?Nasionale Kinderdag word jaarliks op die eerste Saterdag van November (op 4 November in 2023) gevier. In ? meningsartikel vir
skryf dr Chris Jones (Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie / Eenheid vir Morele Leierskap) dat wanneer ons kinderregte bevorder, ons 'n stap nader daaraan sal wees om 'n Suid-Afrika te skep waar daar waarde geheg word aan kinders se welstand en veiligheid en dit geprioritiseer word.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
?Chris Jones*
Nasionale Kinderdag word jaarliks op die eerste Saterdag van November (op 4 November in 2023) gevier om die vordering wat ten opsigte van die regte van kinders gemaak word, uit te lig.
Dit is belangrik, want as ons kinderregte bevorder, sal ons 'n stap nader daaraan wees om 'n Suid-Afrika te skep waar daar waarde geheg word aan kinders se welstand en veiligheid en dit geprioritiseer word.
Ongelukkig beleef baie kinders in ons land ho? vlakke van fisiese, seksuele, verbale en emosionele geweld, asook verwaarlosing. Dit stel hulle opvoeding, liggaamlike en geestelike gesondheid en morele en sosiale ontwikkeling, wat basiese kinderregte is, in gevaar.
Ondanks al die potensiaal wat in gesinne en huishoudings opgesluit lê, is dit dikwels daardie mense en ruimtes vir wie en waar kinders die kwesbaarste is en aan geweld blootgestel word. Dikwels word hierdie geweld stil gehou en word dit 'n gesosialiseerde patroon vir ouers en kinders met sekere nadelige gevolge, veral vir die kind.
Die Verenigde Nasies se Kinderfonds het in 2017 daarop gewys dat ongeveer die helfte van alle kinders in die wêreld geweld ervaar, met byna 300 miljoen twee- tot vierjariges wie se versorgers hulle tuis aan gewelddadige dissipline onderwerp.
Die Africa Child Policy Forum het in 2019 die seksuele uitbuiting van kinders in Afrika as 'n “stille noodtoestand" verklaar.
Van al die gevalle van seksuele misbruik wat by wetstoepassers in Suid-Afrika aangemeld is, het 93% van jeugslagoffers die oortreder geken.
Kindermishandeling en verwaarlosing het endemies in ons land geword. Die bevindinge van 'n navorsingstudie oor 2 000 kinders van geboorte tot 22-jarige ouderdom (die sogenaamde Mandela se kinders) het daarop gewys dat 99% van hierdie kinders in hulle lewe aan die een of ander vorm van geweld blootgestel is.
Suid-Afrika se gewelddadige koloniale en apartheidsgeskiedenis het 'n nalatenskap en kultuur van geweld agtergelaat wat steeds in huishoudings, skole en gemeenskappe afspeel. Patriargale huishoudings handhaaf dikwels hierdie geweld.
Die moordsyfer in ons land is meer as dubbel die wêreldgemiddelde, met ongeveer die helfte van hierdie noodlottige voorvalle wat in die konteks van huisverwante kindermishandeling en verwaarlosing plaasvind, met kinders onder vier wat die kwesbaarste is.
Byna die helfte van Suid-Afrikaanse kinders het in 'n studie aangedui dat hulle gesien het hoe hulle ma een of ander vorm van geweld in hulle huis ervaar. Dit kan natuurlik maklik tot voortgesette geweldspatrone lei. Veral seuns wat as kinders geweld ervaar, kan later in hulle lewe self gewelddadige oortreders word.
In 2015 het geweld teen kinders in Suid-Afrika die land R173 miljard – oftewel sowat 4,3% van die land se bruto binnelandse produk – gekos.
Vroue is dikwels kinders se primêre versorgers en daarom, met inagneming van bogenoemde statistieke, die belangrikste oortreders van vroe? gesinsgeweld teen kinders. Dit is dikwels 'n “misplaasde aggressiesiklus" waar vroue, omdat hulle dikwels die slagoffers van gesinsgeweld is, hulle frustrasie op die kinders in hulle sorg uithaal – 'n geval van mans wat vroue straf en vroue wat kinders straf.
