肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitkoms van mosies - Buitengewone vergadering van die US Konvokasie
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en BemarkingSU
Gepubliseer: 03/06/2023

Die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) neem kennis van die uitslag van die buitengewone vergadering van die Konvokasie wat Donderdagaand, 1 Junie 2023 gehou is. Die vergadering is gelei deur afgetrede regter BM Griesel nadat die lede van die konvokasie wat die vergadering in persoon  bygewoon het, sy aanstelling as ad hoc-voorsitter vir hierdie buitengewone vergadering eenparig ondersteun het.

Die Konvokasie is 'n statutêre liggaam van die Universiteit met die doel, volgens die Statuut van die US, "om die welsyn van die Universiteit te bevorder deur ? wedersyds voordelige verhouding tussen die Universiteit en die lede van die Konvokasie te handhaaf".

Twee mosies deur lede van die Konvokasie is op die buitengewone vergadering gedebatteer en daaroor gestem. Die mosies is hier en hier beskikbaar. (Vir lede wat vir die aanlyn vergadering geregistreer het, is daar deur die President, Visepresident, en die twee voorstellers van die mosies op 'n 24 uur-stemperiode ooreengekom.)

Die eerste mosie, 'n mosie van wantroue in die uitvoerende komitee van die konvokasie, uitgesluit die visepresident, dr Rudi Buys, is aanvaar. Die lede van die uitvoerende komitee, uitgesluit die visepresident, sal nou hul posisies ontruim.

Die tweede, 'n mosie van wantroue in die visepresident van die konvokasie, is nie aanvaar nie.

Die US neem kennis dat behoorlike proses gevolg is en vertrou dat alle lede van die Konvokasie by hierdie uitkomste sal hou. Die Universiteit sal voortgaan om administratiewe en logistieke bystand te verskaf om die Konvokasie te ondersteun waar nodig.

  • Die US het nagenoeg 230 000 alumni.

 

EINDE

Die doel van die Konvokasie is volgens die Statuut van die US "om die welsyn van die Universiteit te bevorder deur ? wedersyds voordelige verhouding tussen die Universiteit en die lede van die Konvokasie te handhaaf, en mag die Raad, en die Senaat wanneer gepas, in hierdie verband adviseer". 

Die uitvoerende komitee ondersteun die Konvokasie in die verwesenliking van die doelwit en die verrigting van die funksies waarna in klousule 48 verwys word en gee uitvoering aan besluite van die Konvokasie, en moet aan die Konvokasie by die volgende vergadering verslag doen.

Die Konvokasie van die Universiteit bestaan uit: (a) alle persone aan wie ? kwalifikasie by ? kongregasie van die Universiteit toegeken is; (b) die rektor, die viserektore, uitvoerende bedryfshoof en die voltydse akademiese personeel van die Universiteit; en (c) voormalige voltydse akademiese personeel van die Universiteit wat die diens van die Universiteit verlaat het as gevolg daarvan dat hulle die aftree-ouderdom bereik het.

Die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie bestaan uit 5 persone: die President van die Konvokasie wat as voorsitter by vergaderings van die Konvokasie dien; die Visepresident wat as Voorsitter by vergaderings van die Konvokasie dien in die afwesigheid van die President; die Sekretaris van die Konvokasie; en twee lede verkies soos uiteengesit in 3.2  in die Prosedure vir die Nominasie en Verkiesing van die Konvokasie se Uitvoerende Komitee.