肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee eregrade, talle kwalifikasies by Maart 2021-hibridiese gradeplegtighede toegeken
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 25/03/2021

?Die Universiteit Stellenbosch (US) ken aanstaande week altesame 3 350 kwalifikasies toe by sy Maart 2021-hibridiese gradeplegtighede, wat 'n merkwaardige prestasie is gegewe die ongekende uitdagings wat studente verlede jaar in die gesig moes staar.

Bykomend tot die kwalifikasies, sal die Universiteit ook twee eredoktorsgrade toeken. Dit word toegeken aan me Louisa Mojela, 'n medestigter en jare lange uitvoerende groepshoof van Women Investment Portfolio Holdings (WIPHOLD); en prof Batmanathan Dayanand (Daya) Reddy, 'n wêreldbekende wiskundige.

Weens die COVID-19-pandemie sal die US 'n hibridiese gradeplegtigheidweek hou wat nege klein seremonies in persoon in die US Konservatorium vir doktorale graduandi, eredoktorsgrade en die ontvangers van die Kanselierstoekennings sal insluit, asook virtuele fakulteitspesifieke gradeplegtighede. Die gradeplegtighede word van 29 Maart tot 1 April 2021 gehou.

Eredoktorsgrade

Me Louisa Mojela sal die graad, Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, ontvang ter erkenning van haar innoverende bydrae tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika; vir haar visionêre leierskap om platforms te skep vir die bemagtiging van vroue in Afrika; en vir haar merkwaardige prestasies in die sakesektor.

Prof Batmanathan Dayanand Reddy sal die graad, Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, ontvang ter erkenning van sy navorsingsgemeenskap en wetenskaplike deurbrake; vir sy buitengewone bydraes om wetenskap nasionaal en internasionaal uit te bou en te bevorder; en vir sy bereidwilligheid om sy kennis en kundigheid te deel om studente op die gebied van rekenaardenke en toegepaste meganika te ontwikkel.

Sukses

Die US het vir die 2020-akademiese jaar altesame 9 079 kwalifikasies toegeken, wat die 3 350 kwalifikasies insluit wat gedurende die Maart 2021-gradeplegtighede toegeken sal word. Van hierdie 3 350 kwalifikasies is 133 doktorsgrade.?

Die US se Rektor en Visekanselier, Prof Wim de Villiers, het die graduerende klas geloof vir hul prestasies in 'n jaar “wat nie maklik vergeet sal word nie" en wat tereg as 'n uiters uitdagende tyd onthou sal word.

“Al die planne wat ons as Universiteit aan die begin van 2020 gehad het, is vinnig afgeskaal tot slegs twee oorhoofse oogmerke: om te sorg dat ons studente hul akademiese jaar kan voltooi en dat ons as instelling volhoubaar bly vir toekomstige innames. Ek dink ons het hierin geslaag," sê De Villiers.

“Toe kontakonderrig in Maart 2020 op alle kampusse landswyd opgeskort is, het ons blitsvinnig na aanlyn noodafstandsonderrig, -leer en -assessering oorgeslaan. Daar was wel haakplekke, maar die meeste is weldra uitgestryk. Dankie aan ons personeel (akademies én steundienste) en studente vir al die harde werk en opofferings wat dít moontlik gemaak het."

 

Meer oor die ontvangers van die eredoktorsgrade

Me Louisa Mojela is as medestigter en jare lange uitvoerende groepshoof van Women Investment Portfolio Holdings (WIPHOLD) baie bekend in die korporatiewe wêreld in Suid-Afrika. WIPHOLD wy hulle toe aan die bemagtiging van vroue en die skepping van ontwikkelingsgeleenthede.

WIPHOLD het onder haar leiding gegroei tot die land se voorste beleggingsmaatskappy wat deur swart vroue besit en bestuur word, met beleggings ter waarde van miljarde rande in 'n wye verskeidenheid nywerhede. Meer as 200 000 swart vroue is begunstigdes met direkte aandeelhouding van 33,6% in die beherende maatskappy deur middel van die WIPHOLD Beleggingstrust en WIPHOLD NGO Trust.

Me Mojela het 'n BCom-graad aan die Nasionale Universiteit van Lesotho behaal en het ook die uitvoerende leierskapsprogram by die Wharton-sakeskool in Pennsylvania in die VSA suksesvol voltooi.

Sy is 'n bekende persoonlikheid in die Suid-Afrikaanse korporatiewe wêreld en het in die rade van maatskappye soos Distell, Sun International, Sasol Mining en die Life Healthcare-groep gedien. Sy het al verskeie toekennings vir haar sakeleierskap en ondernemingsgees ontvang. Sy het in Mei 2009 die eerste Afrika-sakeleierskaptoekenning, wat deur die Afrika-ontwikkelingsbank ge?nisieer is, in Dakar ontvang. In 2010 het sy die Africa Economic Builders se entrepreneurtoekenning van die jaar in Abidjan in die Ivoorkus gewen.

Prof Batmanathan Dayanand (Daya) Reddy is 'n wêreldbekende wiskundige wat 'n merkwaardige loopbaan in volhoubare aktiwiteite om die wetenskaplike projek te versterk.

Prof Reddy, 'n A-gegradeerde wetenskaplike van die Nasionale Navorsingsinstituut, het sy wetenskapsreis in 1973 begin toe hy sy BSc in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UK) voltooi het, gevolg deur 'n PhD aan die Universiteit van Cambridge in die Verenigde Koninkryk.

Hy het 'n reusebydrae tot die ontleding van probleme in die meganika van vaste stowwe, veral in plastisiteit, gelewer. Hy geniet ook groot aansien wêreldwyd vir die ontwikkeling en ontleding van gemengde en verwante eindige-elementmetodes. Buiten dit, het hy ook baie bygedra tot aspekte van biomediese meganika.

Hy is 'n stigterslid van die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe, was voorsitter van 'n beheergroep van akademici wat die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Ho?verrigting Rekenaarswetenskap gestig het en is 'n stigtingsgenoot van die Akademie vir Ingenieurswese en Tegnologie in die Ontwikkelende Wêreld.

Hy was vir sewe jaar die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die UK, waar hy ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Rekenaarsmeganika in die departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde beklee het. Hy het aan die einde van 2020 by die UK afgetree.

*Me Mojela se eredoktrosgraad word by die gradeplegtigheid wat Dinsdag, 30 Maart 2020 om 09:00 begin, aan haar toegeken.  Prof Reddy ontvang sy eredoktorsgraad op 1 April by die gradeplegtigheid wat om 09:00 begin.