肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
RNE moet huishoudings met kinders aan die hoof prioritiseer
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/07/2024

As daar een ding is wat Suid-Afrika se nuwe regering van nasionale eenheid moet prioritiseer, is dit huishoudings met kinders aan die hoof. Kinders uit hierdie huishoudings word van hul grondwetlike regte op gesins- of ouerlike sorg, alternatiewe sorg, voldoende skuiling en sosiale sekerheid ontneem. Daar is ook 'n verwagting dat hulle hul gesinne moet versorg en beskerm.

Só sê dr Niccoh Diago, hoof van die mansintervensieprogram by Community Cohesion, 'n organisasie sonder winsbejag (NPO) in Houtbaai, Kaapstad. Hy het onlangs sy doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

“Omdat hierdie kinders nie versorgers het nie, loop hulle die risiko om aan geweld, verskillende vorme van mishandeling en misdaad blootgestel te word. Huishoudings met kinders aan die hoof is disfunksioneel omdat die kinders nie toegang tot maatskaplike dienste en ondersteuning het nie," sê Diago.

“Huishoudings met kinders aan die hoof is ook oor die hoof gesien en het al in baie gemeenskappe die norm geword, terwyl wetgewing nie behoorlik toegepas is nie en voldoende hulpbronne nie toegewys is om hulle situasie aan te spreek nie. Dit is duidelik dat hierdie kinders emosionele ondersteuning en koestering van huishoudings asook beradingsdienste nodig het."

Om die kollig op die lot van kinders in huishoudings met kinders aan die hoof te laat val, het Diago onderhoude met maatskaplike werkers en toesighouers van maatskaplike werkers van spesifieke kinderbeskermingsorganisasies in Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap gevoer, asook met 'n aangewese persoon van een van hierdie provinsiale departemente vir maatskaplike ontwikkeling. Diago sê hy het op hierdie drie provinsies gefokus aangesien 'n ontleding van huishoudings met kinders aan die hoof in die 2017 Algemene Huishoudelike Opname aan die lig gebring het dat sowat driekwart van hierdie huishoudings in hierdie provinsies gevind kan word. KwaZulu-Natal het ook 'n groot aantal huishoudings met kinders aan die hoof.

“Ek het onderhoude met hierdie mense gevoer omdat hulle 'n spesifieke rol in die beskerming van die regte van huishoudings met kinders aan die hoof speel en hulle gedagtes oor die lewering van maatskaplike dienste aan hierdie soort huishoudings is belangrik om 'n begrip te kry van die omvang van dienste wat beskikbaar is en aan hierdie kwesbare groep gelewer moet word."

Volgens hom is daar geen bestaande navorsing oor die lewering van maatskaplike dienste aan kinders wat in huishoudings met kinders aan die hoof woon nie, veral wat hulle regte op sorg en beskerming betref.

“My studie het bevind dat kinders in huishoudings met kinders aan die hoof emosionele probleme ondervind omdat hulle sonder die sorg van ouers leef en volwasse verantwoordelikhede moet aanvaar," sê Diago.

“Hulle het minimale ondersteuning van uitgebreide familie en gemeenskapslede ontvang, wat daartoe gelei het dat hulle alleen gelaat is om na hulself om te sien en maatskaplik belas is sonder enige ondersteuning, soos om nie 'n volwassene te hê wat skoolvergaderings kan bywoon en skoolvorms teken nie.

“Van hierdie kinders het die skool verlaat omdat hulle swanger geraak het of by onwettige aktiwiteite betrokke geraak het om die pot aan die kook te hou. Dit het inbreuk gemaak op hulle reg op ouerlike sorg, basiese onderwys en om teen verwaarlosing of vernedering beskerm te word.

“Van al die verskillende dienste wat in artikel 150(3) van die Kinderwet (Wet 38 van 2005) genoem word, is slegs beradingsdienste gelewer wat beteken dat daar 'n groot gaping is tussen maatskaplike dienste wat deur maatskaplike werkers gelewer word en dienste wat ingevolge die Wet aan kinders van huishoudings met kinders aan die hoof gelewer moet word. Daarbenewens is geen volwasse versorger aangestel om toesig te hou oor die kinders soos uiteengesit in artikel 137 van die Kinderwysigingswet (Wet 41 van 2007) nie."

Hierdie kinders se benarde situasie word verder vererger deur die feit dat maatskaplike werkers dit al hoe moeiliker vind om die nodige dienste aan hulle te lewer weens onder meer ho? gevalleladings, personeeltekorte, vervoertekorte en beperkte finansiering, aldus Diago.

“Die tekort aan maatskaplike werkers belemmer die vermo? van kinderwelsyn-NPO's om aan die toenemende behoefte vir maatskaplike dienste te voldoen. Verder maak beperkte finansiering dit vir maatskaplike werkers moeilik om huisbesoeke te doen en kinders en gesinne in nood by te staan.

“Voldoende befondsing moet aan aangewese kinderwelsynsorganisasies beskikbaar gestel word, meer maatskaplike werkers moet in diens geneem word en die Kinderwet én die Kinderwysigingswet moet hersien word om te verseker dat doeltreffende maatskaplike dienste gelewer word aan kinders wat in huishoudings met kinders aan die hoof woon."

Diago sê die bevindings van sy studie kan NPO's en departement van maatskaplike ontwikkeling help om strategie? te ontwikkel wat daarop sal fokus om op die behoeftes van huishoudings met kinders aan die hoof te reageer en sodoende te verseker dat hierdie kinders se reg op versorging en beskerming beskerm word.

Wat verdere stappe aan betref, beveel hy aan dat 'n nasionale studie saam met maatskaplike werkers en toesighouers van maatskaplike werkers in diens van die departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen word oor huishoudings met kinders aan die hoof se regte op sorg en beskerming, asook navorsing oor die implementering van bestaande wetgewing om uitvoering te gee aan sekere regte van kinders soos vervat in die Grondwet.