Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die prestasies van sy topstudente in Chinese taalstudies gevier by ? glansgeleentheid wat deur die Departement Moderne Vreemde Tale by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) aangebied is.
Die jaarlikse Naspers-toekenningseremonie het studente vereer vir hul uitnemendheid in Chinees en toppresteerders het gesogte toekennings ontvang, insluitend ? reis van tien dae na China wat deur Naspers geborg word.
Die geleentheid het uitgelese gaste byeengebring, insluitend Phuti Mahanyele-Dabengwa, Uitvoerende Hoof van Naspers Suid-Afrika; Sy Eksellensie Wu Peng, ambassadeur van die Volksrepubliek van China (VRC) in Suid-Afrika; Tang Chang'an, waarnemende Konsul-generaal van die VRC in Suid-Afrika, en prof Vasti Roodt, Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US.
Die Chinese kursus in die Departement Moderne Vreemde Tale word sedert Oktober 1998 deur Naspers geborg. Dit was destyds die eerste voorgraadse program in Chinees aan ? residensi?le universiteit in Suid-Afrika.
Die Naspers-pryse word toegeken aan studente wat topresultate behaal het in elkeen van die Chinese modules wat by die US aangebied word. Altesame 24 studente van die vier studiejare het op grond van hul akademiese prestasie om die toekennings meegeding. Om vir die Naspers-toekennings in aanmerking te kom moes hulle ? taalvaardigheidstoets aflê wat die skryf van 'n opstel, spraak en ? algemenekennis-vasvra behels het.
Boonop het tien derdejaarstudente wat die Chinese module 318/348 suksesvol voltooi het, ? fantastiese beloning verdien – ? reis van 10 dae na China in Desember vanjaar, waarvan alle kostes gedek word.
Etlike US-honneursstudente neem tans deel aan 'n uitruilprogram by die Renmin-universiteit en die Wuhan-kollege in China. Twee kontantpryse sal ná hul terugkeer uit China aan die honneursstudente toegeken word.
Die waarde van taal- en kulturele uitruiling
Prof Ingo Müller, Voorsitter van die US se Departement Moderne Vreemde Tale, het in sy openingstoespraak die toewyding geloof van studente wat met entoesiasme aan die Chinese taalvaardigheidstoetse deelgeneem het.
Met erkenning aan die uitdagings om Chinees te leer, het Müller gewys op die studente se veerkragtigheid en versiendheid in die bemeestering van ? taal wat deure vir uiteenlopende loopbane in internasionale betrekkinge, besigheid en onderwys oopmaak. “Deur Chinees te leer, verwerf julle nie net ? taalvaardigheid nie; julle berei julself voor om ware wêreldburgers te wees," het hy opgemerk.
Müller het ook Naspers en die Chinese ambassade bedank vir hul volgehoue ondersteuning van die onderrig van Chinees aan die US.
Wu Peng het die US en Naspers geloof vir hul toewyding tot die bevordering van Chinese onderrig in Suid-Afrika en die studente vir hul passie vir leer.
Hy het erkenning verleen aan die algemene persepsie van Chinees as ? uitdagende taal, maar het ook aanmoediging gebied: “Sodra jy tussen 2 000 en 4 000 Chinese karakters herken, kan jy doeltreffend kommunikeer," het hy gesê. Hy het studente aangemoedig om China te besoek om dié land se ryk geskiedenis te verstaan.
Hy het voorts vertel van China se verbintenis tot vrede en harmonie, wat in ? 5 000 jaar oue beskawing gewortel is. Hy het benadruk dat vlotheid in Chinees unieke insigte bied in hierdie kulturele nalatenskap, wat waarde aan 'n afwesigheid van aggressie en aan samewerking heg.
Hy het bykomende hulpbronne van die Chinese ambassade aangekondig as ? verdere verbintenis tot die US se taalprogram en om die Departement se inisiatiewe te ondersteun. “Ons reken op julle as die nuwe generasie om China en Suid-Afrika se vriendskap voort te sit en om ? beter toekoms te help bou," het hy afgesluit.
Mahanyele-Dabengwa het hierdie sentimente beaam en agtergrond verskaf oor Naspers se verhouding met China, soos die uitgebreide belegging in die Chinese tegnologiereus Tencent. “Die geleenthede vir al die jongmense in hierdie kamer is groot en betekenisvol," het sy gesê en het benadruk hoe vlotheid in Chinees transformerend kan wees in ? wêreld waar veeltaligheid al hoe meer noodsaaklik is.
Mahanyele-Dabengwa het die studente direk toegespreek en hul harde werk, toewyding en versiendheid in die nastrewing van Chinees geprys. “Om toegang tot ? ander taal te kan hê, skep soveel geleenthede vir julle. Die geleenthede wat julle vir julleself as leiers van m?re skep, is werklik opwindend. Ons is so trots op julle almal," het sy gesê.
Wenners van die Naspers-toekennings
Jessica Clarke was die ster van die aand en het die prys vir beste derdejaarstudent in Chinees gewen. Chelsea Simpson was tweede en Maxine de Lange derde in die senior groep
Leila Stander het die prys vir die topstudent in die tweedejaarklas gewen en Taaraa Lakay is as die top-eerstejaarstudent in Chinees aangewys.
Merietesertifikate is aan die volgende studente oorhandig: Daphne Faith Betu; Emme Smith; Isabella Anne Van Rooyen, Maarten Kyle Cuperus; Anna Cousins; Jasmin Etherington en Asanda Vilakazi.
Ná die prysuitdeling het studente hul talente ten toon gestel met Chinese liedjies en danse, wat ? kulturele geur aan die formele verrigtinge verleen het, terwyl gaste ? fees van Oosterse kookkuns geniet het.