肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong nadoktorale genoot in chemie ontvang gesogte EU navorsingsbeurs
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/06/2020

Dr. Upenyu Muza, 'n nadoktorale genoot in die department Chemie en Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US), het 'n Marie Sklodowska-Curie Action individual fellowship ontvang om by die Leibniz Instituut vir Polimeernavorsing in Dresden, Duitsland te gaan navorsing doen.

Hierdie navorsingsbeurse wat deur die Europese Kommissie toegeken word, is van die mees toonaangewende navorsingsbeurse in Europa wat beskikbaar is vir jong opkomende navorsers wêreldwyd.

Dr. Muza wat oorspronklik van Zimbabwe is, het sy PhD in Desember 2019 verwerf onder die studieleiding van prof. Harald Pasch, uitgelese professor aan die US en die bekle?r van die SASOL Navorsingsleerstoel in Analitiese Polimeerwetenskap. Volgens Muza het die samewerking met prof. Pasch sy ondervindingswêreld drasties uitgebrei: “Prof. Pasch werk aan projekte van internasionale gehalte en is 'n fenominale mens om mee saam te werk."

Vir sy PhD het hy 'n nuwe, gevorderde multidimensionele analitiese tegniek ontwikkel wat gebruik kan word om 'n magdom inligting oor die mikrostruktuur van komplekse polimere mee in te samel. Gedurende 2019 was hy ook een van vyf nagraadse studente in Suid-Afrika aan wie die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) 'n SASOL nagraadse medalje toegeken het vir innoverende, onafhanklike en ondernemende navorsing.

Hy beplan om in die afsienbare toekoms te werk aan die ontwerp, hibridisering en karakterisering van biomedisinale molekules vir moontlike toepassing in geteikende middelaflewering in kankerterapie.

Dr. Muza sê hy is nog altyd betower deur chemie, selfs op laerskool waar hy met elementêre dinge soos titrasies en die periodieke tabel te doen gekry het: “Ek beskou chemie as die sentrale wetenskap. Dit is die punt waar ander wetenskapsdissiplines soos Biologie en Fisika ineenloop. Chemie kan inderdaad uitdagend wees, maar jy kan daarvan hou!"

Sodra die reisbeperkings as gevolg van die COVID-19-pandemie gelig word, sal hy in Dresden by Prof. Albena Lederer se navorsingsgroep by die Instituut vir Polimeernavorsing aansluit. Intussen leer hierdie jong man om Duits te praat, lees en skryf ten einde hom so goed as moontlik vir sy oorsese navorsing voor te berei.