肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘As jy nie stem nie, moet jy liewer sit’: Busisiwe Mavuso praat reguit in Frederik Van Zyl Slabbert-lesing
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 14/08/2025

Die boodskap van die 13de Frederik Van Zyl Slabbert-erelesing was hard en duidelik. Die lesing oor die tema “Daaglikse burgerleierskap: 30 jaar en verder" het op 12 Augustus 2025 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind.
Die spreker Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, het 'n pynlik eerlike beskouing van Suid-Afrika se politieke kultuur gebied en 'n dringende oproep om aktiewe, etiese burgerskap gedoen.
“Politiek is gelyk aan die ekonomie," het Mavuso gesê. “As die politiek misluk, misluk die land. En as die land misluk, misluk die ekonomie." Sy het veral jong Suid-Afrikaners aangespoor om téén apatie te kies, en bygevoeg: “As jy nie gaan stem nie, moet jy liewer sit en stilbly oor die dinge wat nie in hierdie land werk nie."
Die jaarlikse lesing is met die Konrad Adenauer-stigting se finansi?le bystand by die Wallenbergnavorsingsentrum van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied, en is ook na 'n groot aanlyn gehoor gestroom. 'n Uitvoering deur Solomon Mathipa, 'n US-violis, het 'n feestelike atmosfeer geskep.

'n Platform vir betrokke burgerskap
Die meer as 400 gaste het alumni, studenteleiers, lede van die publiek sowel as die seun en dogter van wyle dr Frederik Van Zyl Slabbert ingesluit. Dr Heidi October, adjunkdirekteur by die Sentrum vir Studentelewe en -leer, het die byeenkoms geopen. Sy het beklemtoon dat die lesing 'n belangrike geleentheid is vir alumni, studenteleiers en vennote om die lewe van wyle dr Van Zyl Slabbert sowel as die ál hoe groter wêreldwye voetspoor van die US se Frederik Van Zyl Slabbert Instituut (FVZS Instituut) vir Studenteleierskapsontwikkeling te vier.
In sy kontekstuele opmerkings het prof Deresh Ramjugernath, US Rektor en Visekanselier, gesê die FVZS Instituut het 'n kerndeel geword van hoe die Universiteit tot die samelewing bydra deur ruimtes te skep waar idees en aksie bymekaarkom en waar jong leiers die vermo? ontwikkel om betrokke burgers te wees. Hy het dr Van Zyl Slabbert beskryf as 'n man wie se lewenswerk “getuig het van moed, intellek en 'n onwrikbare verbintenis tot demokrasie". Ramjugernath het die gehoor aangemoedig om “aktief deel te neem aan die gesprek, dit openlik te bevraagteken, en dit in julle onderskeie gemeenskappe voort te sit".
 
Toespraak sonder enige taboes
In haar toespraak het Mavuso nie doekies omgedraai nie. Sy het dit duidelik gestel dat swak politieke leierskap direk bygedra het tot die land se haglike werkloosheids- en armoedevlakke. Sy het die diep ontstellende totale werkloosheidsyfer van 43% en die skerp stygende jeugwerkloosheidsyfer van meer as 65% betreur, naas die skrille ongelykheid wat Suid-Afrika 'n Gini-ko?ffisi?nt van 0,67 besorg het en die land amptelik die mees ongelyke samelewing ter wêreld maak.
Benewens haar kritiek teen staatsondoeltreffendheid en -korrupsie, het sy ook harde woorde gehad vir gewone burgers, en die gevolge van onverantwoordelike stemming benadruk. “Wat is fout met ons, as burgers, dat ons mense in leiersampte verkies wat nie regtig geskik is om leiers te wees nie?" het sy gevra.
Op grond van die geskrifte van gerekende denkers van Afrika het sy aangevoer dat dele van die vasteland vasgevang is in “kakistokrasie" – heerskappy deur die mins geskiktes. “Vir wie jy stem, maak saak," het sy gesê. “As jy 'n nar instem in die hoop op 'n koning, gaan die nar die koninkryk in 'n sirkus verander."
Nietemin het sy die verkiesing van Mei 2024 beskryf as 'n “belangrike aanwyser" van hernude verantwoordbaarheid, en gesê dat sy in heelparty ministerie? tekens sien dat “aandag aan omsigtige oorsig- en fiskale bestuur" aan die terugkeer is. “Ons het vir veels te lank toegelaat dat middelmatigheid meriete kaap," het sy gesê.
 
