?JEUGMAAND
Gedurende hierdie Jeugmaand vier ons studente wat positiewe verandering op die kampus, in hul gemeenskappe en verder bevorder. Deur hul leierskap, deernis en toewyding help hulle om ? beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Hierdie profiele laat die kollig val op die impak en energie van ? nuwe generasie studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat verandering bewerkstellig.
Wanneer iemand Lihle Baleka oor sy studies uitvra, antwoord hy: “Ek bestudeer die toekoms." Baleka, ? tweedejaar-student in volhoubare ontwikkeling aan die US, is ? jong man met vele talente en passies. Hy het naam gemaak as ? voorstander van vroueregte, van queer-bemagtiging en van omgewingsgeregtigheid. In sy vrye tyd leef hy as ? toegewyde lid van die US Kamerkoor sy passie vir musiek uit.
Baleka het in Uitenhage in die Oos-Kaap grootgeword in ? huishouding wat deur sterk vroue van inbors gelei is. “My ma en ouma het my gevorm in die mens wat ek vandag is. Ek het baie stof tot dankbaarheid," sê hy.
Daardie fondasie van liefde en veerkragtigheid, tesame met die pyn wat hy as die teiken van boelies ervaar het omdat hy queer is, het Baleka ? pad van voorspraak en leierskap laat inslaan. “Op skool was die stigma van queer-wees erg. Die nimmereindigende beledigings het dit moeilik gemaak om myself te aanvaar," vertel Baleka. “Ek onthou hoe ek eendag skielik besef het ek is bang om te wees wie ek is en om myself uit te leef, terwyl die mense vir wie ek bang was hul lewe ten volle geniet het. Ek het besef ek spin myself in ? kokon toe en dat ek moet uitbreek en myself ook uitleef.
“Ek het die geslagsrolle wat ons inhibeer en skade berokken, begin bevraagteken. Ek het byvoorbeeld van my familielede begin bevraagteken omdat hulle aangeneem het dat pienk vir meisies en blou vir seuns is, Dis problematies om sekere gedragspatrone of verwagtings bloot op grond van hul geslag op kinders af te dwing."
Laat hoor jou stem, daag op
Baleka dien tans as die Portefeuljebestuurder vir Vroue- en Queerbemagtiging in die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) en is die Voorsitter van die ooreenstemmende komitee. Hierdie rolle het aan hom ? forum gebied om verouderde norme uit te daag en die stemme van diegene wat te dikwels stilgemaak word, te laat hoor.
Dit is nie genoeg om oor gelykheid te praat nie. Ons moet aktief daaraan werk om ruimtes te skep waar gemarginaliseerde stemme gehoor word," sê hy. Een van die kwessies is die volgehoue haat vir vroue op die kampus. Hy glo dis problematies dat sommige studenteleiers in manskoshuise nooit opdaag by pogings om vir vroueregte te mobiliseer en teen vrouemoord in Suid-Afrika te betoog nie. “Tóg verwag hulle aan die einde van die dag ? tuisgemaakte maaltyd van 'n vrou. Dis nie leierskap nie, dit is patriargie," hou hy vol.
Baleka bevorder deur middel van openbare dialo? en fyn georganiseerde geleenthede moeilike dog noodsaaklike gesprekke oor toksiese manlikheid en geslagsgebaseerde geweld. ? Kragtige voorbeeld is die onlangse fasilitering van die vertoning van Alison, ? dokumentêre program gegrond op die wrede aanval op Alison Botha in 1994.
“Dit was baie grafies, maar ek voel sterk daaroor dat ons nie moet wegskram van die onsigbare werklikheid van geslagsgebaseerde geweld nie," sê Baleka oor dié dokkie. “Een van die Huiskomiteelede van die Dagbreek-manskoshuis het my agterna kom bedank dat ek die vertoning georganiseer het. Ons het meer sulke geleenthede nodig waar ons die ongemaklike waarhede oor geslagsgebaseerde geweld aanpak," benadruk hy.
Volhoubaarheid met siel
Baleka se aktivisme sluit ekologiese geregtigheid in. As die Sekretaris van EkoMaties help hy om ? holistiese begrip te bevorder van omgewingsvolhoubaarheid wat deur diep ekologie gerig word – ? filosofie wat alle lewensvorme as intrinsiek waardevol beskou. “Volhoubaarheid gaan nie net oor herwinning nie," verduidelik hy. “Dit gaan daaroor om ons onderlinge verbondenheid met mekaar en die planeet te verstaan."
Baleka het ook as mentor vir die Aurora-pendelaarstudentegemeenskap gedien, waar hy nuwelinge deur persoonlike en professionele uitdagings gelei en hulle gehelp het om deur die kragtige uitruiling van diverse lewenservarings te groei. Hierdie reis het sy leierskapsvaardighede verryk en sy toewyding aan empatie, bemagtiging en gemeenskapsbou verdiep.
Al is hy saggeaard, lei Baleka met onwrikbare oortuiging. Hy put energie uit persoonlike én internasionale mentors en rolmodelle. Onder diegene wat hy bewonder is Meaza Ashenafi, die Ethiopiese menseregteprokureur wat gehelp het om wette oor seksuele aanranding te herdefinieer om jong meisies beter te beskerm. Maar sy blywendste inspirasie is nader aan die huis. “My ma het nooit die kanse gekry wat ek het nie. Sy is gedwing om in die skadu van mans te leef. Ek veg vir haar en vir vroue soos sy."
Inspirasie uit sy verlede
Wanneer dinge moeilik raak, herinner Baleka homself daaraan hoe ver hy gevorder het. “Ek kyk terug na my tuisdorp waar soveel seuns in dwelm- en middelmisbruik verval en is baie dankbaar vir die geleenthede wat ek gekry het om iets van myself te maak. Die hoop en gebede van my gesin hou my aan die gang. Wanneer ek neerslagtig voel, dink ek aan myself op ? sokkerveld en hoe my gesin my aanmoedig."
Die lonendste deel van sy reis by die US is om te weet dat mense in hom glo en dat sy pogings om ? verskil te maak, raakgesien word.
Sy raad aan medestudente? Begin klein. Vra vrae. En moenie bang wees om die pot te roer nie. “Die stelsel sal nie verander tensy jy dit aanpor nie. Wanneer jy vir ? goeie saak veg, is dit goed om ? rebel te wees."
FOTO: Stefan Els
GRAFIKA: Geola Bergman