Die regsgeleerde en openbare intellektueel, prof Joel Modiri, het 21 Mei 2025 'n kragtige en ontnugterende geleentheidstoespraak by die Universiteit Stellenbosch se 7de jaarlikse Afrikadag-lesing gelewer. Die geleentheid by die US Museum het 'n groot en uiteenlopende gehoor van studente, akademici, diplomate en lede van die publiek gelok.
'Afrika se tyd is nou'
Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Deresh Ramjugernath, het ter inleiding van die geleentheid – die eerste Afrikadag-lesing sedert hy in April die leisels oorgeneem het – verwys na die rol wat universiteite moet speel om 'n regverdige, inklusiewe en medewerkende toekoms te bewerkstellig. Hy het die US se verbintenis beskryf om "nie net 'n universiteit in Afrika" te word nie, maar een wat "trots en doelgerig vir Afrika" is.
"Dit beteken om verby ou paradigmas van aansien na 'n toekoms te beweeg waar uitnemendheid aan impak, insluiting en innovasie gemeet word. Dit beteken om navorsing op te lewer wat saak maak – vir landelike gemeenskappe, vir informele ekonomie?, vir klimaatkwesbare streke, vir jongmense wat 'n toekoms in 'n vinnig veranderende wêreld skep," het hy bygevoeg.
"Dit beteken ook om ons eie institusionele verlede met eerlikheid te konfronteer. Die pad na transformasie is nie met verklarings geplavei nie, maar met daaglikse besluite – oor wie onderrig, wie lei, wie voel dat hulle behoort. Ons transformasiereis moet op empatie, gelykheid en 'n onwrikbare geloof in die briljantheid van Afrikadenke gegrond wees."
Stof tot nadenke
Modiri het die volgende opgemerk toe hy die verhoog betree het: "Ek hoop die uitdagings wat ek gaan aanbied, sal waardevol wees."
Modiri, tans waarnemende Adjunkdekaan: Onderrig en Leer in die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Regsgeleerdheid en hoof van sy Departement Regswetenskap, se lesing het oor die geskiedenis, regte, filosofie en politiek heen gestrek. Hy het die gehoor uitgedaag om met die blywende nalatenskap van kolonialisme en apartheid rekening te hou – en om oor die onvoltooide projek van bevryding na te dink.
'Drie sterftes'
Modiri het wat hy die "drie sterftes" van Steve Biko genoem het, as raamwerk vir sy lesing gebruik. Hy het Biko as die "groot profeet-intellektueel" van die swartbewussynsbeweging beskryf en gesê hy gaan "poog om ons neiging tot afsluiting en gelukkige eindes te versteur, want dit lyk nie asof daar so iets is nie".
Biko se "eerste dood", het hy verduidelik, was sy wrede moord in polisie-aanhouding in 1977. Sy "tweede dood" het byna twee dekades later in die Konstitusionele Hof se uitspraak van 1996 gekom wat die Waarheids- en Versoeningskommissie se amnestiebepalings gehandhaaf het. Die beslissing het Biko se familie – en baie ander – die regsregstelling ontsê wat hulle gesoek het.
Biko se "derde dood", het Modiri aangevoer, ontvou vandag – in dít wat hy 'n tyd van "Trump in Afrika, volksmoord en nihilisme" noem. Hy het die hede as 'n oomblik van wêreldwye outoritarisme, plaaslike Afrofobie, ekologiese ineenstorting en die erosie van demokratiese en opvoedkundige ideale beskryf.
Dit is waarom Biko se nalatenskap as 'n spookagtige en dringende oproep voortduur, het hy beklemtoon. Sy geskrewe werke konfronteer ons steeds met die onherstelbare aard van die geweld van apartheid – en met die morele eis vir geregtigheid.
Modiri het die gehoor herinner aan wat Biko geskryf het: "Swart mense moet rondom die saak van hulle onderdrukking saamtrek … om hulleself van die boeie te bevry wat hulle aan ewige diensbaarheid bind."