Die onderwyskrisis
Mavuso het haar sterkste teregwysing aan die basiese onderwys gerig. “Burgerleierskap is in gevaar as jy nie 'n goed opgevoede bevolking het nie," het sy aangevoer en haar openlike afkeur aangedui vir 'n matriekslaagvereiste van 30%, Wiskundige Geletterdheid wat algemeen bo Wiskunde verkies word, en assesserings wat toon dat vele graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie. “Dit is verraderlik om kinders nie 'n opvoeding van gehalte te gee nie," het sy gesê en 'n oproep gedoen om 'n nuwe benadering op nasionale vlak, wat reeds by vroe?kinderontwikkeling moet begin.
Mavuso het onderwys “'n spelwisselaar" genoem, en gewaarsku dat 'n swak opgevoede bevolking burgerlike betrokkenheid, ekonomiese groei, maatskaplike samehang en uiteindelik ook die gehalte van die land se leiers in gevaar stel. Sy het bygevoeg dat Suid-Afrika met sy maatskaplike toelaes en onvoldoende skoolonderwys onbedoeld “'n afhanklikheidskrisis en 'n nasie van bedelaars skep".
Sy het burgers aangespoor om met waagmoed en in die soeke na waarheid rekenskap van leiers te eis en sodoende die nalatenskap van Dr Van Zyl Slabbert te eer, wat nie geskroom het om op sy eie onreg te bevraagteken waar dit nodig was nie. Mavuso het afgesluit met die volgende aanhaling van die Amerikaanse digter June Jordan: “We are who we are waiting for. No one is coming." Die verantwoordelikheid om die land te transformeer lê voluit by elke individu, het sy gesê.
 
Universiteite kan nie ''n eiland' wees nie
Mavuso se toespraak het 'n lewendige gesprek aan die gang gesit, waarvoor Unopachido Mubaiwa, die FVZS Instituut se ko?rdineerder van Burgerskapskakeling, as fasiliteerder opgetree het. Studenteleiers het Mavuso gepols oor universiteite se verpligtinge, kos-tekorte en huisvesting, en die etiek van leierskap in die ho?r onderwys. “Die regering van enige land behoort die spreekwoordelike grootmens in die vertrek te wees," het sy geantwoord op die kritiek dat ander sektore ook korrup is, en gewaarsku teen die “morele verswakking" wat met die kultuur van kitsbevrediging onder jongmense gepaard gaan. “Hierdie mikrogolf-springmieliekultuur werk nie," het sy geskerts.
Mavuso het die akademie as 'n belangrike stem van rede beskryf, en gesê dat universiteite nie “in 'n borrel" kan bestaan nie. “Die Universiteit Stellenbosch is 'n baie interessante voorbeeld in dié verband – julle kan nie 'n eiland van welvaart in 'n see van armoede wees nie," het sy gesê en die US aangemoedig om aktief betrokke te wees by samelewingsuitdagings, en by pogings om rekenskap te eis van sowel die regering as die sakesektor, onder andere oor betekenisvolle transformasie. “Wanneer jy vir so lank aan bevoorregting gewoond was, kan gelykheid soos onderdrukking voel. Dís presies waarom beleid, monitering en evaluering saak maak."
Mavuso het die gehoor stof tot nadenke gegee met 'n treffende definisie van ware leierskap: “Leierskap gaan oor drie dinge, en slegs drie dinge: Dit gaan oor moed, dit gaan oor beslistheid, en dit gaan oor etiek," waarby sy bygevoeg het: “Etiek is wat jy doen wanneer niemand kyk nie."
Vanjaar se lesing sit die tradisie voort om robuuste, kritiese gesprek oor Suid-Afrika se demokrasie en regering te ontlok. In 'n boodskap van die Konrad Adenauer-stigting het dr Christoph Wiedenroth hulde gebring aan die nalatenskap van dr Van Zyl Slabbert en opgemerk dat demokrasie nie floreer as 'n “toeskouersport" nie, maar deur daaglikse deelname en gesamentlike verantwoordelikheid. Hy het die gehoor aangemoedig om die aand se insigte in konkrete aksie te omskep tot voordeel van die hele land.

FOTO:  Mavuso het 'n sertifikaat ontvang wat haar as die nuutste erelid van die Van Zyl Slabbert Instituut aan die US verklaar. Van links: Dr Heidi October, Prof Deresh Ramjugernath, Busisiwe Mavuso en Unopachido MubaiwaFoto deur Henk Oets
 

  • Hier is die skakel na die opname van die lesing op YouTube.