肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreld Humanitêre Dag: Humanitêre hulpwerkers help red lewens, bring hoop
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 19/08/2025

Wêreld Humanitêre Dag word jaarliks op 19 Augustus gevier. In 'n meningsartikel vir die Mail & Guardian fokus prof Chris Jones van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie op van die lande waar humanitêre hulpwerkers help om lewens te red en hoop te bring.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Chris Jones*

Op 19 Augustus 2003 het 22 humanitêre hulpwerkers in 'n bomaanval op die Canal Hotel in Bagdad, Irak, gesterf. Dit het 'n spesiale verteenwoordiger van die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies (VN) vir Irak ingesluit. Vyf jaar later het die Algemene Vergadering van die VN 'n resolusie aangeneem wat 19 Augustus as Wêreld Humanitêre Dag aangewys het.

Sedertdien het Wêreld Humanitêre Dag die jaarlikse vlagskip van die VN-kantoor vir die Ko?rdinering van Humanitêre Sake (OCHA) geword, wat op groot skaal hulp vir humanitêre noodgevalle wêreldwyd mobiliseer en die lewens van baie mense red.

Tans benodig meer as 300 miljoen mense wêreldwyd humanitêre hulp en beskerming, en ongeveer een uit elke vyf kinders oor die wêreld heen, sowat 400 miljoen, woon in of vlug uit konflikgeteisterde gebiede. Teen halfpad deur 2025 is minder as 17% van die $46 miljard wat nodig is om humanitêre behoeftes wêreldwyd die hoof te bied, ontvang. Dit verteenwoordig 'n kommerwekkende afname van 40% in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Ons kyk nou na 'n paar lande wat onlangs deur OCHA uitgelig is, waar humanitêre werkers hulle uiterste bes doen – soms onder baie moeilike omstandighede – om die lyding van diegene wat geraak word, te verlig. Die haglike situasie in hierdie lande beklemtoon die behoefte aan voortgesette humanitêre pogings.

Gasa

Ons hoor daagliks op verskeie nuusplatforms oor die talle mense wat in die Gasastrook vermoor en beseer word, insluitend mense wat langs VN-konvooiroetes en gemilitariseerde verspreidingspunte na kos soek. Tot soveel as 1 500 mense is sedert Mei vanjaar in hierdie gebied dood, terwyl humanitêre werkers voortgaan om lewensreddende hulp te verleen, al is dit slegs 'n fraksie van wat nodig is. Meer as 500 humanitêre werkers het al in Gasa gesterf, waar die omstandighede erger as rampspoedig is.

Niemand moet hulle lewens hoef te waag om kos in die hande te kry nie, en humanitêre werkers moet vinnige, veilige en onbelemmerde toegang hê om op 'n waardige wyse hulp te lewer aan mense wat van lewensonderhoudende basiese benodigdhede ontneem word.

Volgens die VN se Kinderfonds (UNICEF) bereik wanvoeding onder kinders in Gasa katastrofiese afmetings, terwyl moeders nie hulle babas kan voed nie omdat hulle self honger is. Sedert Oktober 2023 het 98 kinders aan ernstige akute wanvoeding gesterf, insluitend 37 sedert 1 Julie vanjaar.

Water-, sanitasie- en higi?nebedrywighede word voortdurend geraak weens 'n brandstoftekort. Hospitale is oorlaai. As gevolg van 'n ernstige tekort aan beddens, mediese voorrade en toerusting, ly pasi?nte terwyl hulle op die vloer of in die strate lê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het onlangs verklaar dat sedert Maart 2025 sowat 100 mediese personeel, insluitend chirurge en ander spesialispersoneel, verbied is om Gasa binne te gaan.

Verder berig VN-kollegas dat 'n toenemende aantal geboue en skole oor Gasa heen beskadig word. Onlangs is 193 000 geboue geraak, waarvan tot 100 000 heeltemal vernietig is. Meer as 90% van skoolgeboue sal ten volle herbou of omvattend gerehabiliteer moet word voordat leerlinge weer toegelaat kan word. Daar is ook 'n toename in sielkundige nood onder kinders.

Volgens OCHA is negentig persent van Gasa se huidige bevolking – sowat 2,1 miljoen inwoners – ontheem en ervaar hulle 'n gebrek aan voldoende skuiling, voedsel, lewensreddende mediese dienste, skoon water, onderwys en bestaansmiddele.

Soedan

Toenemende konflik, voedselonsekerheid, siektes en vloede veroorsaak steeds skade, lyding en verlies onder inwoners in Soedan. Dit alles dra by tot die verslegtende humanitêre situasie in die land, terwyl hewige gevegte in die Noord-Darfoer-staat voortduur.

