voorregte wat sy as Suid-Afrikaner in Amsterdam geniet.

Wat betref die beweegrede vir haar fondswerwing via #Move4Food beklemtoon Marilet: “As jy Suid-Afrikaans is en nou in Amsterdam woon, word jy daagliks herinner aan hoe bevoorreg jy is om genoeg geleenthede te hê, en jy aanvaar kos op die tafel byna as vanselfsprekend. My toewyding spruit nie net uit 'n pligsgevoel nie, maar opregte insig rakende die impak wat hierdie veldtog op studente met studie-uitdagings kan hê.

“Die Berlynse gemeenskap het oorweldigend op my fondswerwingspogings reageer en voor ek my kon kry, het ek my teiken bereik! Ek het soveel ondersteuningsboodskappe ontvang en mense is gek oor die fondswerwingsinisiatief," sê Marilet dankbaar.

Marilet beskryf haar benadering tot die stel en oorskryding van haar fondswerwingsteiken só: “Die feit dat ek dalk nie die teiken sou haal nie, het ek nie as 'n uitdaging of mislukking gesien nie; elke euro bygedra is een euro meer as wat ons die vorige dag gehad het, en dit kan 'n verskil maak.

“Die Berlyn-marathon self was vir my 'n onvergeetlike ervaring. Ek was effe senuweeagtig voor die wedloop, maar het bedaar deur te dink hoe gelukkig ek is om gesond genoeg te wees en hier te kan hardloop, boonop 'n wêreldmarathon-hoofroete, 'n paar uur nadat Eliud Kipchoge weggespring het! Die mees onvergeetlike oomblik was om deur die Brandenburgpoort te gaan terwyl die skare juig, dit het my letterlik koue rillings besorg!"

Wat die toekoms betref wil Daniel aan verdere fondswerwingspogings deelneem. Sy beskryf haar passie vir opvoedingsverwante kwessies so: “Ek sal graag die een of ander tyd die Tokio-marathon wil doen en dit ook 'n geleentheid maak om fondse in te samel. Opvoeding lê my na aan die hart, en enige veldtog wat sal help om 'n beter toekoms vir kinders en studente te verseker kry my onvoorwaardelike steun."

Marilet se verbintenis met die US spruit voort uit dankbaarheid eerder as 'n verpligting. Sy waardeer die Universiteit se inisiatiewe en die gemak waarmee alumni kan bydra.

“Ek is bly oor die steun. Ek was gek oor elke sekonde se voorbereiding vir die Marathon en die geldinsameling, en laasgenoemde was maar die kersie bo-op. My ervaring is dat ons 'n duidelike impak kan hê, hoe klein ook al, as ons persoonlike prestasie met in die maatskaplike belang vervang."