肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veiligheid hoog op die agenda by Stellenbosch-imbizo
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 23/04/2025

?

Nouer samewerking tussen verskillende belanghebbers is die sleutel tot die bekamping van misdaad op Stellenbosch. Dít was een van die belangrikste boodskappe wat na vore gekom het by die eerste veiligheidsimbozo wat onlangs in die Stellenbosse stadsaal gehou is.

Die imbizo, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR) in reaksie op misdaad op die dorp, is deur die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch Munisipaliteit, Jeremy Fasser, lede van die burgemeesterskomitee, US-personeel (onder andere prof Richard Stevens, waarnemende Viserektor: Leer en Onderrig) en studente, verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD),  gemeenskapsveiligheidsforums, sake-eienaars en inwoners bygewoon.

Van die bekommernisse wat by die geleentheid geopper is, was die afname in polisiedienste, die tekort aan aanklaers, die gebrek aan 24-uur-aktiewe wetstoepassing, maatskaplike euwels, die behoefte om buurtwagte te bemagtig, omkeertye vir ondersoeke en die verbetering van vervoer vir studente wat weg van die kampus af woon. Deelnemers het saamgestem dat hierdie en ander veiligheidsverwante uitdagings slegs opgelos sal word indien alle belanghebbendes op Stellenbosch saamwerk.

Die geleentheidspreker, dr Vanya Gastrow van die Instituut vir Sekerheidstudies, het by hierdie sentiment aangesluit toe sy die belangrikheid van samewerking tussen belanghebbendes beklemtoon het om die kwessies van misdaad en veiligheid aan te spreek.

"Die doel van vandag se Imbizo is om belanghebbendes bymekaar te bring en die kwessie van veiligheid op Stellenbosch te bespreek. Ek dink dit is 'n goeie eerste stap. Want voordat ons kan saamwerk om strategie? te ontwikkel en te besluit wat ons wil doen, is dit belangrik om te verduidelik wat tot dusver gedoen is.

"Ek dink ook die deel van ervarings en kennis en die identifisering van sleutelpartye en belanghebbendes kan idees bydra oor wat om te doen."

Dit is belangrik om twee dimensies te oorweeg wanneer misdaad aangespreek word, het Gastrow bygevoeg.

"Die eerste een is om die komplekse oorsake van misdaad aan te spreek. Dit sluit dus maatskaplike probleme, werkloosheid, armoede, onderwys, vroe? kinderontwikkeling, openbare ruimtes en infrastruktuur in.

"Ons moet ook nie net aan belanghebbendes dink wat by polisi?ring betrokke is nie, maar ook aan diegene wat werk om onderliggende oorsake van misdaad aan te spreek. Dit kan help om 'n ge?ntegreerde reaksie op die kwessies van misdaad en veiligheid te vorm."

Gastrow het sonder om die impak van misdaad af te water, statistieke uitgelig wat toon dat hoewel daar 'n styging in sommige misdade was, ander afgeneem het.

Dr Viljoen van der Walt, Direkteur: Risikobestuur en Kampussekuriteit by die US, het ook genoem dat, anders as wat algemeen geglo word, daar sedert 2016 'n afname in misdade was wat by Kampussekuriteit aangemeld is.

"Dit is nie waar dat misdaad buite beheer is nie. Daar is altyd risiko's. Ons is nie blasé oor misdaad nie. Die Universiteit se bestuur het nog nooit gesê hulle het nie geld vir veiligheid nie."

Van der Walt het teen die verspreiding van valse inligting oor misdaad op kampus en op die dorp gewaarsku. Hy het erken meer moet gedoen word om alle studente te bereik.

Burgemeester Fasser het gesê die munisipaliteit wil nie agter die verskoning wegkruip dat veiligheid nie hulle mandaat is nie. Hulle kyk eerder na maniere om hulle hulpbronne meer doeltreffend aan te wend om wetstoepassing te verbeter en veiligheidstelsels op te gradeer.

Hy het ook die belangrikheid van samewerking met belanghebbendes beklemtoon.

"Ek dink die klem moet val op die pad vorentoe waar ons as munisipaliteit die insette van al die belanghebbendes kan kry, maar meer spesifiek ook van die studentegemeenskap. Die studente is deel van die dorp se bestaan, en die Universiteit is ook 'n groot belanghebber op ons dorp.  En dit is iets wat baie belangrik is vir hierdie munisipaliteit."

Zahn Marais, ondervoorsitter van die SR Prim-komitee, het gesê: "Dit was ongelooflik om die bereidwilligheid te sien van alle vennote in die Stellenbosch-omgewing om hande te vat met die studente en gemeenskaplike probleme wat ons almal ondervind, en bowenal, oplossings te bespreek.

"Ons beoog om in die toekoms met die inligting te werk wat ons gekry het en innoverende oplossings te skep wat met die transformerende studente-ervaring help."

Verteenwoordigers van die SAPD het studente aangemoedig om misdaad aan te meld, na hulle waardevolle besittings om te sien en waaksaam te wees.