肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-student wen prestigeryke prys vir toestel wat lewens kan red
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/11/2023

Maureen Etuket, 'n doktorale student in Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), is op 'n missie om moedersterftes weens oormatige bloeding ná geboorte (nageboortelike bloeding of PPH) te voorkom. Etuket, wat van Kampala in Uganda afkomstig is, sê sy het nog altyd die begeerte gehad om geneeskundige probleme op te los en tot die openbare gesondheidsorgruimte by te dra.

Vasbeslote om die lewens van miljoene moeders regoor die wêreld te help red, het sy en haar span by Pumzi Devices Uganda Limited 'n prototipe wat as die SMART PVD-toestel (SMART Postpartum Haemorrhage Volumetric Drape) bekend staan ontwikkel wat kan help om die diagnose en bestuur van bloedverlies na bevallings te verbeter. Hulle het onlangs die Mandela Rhodes-stigting se toekenning vir sosiale impak in Afrika – die 2023 ??nit-prys ter waarde van $38 000 (sowat R700 000) – vir dié uitvinding gewen.

Etuket, die oudste van vier sibbe, sê sy is dankbaar teenoor God vir hierdie toekenning, aangesien dit hulle baie sal help om die prototipe te voltooi en die toestel hopelik teen 2025 vir gebruik in hospitale beskikbaar te stel. Sy skryf die toekenning toe aan die hele span se harde werk.

Sy het Pumzi Devices in 2020 saam met dr Peter Kavuma, 'n noodgeneesheer by die Makerere Universiteit in Kampala, waar sy vir 'n baccalaureusgraad in Biomediese Ingenieurswese ingeskryf was, gestig.  Etuket, wat in 2021 met 'n beurs van die Mandela Rhodes-stigting na Suid-Afrika gekom het, wys daarop dat Pumzi Devices ten doel het om noodgesondheidsorgprobleme op te los deur biomediese ingenieursbeginsels te gebruik.

Nadat sy die lyding van vroue in hospitale in Uganda gesien het, sê Etuket het sy besef iets moet gedoen word om oormatige bloeding te voorkom.

“Terwyl ek met kliniese toetse in een van die hospitale in Uganda besig was, het ek ontdek dat baie van die verpleegkundiges net visuele skatting (met hulle o?) gebruik het om te bepaal of 'n vrou oormatig bloei nadat sy geboorte geskenk het. Toe ek hulle vra hoe hulle weet of 'n vrou PPH het, het hulle gesê hulle maak op ervaring staat om dié toestand te diagnoseer.

“Ek het toe begin verstaan waarom PPH soms 'n “stille dood" genoem word. Na afloop van die geboorte word die moeder op die bed gelos. Teen die tyd dat die verpleegkundiges en vroedvroue na haar terugkeer, het sy geen polsslag meer nie omdat sy so baie bloed verloor het."

Etuket het toe met studente vir wie sy klasgegee het by Kampala se Ernest Cook Ultraklank Navorsings- en Opleidingsinstituut, begin gesels oor hoe hierdie probleem aangespreek kon word. Só het hulle saam met die idee vir die SMART PVD-toestel vorendag gekom wat die hoeveelheid bloed wat na die bevalling verloor word, kan meet.

Etuket glo dié toestel kan die wêreld se verskil vir dokters, verpleegkundiges en vroedvroue in hospitale met 'n tekort aan personeel in kraamsale maak.

“Voordat 'n vrou geboorte skenk, word 'n bloedversamelinghouer aan die bed geheg sodat die bloed daarin kan vloei vir meting," verduidelik sy.

“Ons toestel het ook 'n elektroniese module wat ons in hierdie houer sit, en dit laat 'n alarm afgaan wanneer die bloed 'n sekere vlak bereik. Hierdie alarm waarsku dokters en vroedvroue om aandag te gee aan die vrou wat in gevaar kan wees. Die elektroniese module is nie aan die bloed gekoppel nie en raak dus nie aan die bloed nie.

“As jy in staat is om te weet hoeveel bloed 'n vrou verloor, kan jy betyds die nodige sorg lewer, want daar is beplanning daaraan verbonde. Soms moet die teater gereed gemaak word, soms is 'n bloedoortapping nodig. Die bloedbank moet in kennis gestel word sodat hulle 'n paar eenhede bloed kan voorberei. Soms moet die dokter betyds in kennis gestel word."

Hoewel die prototipe nog in die ontwikkelingsfase is, is Etuket vol vertroue dat die finale produk nie net in Uganda nie, maar ook in ander dele van die wêreld, veral in lae- en middelinkomstelande, grense in openbare gesondheidsorg sal verskuif.

“Oormatige bloeding ná geboorte is nie net in Uganda 'n probleem nie; dit is ook in ander dele van Afrika, insluitende Suid-Afrika, 'n bron van kommer. Ons moet maniere vind om oormatige bloeding ná geboorte te voorkom, aangesien dit volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie een van die grootste oorsake van moedersterftes wêreldwyd is. Vroue hoef nie hieraan te sterf nie."

Al is sy ver van die res van haar span, hou hulle een keer per maand aanlyn vergaderings om oor projekte, bemarking en die welstand van die groep te praat, sê Etuket. Sy het 'n uitsonderlike span in Uganda.

Etuket is passievol daaroor om jong innoveerders te ondersteun om hulle idees vorentoe te neem. Sy beplan om as deel van haar PhD by die US 'n lokaliseringspadkaart vir mediese toestelle in Suid-Afrika te ontwikkel deur 'n raamwerk vir innovasiestelsels te gebruik wat innoveerders kan help om die struikelblokke te oorkom wat hulle verhoed om hul idees in produkte vir die mark te omskep.

Sy het reeds die grondslag hiervoor gelê toe sy in 2022 haar meestersgraad in mediese innovasie aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. 

“Dit is 'n seldsame voorreg om 'n student soos Maureen te? te kom. Gegewe haar indrukwekkende prestasierekord as 'n innoveerder, is ek ongelooflik opgewonde oor haar potensiaal om haar PhD-navorsing na praktyk te oorbrug. Sy gaan golwe maak,” sê haar doktorale studieleier prof Sara Grobbelaar, Navorsingsgenoot by die DWI-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Wetenskapmetriek- en Wetenskap-, Tegnologie- en Innovasiebeleid aan die US??.?