Hy was baie krities oor Suid-Afrika se onderhandelde skikking in die vroe? 1990's en die kompromie? wat dit ondersteun het. "Deur 'n kompromis in die middelpunt van politieke en wetlike verandering te plaas," het hy gesê, "sal die aanbreek van grondwetlike demokrasie paradoksaal in 'n hardnekkige en frustrerende onveranderlikheid laat muteer."
Die gevolg, sê hy, is dat Suid-Afrika in die verlede vasgevang bly – "soos gister" – met diepgewortelde rasse- en ekonomiese hi?rargie? wat grootliks onaangeraak gelaat word. "Dit is waarom ons is waar ons is," het hy aan die gehoor gesê.
Modiri het beklemtoon dat die blote insluiting van swart mense – in die regering, op straatname, in amptelike storielyne – nie tot werklike bevryding gelei het nie. "Swart mense het net die simbole van vryheid," het hy gesê. "Maar nie die essensie van vryheid nie. En so bly almal in Suid-Afrika onvry."?
Hy het ook 'n beroep op wit Suid-Afrikaners gedoen om die idee te verwerp dat historiese regstelling 'n vorm van wraak is. Ware bevryding, het hy aangevoer, sal almal bevoordeel – maar slegs as dit 'n betekenisvolle afrekening met die verlede insluit.
"Ons moet onthou," het Modiri gesê, "dat Biko deur die strewe na 'n ware menslikheid teenoor die rassisme van koloniale apartheid te stel, nie net op die verwoesting wys wat in die lewens van swart mense gesaai is nie, maar ook op die gebrokenheid in die mensdom en die menslikheid van wit mense – iets wat uit hulle histories goedkeurende onverskilligheid teenoor die rasselyding van ander en hulle miskenning van hoe hulle sosiale posisie deur eeue van geweld en onderwerping verseker is, blyk."
Globale konteks
Modiri het Suid-Afrika se krisis binne 'n bre?r wêreldwye patroon geplaas en teen die herlewing van wit oppergesag en die verskuiwing na regs in die wêreldpolitiek gewaarsku – tendense wat historiese hi?rargie? onder nuwe gedaantes versterk.
Hierdie wêreldwye verskansing van ongelykheid ontbloot volgens Modiri die grense van simboliese transformasie en die dringende behoefte om die blywende stelsels van rasse- en ekonomiese mag te konfronteer.
Oproep tot aksie
Modiri het toegegee daar is geen maklike uitweg uit ons huidige historiese toestand nie. "Maar as so 'n onderneming onmoontlik voel, gevaarlik voel, veeleisend en onophoudelik voel – kan dit wees omdat dit is," het hy bygevoeg.
Hy het nietemin nie met wanhoop afgesluit nie, maar met 'n uitdaging aan sy gehoor: "Ons moet historiese moontlikhede teen die verlede herwin. Ons moet die geweld konfronteer en dit by die naam noem. Ons moet radikaal verskillende maniere van saamleef vind."
Afrikadag, wat jaarliks op 25 Mei gevier word, herdenk die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) in 1963 – 'n mylpaal in die vasteland se bevrydings- en eenheidstryd. Die OAE het in 2002 die Afrika-unie (AU) geword, wat die vasteland se voortgesette verbondenheid tot integrasie, ontwikkeling en kollektiewe vooruitgang weerspie?l.
Die US se 7de jaarlikse Afrikadag-lesing is deur die Rektor en Visekanselier aangebied en deur die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), geko?rdineer in samewerking met die Universiteit se Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (CASIT) en die Sentrum vir Samewerking in Afrika ('n eenheid van US Internasionaal).
* * * *
Desmond Thompson is 'n vryskutjoernalis.
ONDERSKRIF: Van links, die US se Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, die direkteur van AVReQ, prof Pumla Gobodo-Madikizela, en die UP se prof Joel Modiri, wat op 21 Mei 2025 die US se 7de Jaarlikse Afrikadag-lesing gelewer het. FOTO: Ignus Dreyer/SCPS