Prof Louise du Toit van die Departement Filosofie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het Donderdag 14 Augustus 2025 haar intreerede gelewer. Die titel van haar lesing was “Van vlees en erts en die dood van geboorte".
Du Toit het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor die wydverspreide seksuele geweld in Suid-Afrika en wat ons kan doen om dit te help voorkom.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.
In Suid-Afrika lyk dit asof ons soms geskok word deur 'n besonder wreedaardige of opsienbarende geval van seksuele geweld: dink aan Uyinene Mrwetyana, Anene Booysen, Tshegofatso Pule, en my voormalige student Hannah Cornelius. Woede vlam op, en daar is protesoptrede, maar dit lyk nie of veel verander nie. Baba Tshepang, 'n baba van nege maande, was een van die eerstes hiervan. Ek het destyds klein kinders gehad (2001) en dit het by my bly spook. Ek het toe besef dat ons post-apartheid-, o?nskynlik vrye en demokratiese land 'n gevaarlike plek vir vroue en kinders was. Ons het destyds en vandag nog syfers oor seksuele geweld wat lyk asof ons in 'n oorlog is. Van die ongeveer 50 000 verkragtings wat jaarliks by die polisie aangemeld word, hou ongeveer 40% verband met kinders onder 18 jaar en sowat 15% met kinders jonger as 12. Ons het duidelik 'n sistemiese probleem gehad, en ek wou dit verstaan en probeer aanspreek deur 'n filosofiese lens te gebruik.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Vroue en meisies in Suid-Afrika leef in 'n atmosfeer van voortdurende bedreiging. Ek verstaan hierdie situasie minder as die gevolg van ongebreidelde manlike wellus en veel meer as die manier waarop mag in ons samelewing versprei word, en elke dag herverdeel word, deur geweld en dreigemente van geweld. Vroue se seksualiteit, voortplantingswerk, hulle sorg en emosionele arbeid, moet alles met geweld deur ander toege?ien word, om 'n wêreld te dien waarin vroue geen intrinsieke waarde het nie. Diepgaande geweld teen diegene wat as “vroulik" uitgewys word (insluitend nie-binêre en queer persone en sommige mans en seuns) verseker dat hulle 'n onderklas van tweederangse burgers bly wat straffeloos uitgebuit kan word. Vroue se vryheidstryd is dwarsdeur die struggle- en oorgangsjare gedepolitiseer en beskryf as bloot 'n “sosiale" kwessie wat kan wag tot ná die “regmatige" politieke oorgang. Ons wag steeds. Vroue se onvryheid beteken dat demokrasie nog nie aangebreek het nie.
Gebaseer op jou uitgebreide navorsing, waarom bly seksuele geweld en verkragting so wydverspreid in ons samelewing?
Soos ek dit sien, het sowel die rassisties-koloniale regime in ons verlede as die Afrika-nasionalistiese regime van ons hede 'n simboliese heelal gevestig en onderhou wat die onderdrukking en uitbuiting van alles vroulik moontlik maak. Die tragedie van vroue in Suid-Afrika is dat die geweld en wreedheid van ons koloniale geskiedenis (insluitend ons slawe-, apartheids- en migrantegeskiedenis) nie verdwyn het nie, maar bloot verander het gedurende ons oorgang na 'n demokratiese bedeling. Alhoewel vroue dikwels die dryfkrag van die bevrydingstryd was, is hulle eers laat ingesluit in die oorgangsprosesse en -meganismes, asof hulle 'n guns bewys is. Ook is swart en Afrika-bevryding te dikwels in oorwegend manlike terme beskryf en verwoord (byvoorbeeld in Frantz Fanon en Steve Biko), wat die emansipasie van swart vroue ongeteoretiseer en tot 'n mate ondenkbaar gelaat het. As gevolg van die uiteindelike samespanning tussen Westers-koloniale en Afrika-dekoloniale patriargie?, is vroue se vryhede op die agtergrond geskuif.
Jy fokus op die logika en taal van mynbou as plundering. Hoe het dit bygedra tot 'n kultuur van seksuele geweld?
Dit lyk asof daar verbande is tussen mynbou en seksuele geweld as twee vorme van plundering. Om te “plunder" het oorspronklik beteken om iemand se huis leeg te dra en gewelddadig en straffeloos te neem wat hulle vir hulle oorlewing nodig het. Die etimologie van “plundering" dui op 'n selfs meer indringende diefstal, aangesien dit verwys na hare wat geskeer word, soos 'n mens tipies met 'n mak dier sou doen, soos om 'n hoender te pluk. Dus, as iemand “geplunder" word, is wat hulle liggame self geproduseer het om hulle te beskerm (hare, wol, vere) met geweld verwyder. Hulle is kaal gestroop en beroof van die infrastruktuur wat hulle gebou of gegroei het wat hulle eie oorlewing ondersteun. In die voortdurende volksmoord in Gasa sien ons daagliks hoe die infrastruktuur wat mense vir hulle oorlewing nodig het, doelbewus vernietig word om onleefbare toestande vir miljoene te skep.
