?Daar word gewoonlik in Vrouemaand besin oor Suid-Afrika se vordering met die hantering van geslagskwessies, en oor hoeveel nog gedoen moet word. Maar nou voer twee nagraadse navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) hierdie gesprekke in Erfenismaand verder.
Lesedi Itumeleng Mashego en Thabolwethu Tema Maphosa is meestersgenote verbonde aan Prof Pumla Gobodo-Madikizela se Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na herstel (AVReQ). Albei doen 'n MA-graad in Sielkunde, en gee die toon aan met hul navorsing oor die verstaan van geslag en identiteit. Mashego ondersoek swart vroulikheid met 'n fokus op moeder-dogter-narratiewe; Maphosa kyk hoe bevrydingsleiers stereotipes van swart manlikheid uitgedaag het.
Saam tree hul werk in dialoog oor kwesbaarheid en wat dit beteken om sterk te wees, asook hoe menswees helend herinterpreteer kan word.
'Sterk swart vrou' bevraagteken
Mashego is in Pretoria gebore en het aan die Oos-Rand grootgeword. Haar pa, Mpho, is die direkteur van 'n farmaseutiese onderneming; haar ma, Monica, is 'n verpleegkundige en vroedvrou wat dikwels 12-uur skofte by 'n openbare hospitaal werk.
“Sy het uitgeput huis toe gekom en steeds die huishouding aan die gang help hou," onthou Mashego. “Destyds het ek gedink dis maar net wat ma's doen. Later het ek besef hoe moeg sy moes gewees het."
Geeneen van die vroue in haar familie het die skadukant van daardie uithouvermo? getoon nie – die perke, die uitputting, die krake. Dit het Mashego met 'n blywende vraag gelaat: Word die 'sterk swart vrou'-identiteit gekies, of afgedwing?
Sy wou weet wat agter hierdie etiket lê. “Ons vier dit, maar my navorsing vra: Wat is die prys daarvan om die heeltyd sterk te moet wees? Wat kos dit vroue en die samelewing?"
Toe maak sy dít die fokus van haar MA-studie. Vir haar verhandeling voer sy onderhoude met swart vroue tussen 18 tot 29 jaar oud oor hul verhouding met hul moederfigure. Sy noem haar benadering “empatiese kritiek" – sy verwerp dit nie om sterk te wees nie, maar vra wat beteken dit as vroue waardeer word slegs vir hul vermo? om te volhard.
Haar studie is “uiters persoonlik," sê sy. “Namate ek ouer geword het, het ek my ma nie net in daardie rol begin sien nie, maar as 'n mens in eie reg met haar eie beperkings. Daardie besef stuur my navorsing."
Vrouedag in Suid-Afrika dateer terug na die deurslaggewende moment op 9 Augustus 1956 toe sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het uit protes teen die paswette van apartheid. Hul slagspreuk was, “Wathint' abafazi, wathint' imbokodo" – slaan aan 'n vrou, en jy slaan 'n rots.
Maar Mashego bevraagteken hierdie metafoor. “'n Rots is net 'n ding – iets waaraan jy kan kap tot dit verbrokkel. Dit sê dat swart vroue enigiets kan verduur. Maar ons kán breek. Ons moet ook gesien word as sag, as mense wat sorg en beskerming nodig het."
Sy verbind dít met die krisis van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika. “Ons het 'n geskiedenis van geweld, veral geweld teen swart vroue. Dink aan die verkragting van vroue wat slawe in die Kaap was. Daardie geskiedenis is genormaliseer – regdeur kolonialisme en apartheid, tot in die huidige tydvak."
Mashego se navorsing raak ook aan die xenofobie van die hede. Ge?nspireer deur stories wat haar ma gedeel het oor haar werk met pasi?nte, het sy vir haar honneursgraad gekyk na swanger migrante uit die res van Afrika wat as sondebokke uitgesonder word in 'n gesondheidstelsel onder druk.
Sy beskou die woede wat uitgespreek word deur Operasie Dudula – 'n vigilanteveldtog wat teen uitlanders protesteer – as misplaas. “Om vroue mediese sorg te verbied omdat hulle immigrante is, is onmenslik. Die probleem lê by beleid en dienslewering, nie by die pasi?nte nie."
Haar feminisme, beklemtoon sy, gaan nie daaroor om vroue teen mans op te stel nie. “Ek het grootgeword met 'n liefdevolle pa en ondersteunende broers, en ek is in 'n sorgsame verhouding. Ek weet dat nie alle mans gewelddadig is nie. Maar baie vroue staar geweld in die gesig. Wat ons nodig het, is eerlike gesprekke tussen swart vroue en swart mans, want beide groepe dra bagasie van geweld. Sonder daardie dialoog sal die siklus voortduur."
Haar boodskap aan jong vroue? “Omarm sagtheid. Dit beteken nie jy kan nie ook sterk wees nie. Maar moenie toelaat dat die samelewing jou verhard nie. Behandel jouself met dieselfde genade wat jy aan ander betoon."
Teerheid in swart manlikheid herontdek
Vir Maphosa is die ander kant van die muntstuk die heroorweging van wat dit beteken om 'n swart man te wees. Vir sy meestersgraad kyk hy na “post-patriargale manlikheid" deur die lewens van die bevrydingsleiers Robert Sobukwe en Joshua Nkomo.
Sobukwe word onthou as die vasberade stigter van die Pan Africanist Congress in Suid-Afrika; Nkomo as 'n nasionalistiese leier in Zimbabwe. Maar Maphosa soek na momente toe hulle ook in 'n ander opsig stroomop geswem het.