Sosiale norms en gesinsingesteldhede en -oortuigings wat geweld op verskillende maniere ondersteun en voortduur, moet be?indig word. Ongelukkig word geweld teen kinders deur godsdienstige en kulturele regverdigings, wat in patriargie ingewortel is, gekompliseer.
Volgens patriargale ingesteldhede word vroue en kinders as minderwaardig beskou, aangesien laasgenoemde as die besittings of eiendom van hulle ouers beskou word. Dit is hoogtyd dat daar weggedoen word met (eksklusiewe) manlike mag, beheer en oorheersing.
Selina Palm van die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, redeneer oortuigings soos dat kinders aan die onderpunt van die waardehi?rargie in huishoudings en gemeenskappe is, en dat volwassenes ho?r op die waarderanglys is en dus ten volle oor die kind se lewe kan besluit en hoe hulle behandel moet word, moet omgekeer word. Volgens haar is respek en agting nie 'n eenrigtingstraat nie.
Verder is lyfstraf as 'n kernaandrywer van die ho? vlakke van geweld teen kinders in Suid-Afrika ge?dentifiseer. In die lig hiervan was die Konstitusionele Hof se beslissing in 2019 om lyfstraf te verbied, 'n baie positiewe verwikkeling.
Dit sal hopelik help om endemiese sosiale norms en praktyke ten opsigte van geweld, veral in huishoudings, te verander en te verbeter. Hoewel wetgewing belangrik is, is dit uiteraard nie genoeg nie. Daar sal 'n baie sterker morele onderneming deur Suid-Afrikaners moet wees om geweld teen vroue en kinders stop te sit.
Suid-Afrika het ook in 2000 'n uitgebreide kurrikulum vir omvattende seksualiteitsopvoeding in skole bekendgestel wat onder meer ten doel het om die seksuele misbruik en uitbuiting van kinders te voorkom deur hulle met meer inligting en lewensvaardighede toe te rus.
Dit behoort baie kinders se weerstand teen seksuele mishandeling te versterk, asook hul gereedheid om mishandeling aan te meld en hulle vermo? om hulleself teen mishandeling en uitbuiting te beskerm. Ongelukkig het albei hierdie gebeurtenisse veral uit godsdienstige kringe teenstand gekry.
'n Sterk innerlike oortuiging dat geweld teen vroue en kinders geensins geregverdig kan word nie, sal egter gevorm moet word. Die ingewikkelde wisselwerking tussen verskeie faktore wat tot hierdie geweld lei, moet met nog groter erns aangepak word, en alle moontlike rolspelers sal baie aktiewer aan 'n gemeenskaplike agenda oor hoe om dit die beste te doen, moet saamwerk. Dit verg baie sterker politieke wil en etiese leierskap.
Dit is van uiterste belang om voort te gaan om kinders met veerkragtigheid en 'n sterk vaardigheidsbasis toe te rus sodat hulle, ongeag die swaarkry wat oor hulle pad kan kom, hulle ontwikkelingstake suksesvol in die verskillende stadiums van hulle lewe kan voltooi.
Vir kinders om veilig te wees, te groei, voorspoedig te wees en hulle volle potensiaal te verwesenlik, moet hulle in gesinsondersteuningstrukture en bevorderlike skool- en gemeenskapsomgewings ingebed wees. Ons is baie sensitiewer vir die krag van die konteks waarin ons ons bevind as wat ons dink.
Op Nasionale Kinderdag word ons weer aan Artikel 28 van ons Grondwet herinner wat bepaal dat “'n kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak". Ons is dit aan ons kinders verskuldig om hulle beste belange op die hart te dra.
*Dr Chris Jones is hoofnavorser in die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie en hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap by die Universiteit Stellenbosch.
?