肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Glo in jouself en jou eie stem, sê CGW Schumann-medaljewenner
Outeur: Aamirah Sonday
Gepubliseer: 08/07/2024

Thomas Janisch was aanvanklik nie ’n student in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) nie, maar die ekonomiekursusse in sy BA-graad in Politiek, Filosofie en Ekonomie (PFE) het hom so sterk aangetrek, dat hy sy instink gevolg en na ’n BCom-graad in Internasionale Besigheid oorgeskakel het – en EBW se CGW Schumann-medaljewenner van 2023 geword het.

“Hoewel ek my studiejaar in PFE geniet het, is ek al hoe meer deur my besigheidsvakke aangetrek, veral ekonomie. Ek het ook van die internasionale aspekte van die graad gehou en die geleentheid om ’n taal aan te leer (ek het Frans gekies). Danksy my programverandering was ek gelukkig genoeg om ’n semester by ESSEC Bestuurskool in Frankryk deur te bring. Internasionale Besigheid bied ook ?n unieke gemeenskap vir voorgraadse studente en dit het my gehelp om talryke wonderlike mense te ontmoet”, het hy gesê.

Al het dit hom ?n ruk geneem om sy voete in die Fakulteit EBW te vind, onder meer weens die COVID-19-pandemie wat akademiese aktiwiteite ontwrig het, het hy sy graad geniet toe hy uiteindelik kon terugkeer kampus toe. Sy studies was soms “veeleisend”; tog was sy ondervinding positief.

“My gunsteling- akademiese jaar aan die Universiteit was my honneursjaar; ek het gevoel ek het die meeste geleer en ontwikkel. Ek is elke liewe dag uitgedaag en moes myself harder dryf as ooit tevore. Ek het altyd gevoel die professore en die universiteitsfasiliteite op kampus skep ’n omgewing waarin dit maklik voel om nuwe dinge aan te leer”.

“Ek was in Metanoia-koshuis en was mal daaroor om deel te wees van die koshuisaspek van ’n Stellenbosse student se lewe – dit is waarlik ’n unieke, eens-in-?n-leeftyd-tipe ervaring om daardie omgewing te beleef. Sommige van die vriende wat ek daar ontmoet het, sal lewenslange vriende bly.”

Thomas neem tans deel aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank se ontwikkelingsprogram vir graduandi en is ’n lid van die span wat verantwoordelik is vir die ontleding van ons binnelandse ekonomie. Hy wil vir ’n meestersgraadprogram in ekonomie inskryf sodra hy meer bedryfservaring opgedoen het.

Oor sy toekenning is Thomas beide trots en nederig. “Die Fakulteit EBW is baie spesiaal by US, so om die toptoekenning te ontvang, is ’n groot eer. Dit gee my verder vertroue in my eie vermo? en inspireer my om die platform te gebruik wat US my gegee het om ’n positiewe impak op my land en gemeenskap te maak”.

“Ek moet my ouers bedank vir hul ondersteuning dwarsdeur die hele proses – dankie dat julle my altyd toegelaat het om my eie pad te kies en my met elke tree ondersteun het. Ek wil ook my vriende van Metanoia, die Lighthouse-studenteverblyf en my kamermaats in Simonsrust bedank. En laastens, die ongelooflike professore in die Ekonomie-departement en my honneursklas, veral diegene met wie ek so baie ure in die lab deurgebring het!”.

Oor hoe hy sy ure op universiteit deurgebring het, het Thomas besef dat die resultaat wat jy verlang, van jou vereis om baie ure in te sit en sommige opofferings te maak. Hy het egter algaande besef dat harde werk nie altyd 12 uur lange sessies in die biblioteek beteken nie. “Ek het besef dat wegbreektye – om te rus, in die natuur te wees en geselsies met vriende te hê – produktief kan wees. Wanneer ek daarna terugkeer na my studie, het dit gevoel asof my brein verfris is en my lewenshouding as ’n geheel meer positief; al was die kursus hoe moeilik. Dit was noodsaaklik om uitbranding te vermy.”

Vir huidige en toekomstige studente het Thomas die volgende bemoedigende woorde: “Ek dink daar is hope interessante en opwindende geleenthede vir jong Suid-Afrikaners om ’n impak te maak. Moenie ontmoedig word as jy nie deur kompeterende graduandi-programme aanvaar word nie of ?n werksgeleentheid geweier word (ek is deur ’n hele paar weggewys). Suid-Afrika het jou talente nodig, so glo in jouself en jou eie stem. Jy kan ’n groter impak hê as wat jy dalk tans glo, en jou unieke perspektief as ’n jong persoon word as waardevol beskou in die werksomgewing.”