肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak: SUNCOI inspireer passie vir chemie by leerders
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 24/07/2024

In die lig van die Universiteit Stellenbosch (US) se fokus op sosiale impakbewustheid in Julie, vier hierdie reeks profiele merkwaardige individue en spanne wat ? betekenisvolle bydrae buite die Universiteit se mure lewer. Die onlangse eerste Sosiale Impak-toekennings het erkenning verleen aan akademiese en professionele administratiewe ondersteuningsdienstepersoneel (PASS) van die US wat positiewe verandering in uiteenlopende lewensgebiede bevorder. Dr Ebrahiem Botha en Jabu Lukhele het ? toekenning gewen vir hulle toewyding aan ? program wat ho?rskoolleerders en onderwysers toegang tot praktiese chemie-laboratoriumwerk bied.Dit verg twee baie spesiale mans om nie net hulle hart en siel te stort in ? program wat ho?rskoolleerders en onderwysers help om in chemie uit te blink nie, maar ook voortdurend daarna streef om die nalatenskap te eer van die formidabele vrou wat een van die US se vlagskip-gemeenskapsuitreikprogramme begin het.

Wanneer dr Ebrahiem Botha en Jabu Lukhele oor SUNCOI (die US se chemie-uitreikinisiatief) praat, is hulle passie om die wonders van chemie met jongmense te kan deel tasbaar. Hulle altwee beskou dr Rehana Malgas-Enus, wat in 2022 tragies gesterf het, as hulle inspirasie om tyd oor naweke en na-ure af te staan om ? liefde vir chemie by leerders te koester.

Lukhele, hoof- tegniese beampte van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, sê Malgas-Enus was sy vriend, mentor en studieleier. “Dr Rehana was een van die merkwaardigste en mees gedrewe mense wat ek ooit ontmoet het. Ek het so baie by haar geleer. Toe ek in 2014 by die US aangesluit het, het sy my vertel van die chemie-uitreikidee en my gevra om met tegniese aspekte van die laboratoriumwerk te help."

'Hoe doen skole dit?'

Malgas-Enus, destyds ? dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, het die program in 2013 begin met die idee om gr. 12-studente van vyf minderbevoorregte skole toegang tot die laboratoriumfasiliteite by die US te gee om te voldoen aan die praktiese assesserings wat vir fisiese wetenskap nodig is.

Lukhele onthou die ontstaan van die SUNCOI-program nog baie goed. “Ek en dr Rehana het na een van die matriekvraestelle gekyk. Daar is van die studente verwag om verskillende laboratoriumtoestelle soos pipette, burette en bekers te benoem. Ons het na mekaar gekyk en gewonder hoe die leerders veronderstel is om van sulke goed te weet. Ons was altwee in skole wat nie laboratoriums gehad het nie en ons het eers met sulke toerusting begin werk toe ons universiteit toe gekom het," sê Lukhele.

Die vraag “hoe doen skole dit?" het Malgas-Enus na vakadviseurs by die Departement van Onderwys laat uitreik. Sy het nie ? bevredigende antwoord gekry nie en dit het haar aangevuur om ? oplossing te vind. “Ons het plaaslike skole gekontak om uit te vind wat hulle nodig het en ons het die Kurrikulum-en assesseringsbeleidsverklaringsdokument (KABV) vir graad 12 in die hande gekry," onthou Lukhele.

Onderwysers het gesê hulle het hulp nodig om aan KABV-riglyne te voldoen en daarom het Malgas-Enus en kollegas besluit om ? reeks fisiese wetenskap-eksperimente wat aan die KABV voldoen vir gr. 10 tot gr. 12 te ontwerp. Dit is goed ontvang en danksy ? endossement van die fisiese wetenskap-vakadviseur deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement goedgekeur.

Hulp vir leerders en onderwysers

Ofskoon die samewerking met plaaslike skole met die KABV-werkboek begin het, is ? ander behoefte gou ge?dentifiseer. Baie onderwysers het nie die kennis om chemie-eksperimente uit te voer nie. Gevolglik het SUNCOI jaarlikse werksessies vir onderwysers van die Kaapse Wynlande begin re?l om hulle hierin op te lei. Die onderwysers is ongelooflik dankbaar vir hierdie praktiese ervaring, sê Lukhele.

Die SUNCOI-span het besef dat fisiese wetenskaponderwysers steeds uitdagings in hulle eie skole sou ervaar en het ? kostedoeltreffende stelletjie met die minimum hoeveelheid chemiese reagense en basiese laboratoriumbenodigdhede saamgestel vir die verskillende eksperimente wat onderwysers in die klaskamer moet uitvoer.

Die inisiatief het met laboratoriumwerksessies slegs vir graad 12's begin, maar het vinnig uitgebrei namate graad 10- en graad 11-onderwysers en uiteindelik ook ander belangstelling getoon het. SUNCOI se program dek nou eksperimente van graad 4 tot graad 12, met elke eksperiment wat deur ? koopbare stelletjie vir klaskamergebruik ondersteun word.