Cholera versprei ook vinnig oral in Darfoer. In Noord-Darfoer, in die Tawila-gebied, is ongeveer 1 200 gevalle sedert laat Junie vanjaar aangemeld, insluitend 300 kinders en 20 sterftes. UNICEF waarsku dat ongeveer 640 000 kinders onder die ouderdom van vyf in hierdie gebied 'n ho? risiko loop vir geweld, siekte en hongersnood.

Ook in Suid-Darfoer is meer as 1 100 vermeende gevalle van cholera en 64 verwante sterftes sedert Mei vanjaar aangemeld, en 'n tekort aan mediese voorrade, skoon water en sanitasiedienste belemmer die humanitêre reaksie.

Daar is bevestiging van landmyne in die staat Khartoem wat die veiligheid van mense bedreig, burgerlikes se dood veroorsaak en toegang tot gesondheidsdienste, markte en humanitêre hulp bemoeilik. Verder is die gesondheidstelsel op die rand van ineenstorting, met meer as 800 gesondheidsfasiliteite wat ernstig beskadig of vernietig is, en 60% van gesondheidswerkers wat nie meer teenwoordig is nie. Afvalbestuurstelsels is stukkend, wat die risiko van watergedraagde siekte-uitbrekings verhoog. Honderde skole is beskadig, en baie kinders gaan al vir maande lank nie skool toe nie.

Die Soedan Humanitêre Fonds, bestuur deur OCHA, bied lewensreddende hulp aan meer as 600 000 mense. Maar meer geld is nodig om kwesbare gesinne in Soedan te help. Meer as 30 miljoen mense – byna tweederdes van die bevolking – benodig vanjaar dringende hulp en beskerming.

Siri?

Sedert die onlangse uitbreking van geweld ('n paar weke gelede) is meer as 190 000 mense ontheem in die provinsies As-Sweida, Dar'a en landelike Damaskus. Hoewel die VN steeds humanitêre hulp bied, bly toegang en hulpbronne beperk. Baie meer moet egter gedoen word om die lot van hierdie mense te verlig.

Die impak van die gevegte en ontworteling plaas enorme druk op die reeds oorbelaste gesondheidsorgstelsel in As-Sweida en in die naburige Dar'a. Mobiele mediese spanne werk hard in Dar'a en moederskapsgesondheidsdienste, traumasorg en die bestuur van nie-oordraagbare siektes moet dringend opgeskaal word.

Ha?ti

In sommige gebiede van Ha?ti word vroue en kinders die ergste geraak deur die toenemende geweld deur gewapende groepe. Hulle maak ook die meerderheid uit van die 45 000 mense wat sedert Junie vanjaar ontwortel is, veral in die streke Artibonite en Centre. Noodsaaklike dienste vir hulle is ook in 'n toestand van wanorde. In totaal is ongeveer 240 000 mense oor 'n lang tydperk in hierdie twee streke ontwortel, en die humanitêre reaksie bly kritiek onderbefonds.

Oekra?ne

In Oekra?ne vul humanitêre werkers die pogings van plaaslike dienste aan deur noodondersteuning aan mense te bied. Skuiling, sielkundige ondersteuning en ander noodsaaklike dienste word gereeld verskaf. Geen gemeenskap of samelewing behoort missielaanvalle en ongevalle as deel van 'n daaglikse roetine te ervaar nie. Tog is dit elke dag die werklikheid vir miljoene Oekra?ners.

Daar is ook ander lande soos Somali? waar honderdduisende mense deur ernstige droogte in die sentrale en noordelike streke geraak word, en Mosambiek waar 'n nuwe vlaag geweld in Cabo Delgado duisende mense ontwortel het.

Sonder humanitêre steun sou die situasie selfs erger wees vir mense in die bogenoemde lande en in ander wat deur talle krisisse geteister word. Humanitêre werkers het ongetwyfeld gehelp om tallose lewens te red en hoop te bring waar wanhoop heers.

Tom Fletcher, Onder-Sekretaris-Generaal vir Humanitêre Sake en Noodhulpko?rdineerder by OCHA, sê dat hulle ondanks ernstige uitdagings in 2024 byna 116 miljoen mense wêreldwyd bereik het met doeltreffende hulp en goeie reaksiespoed.

Op Wêreld Humanitêre Dag moet ons dankie sê aan almal wat betrokke is by die wêreldwye humanitêre beweging, insluitend al die toegewyde en lojale skenkers en diegene aan die voorpunt van hierdie pogings. Dit gee geweldige hoop en natuurlik broodnodige verligting aan so baie wie se lewens deur konflik, die klimaatkrisis en die disintegrasie van stelsels verpletter is. Die hantering van hierdie humanitêre krisisse is die enigste manier om die argument vir die mensdom opnuut te wen.

*Chris Jones is emeritus-medeprofessor in Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch.