肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
NNS-toekennings vereer vier A-gegradeerde navorsers van die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Aasima Gaffoor
Gepubliseer: 14/08/2025

?Die Universiteit Stellenbosch (US) vier weer eens sy vooraanstaande navorsers wat by die jaarlikse Nasionale Navorsingstigting (NNS)-toekennings vereer is. Proff Dave Richardson, Josua Meyer, Zander Myburg en Linus Opara is erken vir die feit dat hulle gesogte A-graderings aan die hand van die NNS se streng graderingsproses verwerf het.

Die geleentheid, met die tema “Innovasie vir 'n volhoubare toekoms", is op 7 Augustus in Johannesburg gehou. Die NNS-toekennings vereer die uitnemendheid van Suid-Afrikaanse navorsing én die wetenskaplikes wat dit vorentoe dryf.

A-graad-navorsers word onomwonde deur hulle eweknie? as vooraanstaande internasionale vakkundiges op hulle onderskeie gebiede erken vir die ho? gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette. Volgens die NNS is sy graderingstelsel 'n waardevolle instrument om die gehalte van Suid-Afrika se navorsers teen die beste in die wêreld te meet.

Prof Dave Richardson (Plant- en Dierkunde) het vir die vierde keer 'n A-gradering ontvang vir sy navorsing oor biologiese indringing met 'n fokus op plante, veral bome en struike, en sy wesenlike bydraes tot die teoretiese grondslag van indringerwetenskap. Prof Josua Meyer (Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese) het vir die tweede keer 'n A-gradering verwerf vir sy werk oor termiese wetenskappe, insluitende interne gedwonge konveksie, die oorgangsvloeiregime, nanovloeistowwe, kook en kondensasie vir toepassings op gebiede soos termiese sonkrag, wind en kernenergie.

Proff Zander Myburg (Genetika) en Linus Opara (Hortologiese Wetenskappe) het albei vir die eerste keer 'n A-gradering ontvang. Myburg se navorsing fokus op die genetika van groei en ontwikkeling in woudbome. Hy is 'n baanbreker in die gebruik van bevolkingsgenomika en stelselgenetika-benaderings om die genetiese beheer van groei en houtvorming in bloekombome te ontrafel. Opara se werk ondersoek die ná-oeshantering en verpakking van vrugte, hoofsaaklik granate, met die doel om die plaaslike granaatbedryf deur navorsing, innovasie en kapasiteitsbou te ontwikkel.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het die vier navorsers gelukgewens en gesê: “Die NNS-toekennings vier uitnemendheid in navorsing, en ons is trots om te sien dat ons vakkundiges onder die land se topnavorsers erken word. Hierdie prestasie weerspie?l die kaliber van navorsing en innovasie by die Universiteit Stellenbosch, en die toewyding van ons vakkundiges om kennis te bevorder."

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, het in reaksie op die toekennings vir A-graad-navorsers gesê: “Die NNS-graderingsproses bly 'n baie belangrike aanwyser van die internasionale erkenning van die US se navorsers en van die gehalte van hulle navorsingsuitsette soos dit deur hulle akademiese eweknie? van regoor die wêreld beoordeel is. Ons is baie trots op ons nuwe A-graad-navorsers. Ons salueer en vier hulle, want ons weet wat dit verg om op hierdie vlak te bereik."

Die US het nou 23 navorsers wat A-graderings ontvang het. Dit is die meeste wat nog ooit by die instelling aangeteken is.

  • Om na 'n lys van NNS-gegradeerde navorsers by die US te gaan, klik hier.
  • Om meer te lees oor sommige van ons A-graad-navorsers, besoek ons Navorsing vir Impak-webwerf. ?