肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herstelwerk aan Huis ten Bosch begin eersdaags
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 02/09/2019

?

Die proses om 'n beter Huis ten Bosch vir 2020 te herbou, sal vandeesweek begin.

Hierdie vertroue is verlede week deur die Universiteit Stellenbosch (US) se bedryfshoof, prof Stan du Plessis, uitgespreek by die personeelbyeenkoms wat op 27 Augustus 2019 gehou is. “Die kontrakteurs is reeds aangestel en ons wil so vinnig as moontlik met die herstelproses begin, terwyl dit steeds aan ons gehaltevereistes voldoen. Huis ten Bosch moet 'n verbeterde fasiliteit wees wanneer ons klaar is. Ons gaan probeer om aanstaande jaar gedeeltes van die koshuis geleidelik oop te stel namate die projek vorder. Hoewel daar nog baie is wat gedoen moet word, het ek volle vertroue dat ons 'n beter Huis ten Bosch in 2020 gaan lewer," het prof Du Plessis gesê.

Dit is drie weke sedert die verwoestende brand in die US se vrouekoshuis, Huis ten Bosch. Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van die koshuis is heeltemal in die brand vernietig wat Maandagaand, 12 Augustus 2019 omstreeks 19:00 uitgebreek het.

Sedert die ramp, wat agt kamers in puin gelê het, het die bestuur, personeel en studente van die US, asook lede van die gemeenskap reusesteun aan die 164 inwoners van die Huis ten Bosch gegee. Hulle is sedertdien na alternatiewe verblyf verskuif.

Du Plessis het by die personeelbyeenkoms almal geloof vir hul voortgesette ondersteuning om die studente wat deur die brand geraak is, te help.

“Ek wil al die vriende en familie van die Huis ten Bosch-studente, asook lede van die gemeenskap wat tydelike huisvesting aan die studente gedurende daardie eerste paar dae ná die brand verskaf het, bedank. Ons het ook ruimhartige skenkings ontvang om die studente wat hul persoonlike besittings verloor het, te help."

Die Universiteit het ook die nodige berading- en ondersteuningsdienste aan die studente wat geraak is, beskikbaar gestel met behulp van die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling se 24-uur krisissentrum.

'n Assessor het Huis ten Bosch besoek om die skade te bepaal en het sedertdien die proses om die koshuis te herstel, aan die gang gesit.

Volgens prof Du Plessis, het die Universiteit 'n gebeurlikheidskomitee, bestaande uit toepaslike personeel en ander belanghebbers, insluitende studenteleiers asook die US se versekeraars, saamgestel om die brand en die nagevolge daarvan te hanteer. Die komitee het vir die eerste net nadat die brand onder bedwang gebring is, vergader en het sedertdien nog vier keer vergader. 'n Finale vergadering is Vrydag gehou waarna die uitstaande sake deur die onderskeie verantwoordelikheidsentrums van die Universiteit hanteer sal word.

Inwoners van Huis ten Bosch sal nie vir die res van die jaar na hul kamers in die koshuis kan terugkeer nie. Alternatiewe verblyf is aan hulle almal verskaf. Gedurende die afgelope drie weke het die Universiteit ook studente bygestaan met onder meer etes op kampus, vervoer en toegang tot skootrekenaars vir diegene wat hulle s'n in die brand verloor het.

  • Volg gerus die Universiteit se webtuiste en sosialemediaplatforms vir verdere nuus. Ons sal op 'n gereelde grondslag verdere inligting verskaf soos dit beskikbaar word.