Mynboupraktyke, veral swak gereguleerde praktyke, is tipies ook plunderpraktyke, want hulle neem vryelik wat die aarde opgelewer het, op maniere wat te dikwels die lewensomstandighede van ander menslike en meer-as-menslike gemeenskappe vernietig. Op die Afrika-kontinent volg seksuele geweld en verkragting dikwels die gewelddadige konflikte wat verband hou met beheer oor minerale. Dus is daar nie net 'n metaforiese verband tussen mynbou en seksuele geweld nie; daar is ook 'n meer direkte, materi?le verband. In hierdie konflikte oor kosbare natuurlike hulpbronne word vroue en meisies verkrag om gemeenskappe te terroriseer en te onderwerp, of om hulle heeltemal te vernietig.
Jy het ook uitgelig hoe ons oor seksuele geweld en verkragting praat. Wat dink jy moet ons verander?
Ons moet ophou om verkragting te naturaliseer en te normaliseer en dit as die growwe menseregteskending wat dit is, te behandel. Dit is ontnugterend om daaroor te dink dat seksuele geweld in gewapende konflik deur die Statuut van Rome as misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade, en soms as aanduidend van volksmoord, beskou word. Waarom moet ons seksuele geweld in vredestyd anders behandel? Ons moet harder daaraan werk om die las van skaamte en blaam van die slagoffers en oorlewendes van verkragting na die oortreders te verskuif. Dit lyk of ons verkragting-en-moordslagoffers op 'n morele voetstuk plaas (bv. die name hierbo gelys), maar twyfel gereeld aan verkragtingsklaers wat hulle aanvalle oorleef het.
Ons moet ook ons begrip van die oortreders verskuif van mans wat nie hulle seksuele drange kan beheer nie, na mans wat beheer uitoefen oor vroue se bewegings, seksualiteit en outonomie. Oortreders van seksuele geweld is die bewakers van patriargale mag, waar vroue gedwing word om mans te vrees en uiteindelik hulle te dien. Ons moet seksuele geweld nie “lees" as 'n persoonlike, private of suiwer sosiale misdaad nie, maar as 'n politieke misdaad wat die hart van ons demokratiese bedeling aanval. Ons moet ook manlike slagoffers van seksuele geweld erken en die growwe skending van gevangenisverkragting net so heftig teenstaan as wat ons die verkragtings van vroue teenstaan.
Jou intreerede val saam met Vrouemaand. Watter boodskap wil jy met die vroue van Suid-Afrika deel?
My boodskap aan die vroue van Suid-Afrika is dat ons die nasionale vrouebeweging moet herbou. Selfs progressiewe wetgewing en grondwetlike regte beteken min as dit nie gepaard gaan met vroue se onophoudelike aktivisme nie. Vroue is nog nooit iets verniet gegee nie. Regstrukture en beleide op sigself sal nie Suid-Afrika se vroue van hulle eeue-oue onderdrukking bevry nie; slegs politieke aksie sal dit doen, deur van hierdie instrumente gebruik te maak. Ons moenie verlam word deur ons interne verskille nie; kom ons fokus op die byeenbring van alle vroue en almal wat as “vroulik" uitgewys word, alle queers en alle manlike bondgenote rondom sleutelkwessies soos seksuele geweld. Die gedeelde identiteit sal dan voortvloei uit die alliansie, uit samewerking, in plaas daarvan om 'n voorvereiste vir die alliansie te wees.
Laat ons inspirasie put uit die veelvuldige stryde van vroue in die hede en verlede teen kolonialisme en patriargie op ons kontinent; kom ons ondersoek dit en visualiseer dit en maak dit openbaar. Laat ons ook netwerke van solidariteit met vrouegroepe internasionaal bou – op ons vasteland en verder – om te leer uit ander stryde en op ons beurt hulle te inspireer. Kom ons rig gedenktekens vir ons slagoffers en oorlewendes op sodat ons in die openbaar die narratief en verbeelding begin verander oor wat dit beteken om 'n oorlewende van seksuele geweld te wees.
Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van ho?r onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
My motivering was nog altyd die handhawing van verhoudings en opwindende samewerking. Dit sluit veral kollegas by UJ en die US in wat dierbare vriende geword het, studente – voorgraads én nagraads – wat my altyd uitgedaag het om filosofiese denke toeganklik, bemagtigend en transformerend te maak. Ek is baie aan my studente verskuldig. Ek is ook ge?nspireer deur internasionale medewerkers, veral deur ander feministiese filosowe wat probeer om sin te maak van seksuele geweld in hulle eie kontekste, maar ook geweldig baie deur dapper aktiviste en oorlewendes uit verskillende lande en kontekste wat hard werk om die wêreld veiliger te maak.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Is dit die opwindendste ding omtrent myself? Ek's nie seker nie. In graad 3 het ek cowboys en crooks met die seuns gespeel, van 'n ho? balk in ons agterplaas gespring nadat ek deur my maat “gered" is (wat deur die toue “geskiet" het wat glo my arms aan 'n metaalpaal vasgemaak het), kop eerste geval en albei my polse gebreek! Dit was op my ma se verjaardag, al die dames het in die sitkamer sit en tee drink, en my arme ma moes hulle almal los om my hospitaal toe te vat.
Hoe bestee jy jou vrye tyd?
Ek is mal oor langpadreise en hou daarvan om dit op my eie of in geselskap te doen. Ek hou daarvan om die agterpaaie van ons land te verken en my neus te volg, sonder om planne of besprekings voor die tyd te maak. En ek raak verlief op elke klein dorpie waardeur ons ry, altyd op die uitkyk vir mooi meenthuise of klein plasies waar ek kan gaan bly!?