肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geen opdrag om Afrikaans by die US te verbied nie, bevind Deloitte
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 14/06/2021

?Daar was geen US-bestuursopdrag om die gebruik van Afrikaans te verbied nie en koshuisleiers het nie 'n verbod op die gebruik van Afrikaans tydens die verwelkomingsperiode in Maart geplaas nie.

Dít is van die hoof-bevindinge van 'n onafhanklike forensiese ondersoek deur Deloitte, die US se ouditeurs, oor die implementering van die US se Taalbeleid (www.sun.ac.za/taal ) in die koshuisomgewing tydens die verwelkomingstydperk in Maart vanjaar.

In 'n skrywe aan personeel en studente vandag (14 Junie 2021) het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê dat 'n interne ondersoek onmiddellik van stapel gestuur is en dat die Sentrum vir Studentegemeenskappe dadelik begin het om met studenteleiers en studente in koshuise te skakel om te werk aan 'n gedeelde begrip van die Taalbeleid. “Wat ons betref, is die kwessies bevredigend opgelos."

Gegewe die erns waarmee die bewerings beskou is, is die saak ook na Deloitte verwys vir 'n onafhanklike forensiese ondersoek. Deloitte het klagtes wat verband hou met die Minerva, Irene en Francie van Zijl koshuise en die Capri privaat studente organisasie (PSO), ondersoek.

Daar is beweer dat, tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die 2021 akademiese jaar, studenteleiers en administrateurs by sommige US-koshuise glo studente verbied het om in Afrikaans met mekaar te praat, insluitend informeel.

Daar is in die media verslag gedoen oor die bewerings en klagtes is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aanhangig gemaak. Die Kommissie het ? ondersoek geloods 'n verhoor is op 10 Mei op Stellenbosch gehou. 

Die volledige verklaring wat by die verhoor deur prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gemaak is, is hier beskikbaar, terwyl 'n opsommende berig op die Universiteit se webwerf hier beskikbaar is. Die SAMRK het 'n tweede rondte verhore vir 14 en 15 Junie geskeduleer.

Ander bevindinge deur Deloitte sluit in dat verskeie huiskomiteelede uitgesluit gevoel het as gevolg van die gebruik van taal toe hulle destyds eerstejaars by Minerva was en wou dus die verwelkomingstydperk in 2021 meer inklusief maak. Die meerderheid nuwelinge aan die Universiteit het ingekoop in die idee om Engels ter wille van inklusiwiteit tydens die verwelkomingstydperk te gebruik, maar die omvang van implementering is nie aanvanklik duidelik gedefinieer en gekommunikeer nie, wat gelei het tot bespiegeling dat die Verwelkomingsprogram gebruik is om Afrikaanse taalregte weg te neem.

Aanbevelings

Die Deloitte-verslag het ook aanbevelings ingesluit wat breedweg by die US implementeer kan word. Die eerste hiervan is dat koshuisleiers oor die US Taalbeleid en die implementering daarvan in koshuise opgevoed moet word, asook oor klagteprosedures met betrekking tot die gebruik van taal.

Die US-rektoraat het kennis geneem van die bevindinge en aanbevelings en van die Deloitte-verslag en het onderneem om opleidingsprogramme oor meertaligheid te ontwikkel en hoe dit beliggaam en toegepas moet word; asook sensitiwiteitsopleiding met betrekking tot uitsluitende taal en gedrag.

Inligting oor die Taalbeleid in die US se institusionele verwelkomingsboekie sal uitgebrei word en meer gereelde verslagdoening vanuit studentegemeenskappe sal onderneem word.

In sy skrywe het prof Ramjugernath die versekering gegee dat die Universiteit verbind bly tot inklusiewe meertaligheid aan die US, veral met inagneming van die diversiteit van ons samelewing en die rykdom inherent aan daardie diversiteit.

“Soos die Rektor op 10 Mei in sy voorlegging aan die SAMRK gesê het, glo ons dat ons benadering tot taal ons studente meer keuses, bre?r toegang en 'n beter toekoms bied.

“Ons studenteliggaam het die vermo? getoon om probleme met betrekking tot die gebruik van taal op te los, bygestaan deur ons Sentrum vir Studentegemeenskappe. Ons wil selfs beter doen in ons hantering van die kompleksiteite en moontlikhede van meertaligheid. Die US is 'n plek van opvoeding – ons sal dus hierdie episode gebruik om die ervaring wat ons aan ons studente verskaf, te verbeter."