肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Gerhard Walzl – ‘n TB-navorser wat sy merk maak
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 30/09/2019

As jongman was prof Gerhard Walzl 'n ambisieuse internis en longspesialis wat graag sy kundigheid in intensiewe sorg-eenhede wou inspan. Die posisie waarop hy ná sy oorsese PhD-studies sy oog gehad het, was egter nie meer beskikbaar nie. Bra onwillig het hy toe maar as Plan B 'n navorsingspos oor die siekte tuberkulose (TB) aanvaar. Vandag staan dié gedrewe buitengewone professor aan die stuur van 'n navorsingspan aan die Universiteit Stellenbosch (US) van by die 75 mense, en lei hy 'n groep wat baanbrekerswerk doen om TB-biomerkers te identifiseer.

Prof Walzl is die spreker by die Afdeling Navorsingsontwikkeling se volgende Forward with Research Impact-lesingsreeks, op 3 Oktober 2019 in die Ou Hoofgebou (kamer 1028).

Hy is 'n uitgelese professor in die US Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Departement Biomediese Wetenskappe, 'n entiteit waarvan hy reeds sedert 2017 uitvoerende hoof is. Hy lei ook die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika, direkteur van die Immunologie Navorsingsgroep (SU-IRG) en leier van die NNS Leerstoel vir TB Biomerkers.

'n Man met baie hooi op sy vurk, dus. Tog reken kollegas dat hy te midde van baie verantwoordelikhede, vergaderings en ewigdurende befondsingsaansoeke altyd 'n glimlag op die gesig het, en iewers 'n minuut vir hulle afknyp.

Deurbrake

Walzl, daarenteen, beskryf homself as intens. Gedrewe. Gefokus op die werk wat gedoen word.

Want TB bly steeds 'n probleem.

“Ek het gehoop dat ons teen hierdie tyd al verder (met navorsing) sou kon wees," erken Walzl, wie se navorsingspan die eerste was om spesifieke biomerkers vir verskillende variasies van TB te bepaal.

Biomerkers gee 'n aanduiding van iemand se kanse om 'n siekte te ontwikkel of op behandeling te reageer. Dié werk aan die US word sedert 2005 reeds vir drie befondsingsiklusse deur die Bill en Melinda Gates Stigting befonds.

“'n Biomerker maak voorspellings, lank voor die kliniese uitkoms bereik is. Dit kan mens wys wie gaan goed doen of sleg doen op behandeling, of vir wie 'n middel gaan werk, of wie 'n ho? risiko het om 'n siekte te ontwikkel, lank voordat standaard toeste dit kan aandui. Dit lees die liggaam se eie verdedigingsmeganismes teen siektes," verduidelik Walzl.

'n Vingerprik-toestelletjie waarin dié biomerkers ingespan word, is in 2018 bekendgestel. Dit herinner baie aan 'n standaard diabetestoets waardeur 'n uitslag redelik vinnig danksy 'n druppel bloed verkry kan word. Walzl hoop dat dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie onderskryf sal word. Dit word binnekort in Suid-Afrikaanse gemeenskappe getoets.

“TB 'n moeilike siekte, omdat die Mycobacterium organisme so goed aangepas het om in die liggaam te oorleef," reken Walzl.

Dit frustreer hom dat relatief min geld vir TB-studies beskikbaar is. Dit kry byvoorbeeld 20 keer minder befondsing as HIV-navorsing, en wyd minder as sogenaamde eerste wêreldkondisies soos kankers, asma, harttoestande en verouderingsiektes soos Alzheimers.

“Die siektes van armoede kry min geld, al is dit 'n potensi?le tydbom wat die hele wêreld kan tref weens toenemende migrasie uit die ontwikkelende wêreld," waarsku Walzl.

Nog 'n tydbom is die wyse waarop die kieme wat siektes soos TB, longontsteking en wondinfeksies veroorsaak middelweerstandig word weens die grootskaalse misbruik van antibiotika.

