肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US betreur heengaan van prof Christo Viljoen
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/01/2023
?

Die Universiteit Stellenbosch (US) is hartseer om te verneem van die afsterwe vanoggend (13 Januarie 2023) van prof Christo Viljoen, 'n gewaardeerde lid van ons universiteitsgemeenskap.

Prof Viljoen het dwarsdeur sy lewe 'n beduidende plaaslike en internasionale impak as leier, navorser en leermeester gemaak – 'n groot deel daarvan in US-hoedanigheid.

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier sê prof Viljoen het sy lewe aan die verbetering van die Universiteit gewy. “Sy passie vir die US was tasbaar. Benewens sy reuse- bydrae as briljante akademikus, navorser en later dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, het hy 'n groot bydrae as onder meer Viserektor: Bedryf gemaak wat betref  die verbetering  van kampusinfrastruktuur.  Sy bydrae as toekomsdenker sal nog lank aan die US gemis word. ," sê prof De Villiers.

Prof Arnold Schoonwinkel, voormalige Viserektor: Leer en Onderrig, sê hy sal prof Viljoen onthou as 'n uitstekende dosent, administrateur en bestuurder wat ook 'n  ywerige belangstelling in die ruimte-ingenieurswese gehad het.

“Prof Christo het van die Sputnik- en Apollodae al 'n belangstelling in ruimte-ingenieurswese gehad. Hy was onder meer betrokke by 'n grondstasie wat in 1957 Sputnik se kenteken-seintjie in Stellenbosch ontvang het! In die negentigerjare en daarna was hy 'n groot ondersteuner van ons SUNSAT-projek en het die US se vlag  by elke geleentheid hoog hieroor gewapper."

Prof Viljoen is van Graaff-Reinet en het in 1955 sy studies aan die US begin en was hy sy lewe lank in verskillende hoedanighede aan die Universiteit verbonde. Nadat hy sy PhD in ingenieurswese aan die US voltooi het, het hy sy studies in Engeland (1960-61) voortgesit en as ingenieur in die (destydse) Departement Pos- en Telegraafwese in Pretoria (1962-65) gewerk.

Hy is in 1966 aangestel as Senior Lektor in die Fakulteit Ingenieurswese aan die US, en is in 1970 bevorder tot professor. Hy word in 1979 die dekaan van die fakulteit, 'n pos wat hy beklee het tot 1993 waarna hy die Viserektor: Bedryf word, tot met sy aftrede in 1998.

As visoenêre denker, het hy  da?arna die Kantoor vir Intellektuele Eiendom aan die US gestig (wat later Innovus geword het), waaruit hy in 2002 as Direkteur getree het. Hy het ook as die Besturende Direkteur van die Unistel Groep van Maatskappye opgetree.

In Maart 2006 is hy verkies tot lid van die US Raad. Tot en met 2016 het hy waardevolle bydraes as  President van die US se Konvokasie gemaak.

Verdere getuienis van sy baanbrekerswerk is dat hy'n deurslaggewende bydrae gelewer tot  die totstandkoming van Technopark. Hy het ook 'n aansienlike bydrae gelewer tot die skepping en vestiging van 'n kuberwoordeskat in Engels en Afrikaans.

Die US-gemeenskap se gedagtes is by sy familie en vriende.