Hy sê Sobukwe het eenkeer aan 'n vriendin geskryf dat hy “nie in die regte emosionele stemming" was om 'n roman te lees wat sy vir hom in die tronk gestuur het nie. En dat Nkomo geskryf het oor hoe hy sy vrou se trane gedeel het toe hulle tydens onafhanklikheidsvieringe uitgesluit is.
“Hierdie momente toon 'n teerheid wat selde erken word," verduidelik Maphosa. “Patriargie sê vir mans dat emosies swakheid is. Maar hier het ons sterk leiers gehad wat nie bang was om ook hul kwesbaarheid te wys nie."
Dit het persoonlike betekenis vir hom. “Ek het grootgeword as 'n baie emosionele kind, die laatlammetjie wat sy gevoelens graag gewys het," vertel hy.
“Ek is dikwels geboelie, en in 'n stadium het ek geleer dat ek as 'n man nie veronderstel was om te huil nie. Maar vir my ma was huil nooit 'n probleem nie. Sy het altyd gesê: 'As jy huil, word jou hart ligter'."
Maphosa se pa is oorlede toe hy tien was. Hy het ná aan sy ma, Mildret, grootgeword. Toe sy kla dat sy slegs 'n Engelse naam gekry het, nie 'n Ndebele-naam nie, het hy haar 'n tweede naam gegee – Gugulabazali, wat beteken “die een wat deur hul ouers gekoester word".
As township-kind in Bulawayo het hy nooit gedink hy sal eendag universiteit toe in Suid-Afrika kan gaan nie, maar sy broers het almal geldelik bygedra om sy droom te bewaarheid.
Om hier te wees, is egter vir Maphosa ingewikkeld. “Ek het 'n gevoel van verbintenis ... totdat ek my paspoort toon," sê hy. Hy het self nog nie erge vreemdelinghaat ervaar nie, maar xenofobie – ook teenoor akademici – maak hom bekommerd oor sy toekoms. Hy vind aansluiting by die plakkersbeweging Abahlali baseMjondolo, wat koloniale grense verwerp.
Maphosa het al po?sie in Medium gepubliseer, en is ook 'n imbongi ('n lofdigter). Hy beskou kultuur as dinamies, nie staties nie. “Kolonisering het probeer om ons in 'n enkele beeld vas te vang. Maar om 'n Afrikaan te wees, is nie net een ding nie. Ek weier die eenduidige storie."
Sy honneursverhandeling aan die Universiteit van Kaapstad het oor mans en emosie gehandel – hoe hulle die einde van liefdesverhoudings hanteer. Hy het die konsep van “patriargale toesig" geskep: die manier waarop mans voel hulle word konstant dopgehou, selfs wanneer hulle alleen is, om te sorg dat hulle aan streng kodes van manlikheid voldoen.
Nou, vir sy meestersgraad, vra hy of politieke omwenteling ruimte kan skep vir alternatiewe konsepsies van manlikheid – nie “ikoon-messias" of rebel nie, maar gewoon umuntu (mens).
Hy sê in sy studieleier aan die US se Departement Sielkunde, prof Kopano Ratele, het hy die vaderfiguur gevind wat hy nooit gehad het nie. Sy mentorskap spoor Maphosa aan om anders oor manlikheid te bly dink.
Maphosa se studie is ook met sy lewe vervleg. “Ek kan nie oor teerheid skryf en dan emosioneel aftakelend teenoor ander wees nie. Selfs met my vriende – mans, vroue, queer mense – probeer ek 'n post-patriargale raamwerk uitleef."
Sy boodskap aan jong mans? Dat 'n ander wêreld moontlik is. “Patriargie is nie onvermydelik nie. Ek dink die aanname dat ons kulture inherent patriargaal is, is verkeerd."
Parallelle studies, gedeelde temas
Die twee studies weerspie?l mekaar. Mashego bevraagteken hoe daar van vroue verwag word om sterk te wees, en hoe juis dít hulle te na kom. Maphosa bevraagteken hoe mans vasgevang is in hero?sme wat hulle – paradoksaal – beperk. Beide wil menswees bevry van tradisionele geslagsrolle.
By AVReQ, sê beide, voel hulle tuis. “Hier word jy nie as 'n junior genoot behandel nie," sê Maphosa. “Mense respekteer jou idees." Mashego stem saam: “Dit kan eensaam wees om 'n meestersgraad te doen, maar hier word jy as mens raakgesien, nie net as student nie."
Albei is ervare leiers. Mashego het op huiskomitees en die SR gedien en het gesogte beurse gewen. Maphosa het internasionaal aanbiedings gedoen en al in die British Journal of Social Psychology gepubliseer.
Wat hulle saamsnoer, is 'n vasberadenheid om nie net krities te wees nie, maar om alternatiewe te bedink. Mashego hou 'n feminisme voor wat gelyktydig sag en sterk is. Maphosa wys dat alternatiewe vorme van manlikheid in die geskiedenis te vinde is en vandag beliggaam kan word.
Maphosa roep Steve Biko se woorde in I Write What I Like in herinnering: “Ons sal mettertyd in staat wees om aan Suid-Afrika die grootste moontlike geskenk te gee – meer menslikheid."
- AVReQ begin in Januarie 2026 met 'n nuwe interdissiplinêre MPhil in Gewelddadige Geskiedenisse en Herstel. Die sluitingsdatum vir Suid-Afrikaanse aansoekers is 31 Oktober.
- ONDERSKRIF: Lesedi Mashego en Tema Maphosa. FOTO'S: Ignus Dreyer/SCPS