“Mense wat met infeksies werk is bekommerd dat ons terug beweeg na 'n pre-antibiotiese era, waar daar eenvoudig onbehandelbare infeksies is," kom dit pessimisties. “Vir die eerste keer in 60 jaar het ons nuwe antibiotika vir TB, maar ongelukkig weet ons dat oor 'n paar jaar daar ook wydverspreide weerstandigheid daarteen kan wees."

Walzl is passievol oor wetenskap en veral biologie: “Ek wil weet hoe dinge werk. En ek dink ek's in 'n baie gelukkige posisie dat ek my passie met my beroep kan uitlewe."

Mense is ook vir hom belangrik. Daarom wil hy graag deur sy beroep 'n verskil maak: “Ek wil graag beter lewensomstandighede sien vir ons bevolking. Ek wil graag sien dat daar geleenthede is vir mense, in die samelewing of hier by my in ons navorsingsgroep. Ek wil geleenthede vir my studente gee sodat hulle hulself kan ontwikkel, en die beste word wat hulle kan wees. Dís vir my belangrik."

Die lewe van 'n TB-navorser

Walzl reken hy't besluit om 'n dokter te word omdat sy eie pa weens die Tweede Wêreldoorlog met net 'n halwe mediese graad vanuit Oostenryk na Suid-Afrika gekom het. Daarna het hy as chemiese patoloog by Onderstepoort gewerk.

Na sy eie suksesvolle mediese studies aan die Universiteit van Pretoria het Walzl Junior in die laat 1980's twee jaar in Oostenryk as jong dokter gewerk. Daar het 'n ouer spesialis sy vaardighede in noodmedisyne raakgesien, en hom heelwat meer ondervinding binne intensiewe sorg-eenhede gegee as waarvan hy ooit sou kon droom. Hy't vir homself 'n ambisieuse pad in die mediese wêreld begin uitstippel, deur in Suid-Afrika eers as internis en daarna in pulmonologie te spesialiseer. Teen die tyd dat hy in 1997 Engeland toe vertrek het om op aanbeveling van sy kollegas 'n doktorsgraad aan die Imperial College London te voltooi, was hy reeds hoof van die Mediese Intensiewe Sorg-eenheid van Tygerberg Hospitaal. Sy PhD was oor hoe 'n infeksie iemand se immuunsisteem kan verander sodat dit anders reageer op 'n daaropvolgende infeksie deur 'n ander patogeen.

Terug in Suid-Afrika in 2002 was sy ou pos egter reeds gevul. Daar was wel 'n opsie oop in 'n piepklein TB-navorsingsgroep wat so te sê doodgeloop het na die onverwagse afsterwe van die dryfveer daaragter.

Hy was aanvanklik nie te opgewonde daaroor om mediese torakoskopi? en intervensionele pulmonologie vir laboratoriumwerk te verruil nie. Die kere wat hy as ho?rskoolseun sy pa in dié se tuislaboratorium met proewe moes help, het nie juis vir hom uitgestaan nie. Gelukkig het hy gedurende sy PhD-jare 'n affiniteit vir eksperimentering begin ontwikkel, en agtergekom hoe mens die maksimum voordeel uit 'n eksperiment kan kry.

Verlede jaar het hy 'n toekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ontvang vir wat uiteindelik sy lewenswerk sou word.

In die vroe? 2000's was daar net twee ander kollegas saam met hom in sy navorsingsgroep. Een van hulle is steeds aan sy sy. Vandag maak daardie einste groep omtrent 'n derde uit van die meer as 200 studente en personeel in die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika.

“Ek is net die dirigent; hulle doen die werk. Dis mense wat ek kan vertrou," vertel hy oor die lojale span wat rondom hom vergader is.

Tydverdrywe

Vir ontspanning draf hy, of ontlaai op reis in sy 4x4. Sedert sy universiteitsjare het hy tussen werk- en gesinsverpligtinge deur egter nie weer kans gehad om sy lieflingsportsoort skerm te beoefen nie.

Is daar ooreenkomste tussen skerm en 'n loopbaan in die wetenskappe?

“Beslis. Dit leer jou om te fokus. Om 'n geleentheid sien of te skep en blitsvinnig uit te voer. Dis 'n sport vir 'n intense persoon."