?JEUGMAAND
Hierdie Jeugmaand vier ons studente wat 'n verskil op kampus, in hulle gemeenskappe en verder maak. Deur hulle leierskap, deernis en toewyding help hulle om 'n beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Hierdie profiele beklemtoon die impak en energie van 'n nuwe geslag veranderingsmakers by die Universiteit Stellenbosch (US).
?Alboricah Tokologo "TK" Rathupetsane is nie iemand wat jy maklik in ? boks kan plaas nie. Sy is 'n PhD-kandidaat by die US se Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (SVO) en is diep ingebed in die tegniese kompleksiteite van groen industrialisasie en energie-infrastruktuur. Maar sy is ook 'n talentvolle storieverteller wie se fiksie dit waag om Afrika se toekoms te herbedink – een waar wetenskap, geregtigheid en verbeelding saamkom
Dit is hierdie seldsame kombinasie van streng akademiese ondersoek en kreatiewe visie wat Rathupetsane se werk aandryf. Haar navorsing ondersoek hoe die uitbreiding van Suid-Afrika se kragnetwerk nuwe geleenthede vir plaaslike sakeondernemings kan ontsluit, veral in die staal- en vervaardigingsektore wat van uiterste belang vir inklusiewe ekonomiese groei is. Tog benader sy hierdie vrae met die gedagtes van 'n romanskrywer en die hart van 'n maatskaplike veranderingsmaker en vra nie net wat is nie, maar wat kan wees.
Storieverteller van nature
Rathupetsane, wat oorspronklik van Kgapane, 'n klein dorpie in Limpopo, afkomstig is, se akademiese reis het haar eers van meganiese ingenieurswese na 'n meestersgraad in volhoubare ontwikkeling geneem, en nou na haar doktorale navorsing wat op groen ekonomiese oorgange fokus. Langs die pad het haar liefde vir storievertelling konstante gebly– van die selfpublikasie van twee romans op ho?rskool tot plekke in gesogte internasionale skryfkompetisies. Een van haar verhale, "The Faraway Things?", was op die kortlys vir die 2020 Statebond-kortverhaalprys. Nog een, getiteld "What's Freely Given", het die tweede plek in die 2021 Future Folklore-kortverhaalkompetisie behaal.
"Hoe meer ek betrokke raak by volhoubaarheid en die aanhoudende maatskaplike uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, hoe meer voel ek ge?nspireer om stories te skryf wat diep in ons plaaslike werklikhede gewortel is," sê Rathupetsane. "Stories is 'n goeie manier om die kompleksiteite van die werklikheid te verken en kreatief oor oplossings te dink."
Hierdie oortuiging is die kern van die Africa Week Network (Afrikaweek-netwerk), 'n gemeenskapsgedrewe inisiatief wat sy in 2023 saam met drie eendersdenkende tydgenote gevestig het: Jasmine Jacob, Merin Jacob en Mhlengi Khambule. Die projek, wat in die week voor Afrikadag op 25 Mei van stapel gestuur is, bring kunstenaars, entrepreneurs, geleerdes en plaaslike inwoners bymekaar vir 'n week van markte, werkswinkels, gesprekke en sterrekyk, alles met die doel om 'n verenigde, dinamiese Afrika voor te stel.
Droom verder as armoede, misdaad en ongelykheid
Die Afrika Week Network gaan daaroor om ruimtes vir moontlikhede te skep, verduidelik Rathupetsane. "Behalwe om geleenthede by te woon, wou ons hê mense moet ander jong innoveerders, skeppers, entrepreneurs en veranderingsmakers ontmoet en betekenisvolle bande smee. Ek het ook openbare storievertelling ondersoek, my persoonlike reis as skrywer gedeel en hoe my werk in volhoubare ontwikkeling die soort probleme wat ek wil oplos, verander het."
Die 2024-weergawe het verder uitgereik danksy 'n vennootskap met die Kantoor van Sterrekunde vir Ontwikkeling, wat deelnemers daaraan herinner dat Afrika se toekoms nie net in die grond gewortel is nie, maar ook in die sterre geskryf is.
Vir Rathupetsane is die behoefte aan verbeelding dringend. Dit is moeilik om verder as armoede, misdaad en ongelykheid te droom, erken sy, maar ons moet probeer. Sy onthou die uitdaging om vanjaar 'n wetenskapfiksie-storievertelsessie vir Comic Con Cape Town voor te berei: "Dit was ongelooflik en skrikwekkend om te besef hoe moeilik dit is om 'n ander werklikheid voor te stel as die een wat ons vandag sien, selfs vir mense wat voortdurend betrokke is by pogings om dit te doen."
Haar eie kreatiwiteit word gevoed deur 'n hegte kring van familie en vriende wat haar elke tree op haar pad ondersteun het. Sy praat met liefde van haar broer, wat haar vroe? romans met trots al verskeie kere gelees het; haar jonger suster, wie se gewaagde menings haar dryf om dieper te dink; en haar kollegas by die SVO, wat haar oortuiging vertroetel dat akademiese werk persoonlik kan – en moet – wees.
'Begin deur net op te daag'
Hoewel Rathupetsane se gepubliseerde akademiese werk reeds ? bre?r gehoor begin bereik het, is dit dikwels in die informele oomblikke waar sy die grootste impak voel. "Na een artikel is ek genooi om 'n hoofrede by 'n kraginfrastruktuurkonferensie te lewer. Ek was een van die min vroue daar, en die enigste spreker wat oor inklusiewe ontwikkeling gepraat het. Ek kon nie almal oortuig nie, maar ek was bly dat mense gedurende die pouses en middagete na my toe gekom het om my perspektiewe uit te daag, en ons het dieper gesprekke gehad. Ek dink hierdie gesprekke is baie lonend, want ek leer daaruit en hulle leer op hulle beurt by my."
Haar verbintenis tot openbare betrokkenheid spruit uit 'n diepe oortuiging dat werklike verandering nie net van bo af kom nie. Sy glo ontwikkeling gaan nie net oor beleid of navorsing nie – werklike verandering begin wanneer mense gesien, gehoor en genooi voel om deel van die proses te wees.
Oor watter raad sy vir ander studente het wat 'n bydrae wil lewer, maar onseker voel, is haar antwoord eenvoudig: “Begin deur net op te daag. Gaan na die kleiner geleenthede, gesels met mense, wees teenwwordig."
Hierdie stille towerkrag van alom teenwoordig wees, aandagtig luister en samewerkend droom, lê is die kern van Rathupetsane se werk. Haar visie van geregtigheid is nie performatief of voorskriftelik nie. Dit is eerder 'n uitnodiging: om bymekaar te kom, om te deel en om 'n ander Afrika voor te stel – een storie, een idee, een verbinding op 'n slag.
FOTO: Stefan Els
GRAFIKA: Geola Bergman