Met meer as drie dekades se ononderbroke diens by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, kan die personeel hulle die dekaanskantoor nie sonder Drieka Lawrence voorstel nie.
Drieka is ’n integrale deel van die Fakulteit se daaglikse funksionering. Haar teenwoordigheid is byna sinoniem met dié van die Fakulteit self: betrokke, behulpsaam en altyd vriendelik. Kollegas beskryf haar as ’n saggeaarde en meelewende siel. Woorde soos staatmaker en vriendin duik gereeld op wanneer haar naam genoem word.
“Drieka is die hart van ons kantoor – altyd besorg, altyd met ’n sagte woord en ’n opregte omgee-hart vir elkeen rondom haar,” sê Salomé Kukard, die Fakulteit se finansi?le bestuurder. “Ongeag die uitdagings van die dag, bring sy ’n positiewe gesindheid en sien sy altyd die silwer randjie in mense en in omstandighede. Niks is ooit te veel gevra vir Drieka nie.”
’n Lewe gewortel in familie en werk
Drieka het grootgeword as die derde oudste van agt kinders op ’n plaas naby De Doorns in die pragtige Hexriviervallei. Ná skool het sy op die dorp gewerk, waar sy haar toekomstige man, Allroy Lawrence, ontmoet het. Die twee is in Desember 1989 getroud en het hulle in Kylemore op die Helshoogtepas buite Stellenbosch gevestig; die plek wat tot vandag toe haar tuiste is.
In 1990 het Drieka haar loopbaan by die Universiteit begin as werknemer van ’n kontrakmaatskappy wat skoonmaakdienste aan onder meer die Schumanngebou gelewer het. Binne ’n jaar is sy, saam met kollega Hazel Moses, permanent aangestel deur die destydse dekaan, prof. Blackie Swart. Hulle was verantwoordelik vir die netheid van die hele Schumanngebou, van kantore tot klaskamers.
NNou, 34 jaar, ses dekane, twee waarnemende dekane en talle personeelveranderings later, is Drieka steeds op haar pos.
“Die mense was nog altyd goed vir my. Ek het nog nooit uitgesluit gevoel nie – hulle het my van die begin af laat voel asof ek deel is van die Fakulteit. Dis soos my tweede familie,” sê sy met ’n warm glimlag.
Drieka doen haar werk sonder ophef en met ’n kalm toewyding. Fakulteitsdirekteur MJ Brooks sê: “Drieka dra almal se belange op die hart en doen haar werk met dankbaarheid en trots. Haar optimistiese ingesteldheid teenoor haar werk is opvallend en ’n voorbeeld vir ons almal.”
AVolgens Ursula Wanza, administratiewe beampte by die Departement Ekonomie, is dit juis Drieka se toeganklike, nederige aard wat haar so geliefd maak: “Sy luister graag en sal jou nooit kritiseer nie; sy sal eerder raadgee waar sy kan.”
En daar is ’n stylvolle kant aan haar ook: “’n Mens kan haar altyd deur ’n ring trek. Sy hou van mooi aantrek en is versot op parfuum, veral haar Issey Miyake-parfuum,” voeg Ursula by.
’n Lewenspad vol liefde en verlies
Drieka praat met trots van haar drie kinders – Janine (41), Alexandré (33) en Lee-Roy (30) – en haar drie kleinkinders. Twee van haar kinders werk ook vir die Universiteit, terwyl Lee-Roy ?n sommelier by die wynlandgoed Bacc? is.
Haar huwelik van meer as 34 jaar is ’n bron van kosbare herinneringe. Die dood van haar man in April verlede jaar was vir haar ’n seisoen van rou. “Dit was die winter in my lewe,” sê sy sag. “Maar nou is dit weer lente. Ek onthou die mooi; die goeie tye wat ons gedeel het.”
Sy glo vas aan balans tussen werk en persoonlike lewe: “Moet nooit huissake werk toe bring of werksake huis toe neem nie. En bly weg van politiek by die werk – dis ’n onding.”
Haar raad aan kollegas beliggaam sy self: “Lewe in vrede saam; stres verkort jou lewe.”
Hoogtepunte en hoop vir die toekoms
Een van die hoogtepunte in haar loopbaan was die Fakulteit se 90-jarige viering in 2015, wat met verskeie spesiale geleenthede gevier is. “Om nou ook die eeufees in 2025 te kan beleef, is ’n voorreg,” sê sy trots.
Met haar aftrede in die afsienbare toekoms, sien sy uit na die nuwe fase van haar lewe. “Ek sien daarna uit om meer tyd saam met my kinders en kleinkinders deur te bring. Ek gaan die mense by die Fakulteit geweldig mis, maar ek wil graag betrokke raak by gemeenskapswerk. Daar is groot behoeftes in my omgewing.”
Sy sluit af met woorde wat haar lewensuitkyk perfek saamvat: “Die werk is die beste plek, maar die huis is die heel beste plek.”