肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
160 kilometer se stap om fondse in te samel vir nagraadse studies in polimeerwetenskap aan die US
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 10/07/2024

?'n Chemie-dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan160 kilometer in vier dae stap om geld in te samel vir die Ron Sanderson Beursfonds wat in 2015 gestig is ter ere van wyle Prof. Ron Sanderson se bydrae tot die ontwikkeling van polimeeronderrig in Suid-Afrika.

Prof. Bert Klumperman, wat self erken word as 'n wêreldleier op die gebied van polimeerchemie, sal een van meer as 45 000 mense van 70 nasionaliteite wees wat aan The Walk of the World deelneem. Hierdie staptog wat as die grootste stapgeleentheid ter wêreld beskryf word, vind van 16 – 19 Julie in Nijmegen in Nederland plaas. Oorspronlik bekend as die 4DaysMarches (4Daagse in Nederlands), stap deelnemers 30 tot 50 kilometer per dag terwyl duisende toeskouers  in die strate staan en hulle aanmoedig.

Klumperman het in die laat 1990s, terwyl hy dosent aan die Eindhoven Universiteit van Tegnologie in Nederland was, saam met Sanderson begin werk. Sanderson word beskou as die persoon wat in die 1970s polimeerwetenskap in Suid-Afrika gevestig het. En sedert 1982 is die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap die enigste instelling in Suid-Afrika waar nagraadse grade in Polimeerwetenskap verwerf kan word.

In 2006 is die jare lange samewerking tussen hierdie twee wetenskaplikes geformaliseer toe die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture by die US aan Klumperman toegeken is, en in 2007 het hy ook 'n A-gradering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang.  

So het meer as 15 jaar van langafstandpendel tussen Suid-Afrika en sy gesin in Nederland begin.

Klumperman sê die Ron Sanderson Beursfonds het ten doel om BSc-graduandi wat hul honneurstudies in polimeerwetenskap  wil voortsit, te ondersteun.: “Tans is daar slegs beursgeleenthede vir nagraadse studies in polimeerwetenskap op MSc- en PhD-vlak, maar geen vir HonneursBSc-studente nie. Dit is belangrik dat ons meer studente  moet help om hierdie gaping te oorbrug sodat ons die volgende generasie polimeerwetenskaplikes in Suid-Afrika kan oplei."  

Klumperman is bekend onder eerstejaarwetenskapstudente as dosent van die Chemie 124-module in die eerste semester van hul eerste jaar op universiteit. En benewens gereelde lang staptogte en die onlangse sessies om die Franse horing te  bespeel, is hy ook nou betrokke by die bou van 'n kultuur van entrepreneurskap in die US se Fakulteit Natuurwetenskappe. Deur die jare het hy 25 patente geregistreer, waarvan die laaste gelei het tot die afwentelmaatskappy  Nanosene, waarvan sy voormalige PhD-student Dr Gestél Kuyler, die medestigter is.

Terwyl hy in Stellenbosch is, onderneem hy gereeld staptogte in die dorp en omgewing en Jonkershoek, waarvan sy mees onlangse een 'n 28 kilometer lange Sondagoggendstap was. Sy vrou Linda, en 16 jarige dogter Rosa, sal die vierdaagse staptog in Nederland saam met hom aanpak. Dit sal die vierde keer wees wat hy hieraan deelneem.

Klik op die skakel hieronder vir sy projek op die GivenGain platform – elke donasie maak 'n verskil in 'n student se lewe!

https://www.givengain.com/project/bert-raising-funds-for-stellenbosch-university-south-africa-80666?