肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US joernalistiekstudente palm plek in by Durbanse rolprentfees
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 15/07/2025

'n Kort dokumentêre film wat deur studente van die Universiteit Stellenbosch (US) vervaardig is, het 'n gesogte plek by die Durban Internasionale Filmfees (DIFF) verdien – 'n prestasie wat die film moontlik in die wedloop vir 'n Oscar plaas. Die tien minute lange film, For His Sake, vervaardig deur 'n groep BA Honneursjoernalistiek-studente wat verlede jaar gegradueer het, word op 24 en 25 Julie by DIFF, Suid-Afrika se mees gesogte rolprentfees, vertoon.

Die dokumentêr, wat in die hartjie van Idasvallei afspeel, vertel die verhaal van Faizel en sy seun, Shuaib, wat saam Art's Barber Shop, 'n derdegenerasie-familiebesigheid, bestuur. Deur stille waarneming en deurdagte raamwerk vang die film die essensie van vader-en-seun-bande, generasie-nalatenskap en die rol van gemeenskapsruimtes in die behoud van identiteit vas.

Antoinette Steyn, die regisseur van die film, sê die span was op 'n vroe?re klasuitstappie na die omgewing geboei deur die mense en atmosfeer van Idasvallei. “Toe ons redakteur, Abigail Baard, die storie van Art's voorstel, het dit onmiddellik by die hele span byval gevind. Ons het geweet dit is 'n storie wat diep menslik én opbouend sou wees," sê Steyn.

For His Sake was die praktiese uitkoms van die Departement Joernalistiek se Dokumentêre Storievertel-module, 'n komponent van die jaar lange honneursgraadprogram wat studente uitdaag om 'n kort dokumentêr in net drie weke te vervaardig, te verfilm, te redigeer en te vertoon. "Dit is beslis 'n groot eer," sê deeltydse dosent en filmmaker Jurg Slabbert oor die DIFF-keuse. "Dit is nie 'n geheim dat die Departement een van die beste joernalistiekskole in Afrika is nie, maar dit is nie 'n filmskool nie, so ons studente was baie in hulle skik om hierdie groot erkenning in die filmmilieu te kry."

Volgens Slabbert is For His Sake slegs die tweede rolprent wat deur studente van die Departement vervaardig is om by 'n fees vertoon te word, en die eerste een wat deur 'n Oscar-kwalifiserende fees gekies is. 'n Vorige projek deur studente, Of Bread and Water, het in 2024 sy buiging by die Encounters Suid-Afrikaanse Internasionale Dokumentêre Fees gemaak.

Die produksiespan van For His Sake het uit Steyn as regisseur, Abigail Baard as redakteur, Iva Fulepu as vervaardiger en Nkululeko Ndlovu as kinematograaf bestaan. Elkeen het 'n bepaalde sterkpunt na die projek gebring en die film weerspie?l hulle gesamentlike poging.

“Dit was die eerste keer vir ons almal om ons hand aan dokumentêre storievertelling te waag," vertel Steyn. “Ons het baie op mekaar se vaardighede staatgemaak om daardeur te kom. Ons samewerking was gegrond op respek en 'n gedeelde visie om die Idasvallei-gemeenskap op te hef."

Fulepu voeg by dat dit die alledaagse oomblikke was wat die span die meeste getref het: "Om te sien hoe Shuaib stilweg by sy rol aanpas, meer leierskap op hom neem, maar steeds soveel respek vir sy pa toon. Dit het regtig gevoel dat die winkel meer as net 'n haarsalon is. Dit was soos 'n lewende argief van die gemeenskap se herinneringe," sê sy en voeg by: "Nog 'n onvergeetlike oomblik was toe Faizel terloops genoem het dat hy al 40 jaar lank hare sny. Jy kon net die trots en nederigheid in sy stem hoor."

Die film se titel, For His Sake, is uit 'n oomblik gedurende Faizel se onderhoud gebore waar hy oor die voortsetting van sy pa se werk praat. Steyn sê die frase vat die film se dieper temas saam: "Dit spreek van die opofferings wat gemaak is en die redes waarom mense swaarkry deurstaan: Baie dinge word 'ter wille' van geliefdes gedoen. Faizel se toewyding om sy nering en waardes aan Shuaib oor te dra, weerspie?l 'n nalatenskap wat verder as net die haarsalon strek; dit gaan oor familie, identiteit en hoop."

Slabbert sonder Ndlovu se werk as kinematograaf uit as 'n sleutelelement in die dokumentêr se resonansie. "Onthou gerus sy naam," sê Slabbert. "Die pragtige kinematografie was die beslissende faktor."

Die Departement Joernalistiek se ondersteuningstruktuur het 'n deurslaggewende rol gespeel om die studenteprojekte tot 'n professionele standaard te verhef. "Ons fakulteit sluit baie werkende joernaliste in wat ho? nuuskantoorstandaarde na die klaskamer bring," merk Slabbert op. "Ons bring ook gasdosente en -beoordelaars soos Jo Munnik, Dylan Valley en Nadine Cloete in, wat studente motiveer om na die sterre te reik."

Die span wat vir For His Sake verantwoordelik was, het sedertdien elkeen hulle eie professionele rigting ingeslaan, maar hul passie vir storievertelling duur voort. "Ons deel almal 'n droom om aa?n te hou om impakvolle stories te vertel wat ware Suid-Afrikaanse stemme uitlig en empatie en begrip bevorder," sê Steyn.

Die insluiting van die film by DIFF het die span hoopvol, maar steeds met hulle voete stewig op die aarde gelaat. "Eerlik, dit voel steeds nie werklik nie," sê Baard. "Hierdie geleentheid sou nie moontlik gewees het as dit nie vir Faizel en Shuaib was wat ons op so 'n opregte manier in hulle wêreld verwelkom het nie. Dit is hulle storie en ons het net die voorreg om dit te vertel."

Oor die vraag of daar 'n moontlike Oscar wink, sê Steyn die span was verheug en effens verstom oor die nuus en beskryf dit as 'n kragtige bevestiging van hulle werk. "Wat die Oscars betref – dit voel soos 'n droom, wie weet? Vir eers is ons net dankbaar om deel van die fees te wees en ons is opgewonde om te sien waarheen hierdie reis ons neem. "

For His Sake sal vir eers net vir gehore wat DIFF bywoon, beskore wees. Maar die span hoop om die film se reikwydte deur toekomstige feeste of aanlynvertonings uit te brei.

  • Van links na regs op die foto: Antoinette Steyn, Iva Fulepu, Nkululeko Ndlovu en Abigail Baard.