肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Karen Bruns ontvang gesogte Kanselierstoekenning
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 12/12/2024

?Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is met die gesogte Kanselierstoekenning bekroon vir haar uitstaande bydraes tot fondswerwing en die bou en bevordering van betekenisvolle alumni-verhoudinge aan die US.

Dié gesogte toekenning gee erkenning aan personeel van die US wie se loopbane getuig van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste.

Bruns is vereer vir haar leierskap, toewyding en impakvolle bydraes tot die US. Sy is 'n opgeleide regsgeleerde, voormalige bemarkingsdirekteur en uitvoerende hoof van 'n multimedia-uitgewery,? en lei die OAB al sedert 2015. Onder haar leiding het die Afdeling merkwaardige fondswerwingsuksesse behaal deur aansienlike finansi?le steun vir die US te verkry, en die Universiteit se wêreldwye alumni-netwerk uitgebrei.

"Ek is dankbaar om hierdie toekenning te ontvang. Dit is 'n eer om by te dra tot die Universiteit se missie deur nodige fondse te werf en ons Maties-alumni te betrek. Ek sou dit nie sonder die toewyding en harde werk van my ongelooflike span kon bereik nie. Hierdie toekenning inspireer my om aan te hou streef na uitnemendheid en ek is opgewonde om by te dra tot die toekoms van die US en om 'n blywende impak te maak."

Vir Bruns was dit ook 'n groot voorreg om by dieselfde gradeplegtigheid as filantroop en entrepreneur Wendy Ackerman erken te word. Die graad Doktor in die Filosofie, honoris causa, is toegeken aan Ackerman vir haar volgehoue filantropiese ondersteuning wat mans, vroue, kinders en die kunste reeds langer as 40 jaar baat. ?

?Fotograaf: Stefan Els