?Voedselwetenskaplike dr Paul Williams is een van 13 internasionale navorsers wat deur SPIE, die internasionale vereniging vir optika en fotonika, in hul 2020 DSC Rising Researchers-groep ingesluit is. Dr Williams is 'n dosent en navorser in die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Agriwetenskappe.
Hy is die enigste akademikus onder die dertien wat nie aan 'n Amerikaanse Universiteit verbonde is nie. Die groep sal op 27 April 2020 by die SPIE Defence + Commercial Sensing (DCS) 2020 konferensie
in Kaliforni? in die VSA erkenning ontvang.
Volgens 'n persverklaring deur SPIE is dit reeds die vierde jaar dat die Rising Researcher-inisiatief aangebied word. Dit erken professionele persone in die vroe? stadium van hul loopbane wat reeds uitstekende werk doen in terme van produkontwikkeling of navorsing in die velde van verdediging, kommersi?le en wetenskaplike waarneming, afbeelding, optika, of verwante velde soos sterrekunde en voedselwetenskap.
Dr Williams sal by SPIE DCS 2020 kans kry om voorlopige bevindings aan te bied oor hoe hy naby-infrarooi (NIR) hiperspektrale beelding gebruik om tussen die vleis van verskillende soorte wildsbokke te onderskei, asook tussen verskillende snitte vleis. Dr Willliams en sy studente gebruik tans NIR om 'n ID-metode te ontwikkel wat tussen die vleis van Suid-Afrikaanse wildspesies soos springbok en blesbok kan onderskei. Soortgelyke werk is reeds deur ander navorsers op kangaroe- en rendiervleis gedoen.
Dr Williams sê hy het die goeie nuus oor sy insluiting in die Rising Researcher-groep in mid-Desember ontvang. Hy was op wittebrood, maar moes eposse nagaan wat verband gehou het met 'n belangrike befondsingsaansoek. "Befondsers gee nie om oor wittebrode nie," lag hy net goedig.
Sy navorsingsveld gaan in wese oor die interaksie van lig met 'n produk, en hoe hoogs sensitiewe kameras in afbeeldingsinstrumente verskillende chemiese seine optel en dit in bruikbare beelde kan omsit.
“Met NIR kan ons chemiese verskille of ooreenkomste op die rekenaar waarneem wat ons nie met die blote oog kan sien nie. Dit laat ons toe om die moontlike verskille of ooreenkomste te visualiseer tussen verskillende materiale of objekte, van kos tot minerale. Elkeen het sy eie chemiese sein," vertel hy.
Dr Williams sê hy het met sy werk oor wildsvleis begin weens voedselbedrog. "As 'n bok eers geslag is, kan mens nie sommer met die blote oog koedoe van springbokvleis onderskei nie. Ons kort metodes waarmee ons dit kan doen."
Die bestaande DNS-gebaseerde metodes wat tans gebruik word, is baie duur en kan tydrowend wees.
"Ons NIR studies het reeds duidelike chemiese verskille gewys tussen verskillende spesies se vleis, soos blesbok en springbok, en dat mens tussen verskillende spiere in hul liggame kan onderskei," verduidelik hy.
Dr Williams spesialiseer in die gebruik van vibrasie-spektroskopie en afbeeldingstegnieke, soos NIR-spektroskopie en hiperspektrale en multispektrale beeldanalise. Hy is ook ge?nteresseerd in data-analise. Juis daarom het hy vanjaar weer sy studies hervat, en is deel van die eerste inname van studente om 'n nuwe nagraadse bedryfsingenieursdiploma met 'n fokus op datawetenskap aan die Universiteit Stellenbosch te volg.
Dis 'n veld waarmee hy reeds sedert sy meestersgraaddae as student onder leiding van prof Marena Manley van die Departement Voedselwetenskap betrokke is.
Een woord het destyds sy belangstelling daarin geprikkel.
"Ek het op 'n keer met prof Manley gesels oor moontlike nagraadse navorsingsopsies. Deur die loop daarvan het sy die woord 'chemometrie' genoem. Dit het my gefassineer, alhoewel ek nie toe geweet het wat dit beteken nie," onthou hy hoedat hy die eerste keer kennis gemaak het met die wetenskap rondom ontleding van inligting en data wat chemiese sisteme bevat.
Na dié gesprek het hy die woord op die internet gaan naspeur, en vasgestel dat dit 'n kombinasie van wiskunde, statistiek en ook 'n skoot rekenaarprogrammering behels.
"Ek't eenvoudig geweet dis wat ek wou doen," beklemtoon Williams, wat oor die jare homself geleer het om basiese kodering te doen.
In 2007, die jaar waarin sy meestersgraadstudies in Voedselwetenskap 'n aanvang geneem het, het hy sy eerste konferensie oor NIR in Swede bygewoon. Dit was rigtingbepalend.
Daarna het hy ook die NIR-tegniek in sy PhD-studies gebruik, op soek na 'n nie-destruktiewe metode waarmee mens die gehalte en veiligheid van mieliekorrels kan evalueer.
Een van sy huidige doktorale studente, Kate Sendin, het sedertdien voortgebou op sy aanvanklike werk. Sy het 'n "lite" weergawe van 'n NIR hiperspektrale stelsel ontwikkel waarmee mens relevante toetse op mielies buite die laboratorium kan doen.
"Die volgende stap is nou om ingenieurs en ontwerpers te betrek om 'n goedkoper, meer spesifieke stelsel te ontwikkel wat kommersieel gebruik kan word in die bedryf deur byvoorbeeld silobestuurders," hoop hy.
- Dr Williams het reeds 19 artikels in eweknie-beoordeelde joernale gepubliseer en het studieleiding tot met voltooiing aan 2 PhD- en 10 MSc-studente verleen.