肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Oorlewingstaalkursusse' kweek individuele meertaligheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 29/09/2021

?*Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid skep, bied die Afdeling Leer- en Onderrigverryking op 30 September 'n Taaldagkonferensie aan. As deel van hierdie viering van meertaligheid, vestig ons die aandag op van die projekte wat die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum onderneem.

Die Universiteit Stellenbosch se belegging in die skep en bevordering van individuele meertaligheid onder sy studente deur sy kursusse in Oorlewingsafrikaans en Oorlewingsxhosa begin werp vrugte af. Die kursusse, wat die Taalsentrum se Taalleerhub sedert 2018 aanbied, is spesifiek afgestem op voor- en nagraadse studente sonder enige voorafkennis van Afrikaans of Xhosa.

Sowat 30 studente het tot dusver die kursus in Oorlewingsafrikaans voltooi, en ongeveer 60 het Oorlewingsxhosa deurloop. Die Taalleerhub het vanjaar alleen meer as 80 navrae oor albei kursusse van belangstellende studente ontvang. Die taalkursusse, wat twee maal per jaar (een per semester) aangebied word, rus studente met basiese taal- en gespreksvaardighede toe.

“Ons beskou ons kursusse as blitskursusse; as 'n manier om op 'n uiters basiese en informele manier in sosiale ruimtes met ander om te gaan. Die einddoel is om studente ingesluit te laat voel," sê Helga Sykstus, 'n ko?rdineerder by die Taalleerhub. “Ons wil 'n veilige en prettige ruimte bied waar studente die selfvertroue kan bou om 'n nuwe taal minstens op die proef te stel. En hopelik raak hulle later nóg vaardiger danksy vriende en ander sprekers van die taal, en word deel van 'n groter taalgemeenskap. Meertaligheid gaan nie net daaroor om institusionele en individuele meertaligheid in die klas te bevorder nie; dit behels ook die aanmoediging van meertaligheid buite die klas, in sosiale en ko-kurrikulêre ruimtes."

Vorige kursusdeelnemers praat almal met die hoogste lof van die kursusse in Oorlewingsafrikaans en Oorlewingsxhosa. “Die leeromgewing was oop, inklusief, warm en prettig, wat baie met die leerervaring gehelp het. Tale is nie juis vir my nie, maar die aanbieder het 'n omgewing geskep waarin ons aangemoedig is om te leer, foute te maak, en aan te hou probeer. Die kursus was baie meer prakties as wat ek gedink het dit sou wees, en ek was mal daaroor," het een student in Oorlewingsafrikaans gesê.

“Die aanbieder is geesdriftig oor die taal, en sy het heeltyd seker gemaak dat almal ingesluit voel," het 'n medestudent in Oorlewingsxhosa gesê. “Haar energie was altyd positief en opbeurend – selfs as ek skaam was omdat ek iets dalk nie reg gesê het nie. Sy het baie grappies gemaak en die klas lewendig en wakker gehou."

'n Meertalige gesindheid

Hoewel die Taalsentrum 'n uitgebreide kursus- en diensteaanbod het om meertaligheid te bevorder, verstaan personeellede by die Sentrum ook die ontsaglike waarde van meertaligheid as 'n denkwyse.

Die koshuis Erica het die Taalsentrum vroe?r vanjaar gevra om 'n praatjie oor die waarde van meertaligheid in ons daaglikse omgang met mekaar aan te bied. Dít het deel uitgemaak van die koshuis se pogings om hulle waardes vir 2021, waaronder inklusiwiteit, prakties uit te leef. “Ons het in die praatjie die belang van meertaligheid én van 'n meertalige gesindheid onderstreep, selfs al kan jy net een taal praat," sê Sanet de Jager, 'n tolk by die Taalsentrum, wat die praatjie aangebied het. “Hulle het veral diep besin oor die idee dat die waarde van 'n gedagte nie afhang van die taal waarin jy dit verwoord nie; dat meertaligheid nie 'n las is nie, maar 'n geleentheid om jou vir nuwe geleenthede en ervarings oop te stel. Dit het nuwelingstudente baie gretiger gemaak om meer te leer oor mekaar se tale en die kulture wat dit verteenwoordig."

“Meertaligheid hou ook groot voordele in vir die brein en help gegradueerdes om hulle probleemoplossings-, luister- en interpersoonlike vaardighede beter te demonstreer. 'n Meertalige gesindheid stel mense in staat om afgeronde individue te wees, wat ingeligte besluite kan neem deur méér as net hulle eie sienings in ag te neem," voeg De Jager by.

Ander samewerkings

Die Taalsentrum bied ook taalverwerwingskursusse in Engels, Afrikaans en Xhosa vir internasionale studente aan, en voorsien Engelskursusse vir sowel plaaslike as internasionale studente. Sykstus sê hulle beoog om hulle aanbod na van die ander Afrikatale uit te brei, en kursusse in Suid-Sotho en Zulu sal volgende ondersoek word.

Samewerking strek boonop tot buite die Universiteit. Die Taalsentrum het in 2019 'n Xhosakursus vir personeellede van die wynplaas Leopard's Leap buite Franschhoek aangebied. Die Sentrum hoop om in die toekoms ook met ander wynlandgoedere saam te werk om soortgelyke kursusse vir hulle ontvangspersoneel, kelners en wynproepersoneel aan te bied. Kortkursusse wat op Afrikaans en Xhosa konsentreer, word ook vir lede van die publiek aangebied.

“Daar is soveel moontlikhede om taal as 'n werktuig vir kulturele integrasie te gebruik, en om waardering en respek vir diversiteit aan te moedig. Verdere samewerking tussen studentegemeenskappe, steundienste en ander tersaaklike partye sal die impak van hierdie inisiatiewe selfs verder versterk," sê Sykstus.?