肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Departement Landbou-ekonomie vier 100 jaar van vorming van landbou
Outeur: Melissa van der Merwe
Gepubliseer: 10/09/2025

Die Universiteit Stellenbosch se Departement Landbou-ekonomie, die oudste van sy soort in Suid-Afrika, is trots om sy 100ste bestaansjaar in 2025 te vier. Terwyl die wêreldwye landboulandskap aanhou ontwikkel, besin die Departement oor 'n nalatenskap van akademiese uitnemendheid, visioenêre leierskap en diepgewortelde impak regoor die landbouwaardeketting, terwyl dit 'n navolgenswaardige voorbeeld vir die toekoms van landbou-ekonomie in Afrika stel.

Die Departement, wat in 1925 onder leiding van prof JFW Grosskopf gestig is, het van sy eerste graduerende klas in 1926 tot 'n spilpunt vir landbou-ekonomiese onderrig, navorsing en bedryfsamewerking ontwikkel wat wêreldwyd erkenning geniet. Oor die afgelope eeu het meer as 2 000 voorgraadse studente en 400 nagraadse studente van die Departement gegradueer met talle wat leiers in die akademie, beleid, landboubedryf en by navorsingsinstellings is.

Die eeufeesvieringe bereik Vrydag 12 September 'n hoogtepunt met 'n reeks geleenthede wat om 10:00 by die JS Marais-gebou in Victoriastraat op die Stellenbosch-kampus begin. Hierdie geleenthede, wat toesprake, aanbiedings van navorsingsplakkate en 'n eeufeesete insluit, beklemtoon die Departement se erfenis en die voortgesette belangrikheid daarvan in 'n veranderende wêreld. Die dag vier nie net die departement se ryk institusionele geskiedenis nie, maar ook sy voortgesette rol in die vorming van die toekoms van landboudiskoers.

Geleentheidsprekers sluit prof Ferdi Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) in, wat sal besin oor “'n Eeu van groei: Landbou-insigte uit die verlede tot die hede", en emeritus prof Nick Vink, voormalige departementsvoorsitter en internasionale denkleier, wat die Departement se sleutelprestasies oor die afgelope eeu sal bespreek.

Landbou-ekonome het nog altyd 'n deurslaggewende rol in die navigasie van die komplekse verhouding tussen voedselstelsels, beleid, handel, omgewingsvolhoubaarheid en lewensbestaan gespeel. In die beginjare het hierdie rol hoofsaaklik op die begrip van plaasproduksiestelsels en die ondersteuning van landboubeleid in 'n postkoloniale ekonomie gefokus. Die Departement se leierskap, deur figure soos prof WE Kassier, prof FR Tomlinson, prof ASM Karaan, prof Nick Vink en prof TE Kleynhans, het gehelp om landbouhervorming, bemarkingswetgewing, grondbeleid en landelike ontwikkeling in Suid-Afrika te vorm.

Vandag staar landbou-ekonome dringende en onderling verbonde uitdagings in die gesig, insluitende klimaatsverandering, wêreldwye voorsieningskettingontwrigtings, geopolitieke wisselvalligheid, omgewings-, maatskaplike en bestuursvoldoening, voedselonsekerheid en vinnige digitale transformasie. Die Departement huisves 'n diverse en dinamiese span vakkundiges wat hierdie internasionale en streekskwessies aktief deur middel van voorpuntnavorsing, beleidsbetrokkenheid en samewerking in die bedryf aanspreek. Met kundigheid wat gewortel is in robuuste kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes, gaan hulle voort om beleid in te lig, gemeenskappe te bemagtig en innovasie in landbou-voedselstelsels aan te dryf. Die departement se huidige kundigheid dek die volgende tematiese gebiede:

  • Transformasie van voedselstelsels, landbouhandel en beleidsmodellering
  • Grondhervorming, kleinboere-ontwikkeling en institusionele ekonomie
  • Omgewingshulpbronne-ekonomie en waterbestuur
  • Modellering van plaasstelsels, klimaatrisiko en bewaringslandbou
  • Historiese landboudata, klimaatsaanpassing en ruimtelike produktiwiteit
  • Verbruikersgedrag, voedselveiligheid en voorsieningskettingbestuur
  • Digitalisering en informatika in landbouvoedselstelsels
  • Jeug in landbou, vaardigheidsontwikkeling en indiensneembaarheid

Inisiatiewe soos die Stellenbosse AgroInformatika-inisiatief, die jarelange samewerking met die BFAP, die onlangs gestigte Nagraadse Vereniging vir Landbou-ekonomie en 'n sterk groep buitengewone professors wat die Departement se navorsings- en onderrigaktiwiteite ondersteun, toon 'n toewyding aan innovasie, beleidsrelevansie en studente-ontwikkeling.

In die volgende eeu sal die landbou-ekonoom al hoe belangriker word, nie net as 'n ontleder of akademikus nie, maar ook as 'n stelseldenker, beleidsvormer en volhoubaarheidstrateeg wat die landbousektore regoor die wêreld na die toekoms dryf. Die Departement beoog om 'n leier in landbou-ekonomiese onderwys op die vasteland te bly en 'n geslag ekonome te kweek wat regverdige oorgange kan lei, veerkragtige voedselstelsels kan ontwerp en inklusiewe groei regoor die Globale Suide kan bevorder. ?