肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe nagraadse diploma vir agronome in
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 07/08/2016

Leergieriges wat in die saad- of kunsmisbedryf betrokke is of hul kennis oor gewasboerdery en onkruidbestuur wil uitbrei, kan naderskuif vir 'n nuwe nagraadse diploma in Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dit word vanaf 2017 deur die US se Departement Agronomie aangebied en bied spesifiek verdere in diepte opleidingsgeleenthede aan mense wat nie hul naskoolse agronomiekennis aan 'n universiteit ontvang het nie, maar eerder 'n landboukollege of universiteit van tegnologie.

Dit is deur kundiges by die Universiteit Stellenbosch ontwikkel. 

Kursusko?rdineerder dr PJ Pieterse van die US Departement Agronomie het die volgende vrae rondom die kursus beantwoord:

V. Hoekom word die diplomaprogram ingestel?

A. Daar is altyd 'n behoefte by mense wat reeds etlike jare in die bedryf is om hul kennis op te skerp oor die nuutste ontwikkelings, praktiese toepassings en navorsing. Die ontwikkeling van die kursus spruit uit versoeke vanuit die bedryf vir die verdere gevorderde en uitgebreide ondersteuning van mense wat 'n landboukwalifikasie in agronomie agter hul naam het, maar nie noodwendig oor 'n BScAgric beskik nie omdat hulle aan 'n landboukollege of universiteit van tegnologie (voorheen bekend as "technikons") studeer het.

V. Word die kursus voltyds of deeltyds aangebied?

A. Dit kan voltyds oor een jaar gedoen word, of deeltyds oor twee jaar versprei word sodat mense wat reeds werksaam is ook baat daarby kan vind sonder dat hulle hul poste moet prysgee.

V. Uit watter beroepsvelde behoort jul voornemende student te kom?

A. Van ons voornemende studente werk tans in die saad- of kunsmisbedryf, terwyl ander betrokke is met die verskaffing van chemiese gewasbeskerming. Sommige van die mense wat reeds belangstel om die kursus te volg, is tans nog besig met hul opleiding aan 'n landboukollege of universiteit van tegnologie en wil direk nadat hul gegradueer het hul studies aan die US voorsit om hul kennis verder met hierdie diploma te verdiep.

V. Watter agtergrond moet studente hê wat hiervoor wil inskryf?

A. Dis gemik op mense in die bedryf of pasafgestudeerde studente wat reeds 'n agtergrond in agronomie het danksy die driejarige opleiding daarin wat hulle aan 'n landboukollege of 'n universiteit van tegnologie verkry het. Hulle beskik egter nie oor 'n BScAgric-graad nie, maar eerder 'n BSc-graad of 'n BTech-graad.

V. Watter kwalifikasies moet die persoon hê om tot die kursus toegelaat te word?
A. Enige driejarige graad met Agronomie as een van hul finalejaarsmodules. Hulle moes ook 'n minimum slaagpunt van 60% behaal het in dié vakgebied. Dit is NIE vir mense wat reeds met 'n BScAgric gegradueer het nie, en lei NIE noodwendig na verdere studies op meestersgraadvlak nie.

Die kursus bied dus aan mense wat op so 'n wyse 'n driejarige landboukwalifikasie verwerf het die kans om verder te studeer – 'n geleentheid wat nie oor die algemeen geredelik beskikbaar is nie.

V. Watter spesialisvelde in agronomie word gedek deur die loop van die kursus?
A. Wanneer dit by weidingsbestuur kom sal beide aangeplante en natuurlike veld bestudeer word. Daar word ook onder meer gefokus op koelweergewasse, alternatiewe gewasse, onkruidbestuur, hidroponiese verbouiingstelsels en hoe om gewasrotasies ten beste te doen. Klem word ook gelê op voeding vir groentegewasse wat intensief en ekstensiewe verbou word.

V. Watter modules word gevolg?
A. Modules word aan die hand van praktiese opdragte, geskrewe opdragte, toetse en skriftelike eksamens in Junie en November geassesseer. Studente kan gereed maak vir verpligte modules oor:

  • Gewasse vir ekstensiewe produksiestelsels
  • Die fisiologiese en ekologiese beginsels van weiveldbestuu
  • Onkruidbestuur
  • Produkfisiologie en tegnologie wat geskik is vir eenjarige akkerbougewasse
  • Intensiewe gewasproduksiestelsels

V. Hoe sal student hul nuwe kennis in die werkplek kan toepas?
A. Die uitgebreide kennis wat hulle sal verkry sal kursusgangers in staat stel om probleme wat kan ontstaan in enige van bogenoemde spesialisvelde te identifiseer, reg te stel en ten beste te bestuur. Hulle sal byvoorbeeld voedingsprogramme vir hidroponies verboude gewasse kan saamstel, onkruidbestuursprogramme kan opstel en gewasrotasies vir verskillende omgewings kan ontwikkel.

Vir meer navrae oor die kursus, kontak dr PJ Pieterse van die US Department Agronomie by pjp@sun.ac.za of 021 808 4805 of me Rahkeenah Peters  rosman@sun.ac.za by 021 808 4803.