Oor die afgelope tien jaar het duisende leerders en hulle onderwysers in wit laboratoriumjasse en beskermende brille die voorgeskrewe eksperimente in verskeie van die Departement Chemie se volledig toegeruste laboratoriums uitgevoer.

Inspirerende rolmodelle

Botha het in 2020 by die US begin werk en het nie geskroom om kort daarna by die SUNCOI-program aan te sluit nie. “Ek onderrig studente van die Verlengde Kurrikulumprogram (VKP). Hierdie kursus is ontwerp vir matrieks wat hulle punte moet verbeter om vir ? hoofstroom-graadprogram te kan inskryf," verduidelik hy.

Ná Malgas-Enus se afsterwe het Botha aangebied om die rol van ko?rdineerder van die SUNCOI-program oor te neem. “Ek wou haar nalatenskap eer deur die werk voort te sit. Ek en Jabu maak ? baie goeie span uit. Ons het albei ? passie vir chemie en onderrig. Ons vul mekaar met ons energie aan," sê hy.

Botha se eie reis as akademikus dien as inspirasie vir studente. “Ek was een van daardie leerders wat nie goed op skool gevaar het nie," vertel hy. “Ek het deur die Universiteit van die Vrystaat ? oorbruggingsjaar by ? satellietkampus in Oudtshoorn voltooi om my matriekpunte te verbeter. Ek is toe al die pad deur universiteit en het my PhD in chemie voltooi. Ek wil ? inspirasie wees vir studente, veral vir diegene wat nie so goed op skool gevaar het nie, om vir hulle te wys hulle kan ook sukses behaal as hulle net hard werk."

Lukhele vertel dat Malgus-Enus ? soortgelyke agtergrond gehad het. Sy het in Mitchell's Plain grootgeword en haar ma, wat op 31-jarige ouderdom ? weduwee geword het, het in ? staalfabriek gewerk om haarself en haar twee dogters te onderhou. “Dr Rehana se ma het haar ge?nspireer om te glo dat sy enigiets kan wees as sy vasbeslote is en hard werk. Deel van haar veldtog was om na haar gemeenskap terug te gaan en vir kinders te sê: 'Moenie na jou omstandighede kyk nie, moenie kyk na wat jy nie het nie. Ons is hier om jou te help om jou drome te verwesenlik.'

“Ek het ook in ? township grootgeword. Stellenbosch verskil hemelsbreed van die omstandighede gedurende my kinderjare in Johannesburg. Ek is bevoorreg en dankbaar dat mense soos dr Rehana in my geglo en my ondersteun het om ? loopbaan in die wetenskap te vestig. Dit inspireer my om dieselfde vir ander te doen," sê Lukhele.

Liefde vir die wetenskap

Die meeste van SUNCOI se werksessies, vir tot 100 leerders op ? slag, vind oor naweke plaas, maar die twee chemiekenners kla nooit oor die bykomende las nie. “Niemand dwing ons om dit te doen nie," benadruk Botha. “Ons doen dit as vrywilligers vir die liefde vir wetenskap. Gelukkig het ons ? baie toegewyde span van sowat 15 nagraadse studente en ondersteuningspersoneel van die chemie en polimeer-departement wat ons in die laboratorium bystaan wanneer ons die werksessies hou."

Sommige van die deelnemers aan die SUNCOI-program is so ge?nspireer dat hulle aan die US gaan studeer het. Lukhele is opgewonde as hy voormalige SUNCOI-leerders as US-studente in die chemie-laboratoriums raakloop.

Die gewildheid van die SUNCOI-program het sedert sy ontstaan uitgekring. Ander universiteite het belangstelling getoon en die US gevra om hulle te help om soortgelyke programme in werking te stel. “Ons het met die Universiteit van Pretoria en die Nelson Mandela-universiteit saamgewerk," sê Lukhele.

Hulle het onlangs ook ? versoek om bystand van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) ontvang. “Een van ons nagraadse studente wat nou ? dosent by die KSUT is, wil hê ons moet help om die program daar in werking te stel. Nog ? student wat sy PhD aan die US voltooi het, het onlangs van die Universiteit van Johannesburg uitgereik om saam te werk," sê Lukhele met ? trotse glimlag.

Die SUNCOI-span is selfs deur een van die wêreld se grootste wetenskapverenigings, die Amerikaanse Chemiese Vereniging, genader om ? werksessie te re?l.

Die wese van wat dié twee mans by SUNCOI doen, is om ? passie by leerders te kweek om nie uitdagende vakke prys te gee nie. “Ons moedig leerders aan om met wiskunde en wetenskapsvakke te volhard, want dit kan in die toekoms soveel deure open," sê Lukhele. “Ons departement se leuse is 'chemie is lewe'. Chemie is oral. Ons sê vir leerders wanneer jy sjokolade koop, is chemie daarby betrokke. As jy koffie of tee maak deur al daardie goed by te voeg, is jy met chemie besig. Dit is só eenvoudig en betowerend."

FOTO: Prof Nico Koopman (Viserektor : Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), Dr Ebrahiem Botha, Jabu Lukhele en Dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur: Sosiale Impak & Transformasie) by die Sosiale Impak-toekennings. (Foto geneem deur Stefan Els)