肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Donita Africander bevorder vrouegesondheid deur baanbrekersnavorsing
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/07/2024

Prof Donita Africander van die Departement Biochemie in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs haar intreerede gelewer. Die titel van haar lesing was “Die verbetering van vroue se gesondheid: insigte oor voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie".

Africander het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy haar navorsing gebruik om die gesondheid, welstand en lewensgehalte van vroue wêreldwyd te help verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke vakrigting begin belangstel het.

My navorsing fokus daarop om die biologiese uitwerking van progestiene, – sintetiese verbindings wat ontwerp is om die optrede van die natuurlike seksstero?edhormoon progesteroon na te boots – beter te verstaan. Progestiene word algemeen in voorbehoeding, menopousale hormoonterapie en die behandeling van ginekologiese afwykings soos endometriose (wanneer weefsel soortgelyk aan die voering in die baarmoeder (endometrium) buite die baarmoeder groei) gebruik. Ondanks die terapeutiese voordele daarvan, is die kliniese gebruik van sommige progestiene al met verskeie newe-effekte, soos die verhoogde voorkoms van indringende borskanker en verhoogde vatbaarheid vir MIV, geassosieer.

Gegewe die diversiteit in chemiese struktuur en biologiese funksie onder die talle progestiene wat terapeuties beskikbaar is, is dit moontlik dat hulle voordelige uitwerking en newe-effekte kan wissel. Deur in progestiene meganismes op sellulêre vlak te delf, probeer ek om die klinies doeltreffendste progestiene met die minste nadelige uitwerking te identifiseer, en om die idee dat alle progestiene dieselfde is, as verkeerd te bewys. Hierdie strewe dryf my navorsing, aangesien ek daarna streef om tot betekenisvolle vooruitgang in vrouegesondheid by te dra deur 'n omvattende begrip van progestienbiologie te ontwikkel.

Hoe sal jy die relevansie van jou werk, veral ten opsigte van vrouegesondheid, beskryf?

Insigte in progestienemeganismes en hoe dit aan siektes soos borskanker en MIV gekoppel is, is veral belangrik vir vroue se gesondheid, gegewe die wydverspreide gebruik van progestiene in voorbehoeding en menopousale hormoonterapie. Die bevordering van ons kennis op hierdie gebied kan tot die ontwikkeling van veiliger, meer doeltreffende formulerings lei wat minimale nadelige gevolge en optimale voordele het. Ons navorsing het die potensiaal om kliniese praktyke te be?nvloed, wat uiteindelik die welstand en lewensgehalte vir vroue wêreldwyd sal verbeter.

Op grond van jou navorsing, waarom is dit so belangrik om ons begrip van voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie te verbeter?

Die terme voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie op hulle eie het nie spesifisiteit nie, aangesien hulle nie tussen verskillende tipes of spesifieke komponente onderskei nie. Die onderskeid is van kardinale belang aangesien nie alle formulerings vir newe-effekte soos 'n verhoogde voorkoms van borskanker en vatbaarheid vir MIV ge?valueer is nie. Dit is uiters belangrik dat ons ons begrip van die komponente in voorbehoedmiddels en menopousale hormoonterapie, veral die progestiene komponent, verbeter ten einde vroue en klinici in staat te stel om ingeligte keuses te maak. Gegewe die wydverspreide gebruik van voorbehoedmiddels en hormoonterapie, kan vooruitgang op hierdie gebied beduidende implikasies vir openbare gesondheid inhou, wat moontlik die siektelas kan verminder en die lewensgehalte van talle vroue kan verbeter.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende ho?ronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Om toekomstige wetenskaplikes te kan mentor – hetsy hulle voorgraadse of nagraadse studente of ontluikende akademici is – hou my sonder twyfel gemotiveerd. As 'n passievolle voorstander van transformasie gee my verbondenheid daartoe om 'n rolmodel vir ander vroue in die wetenskap en swart wetenskaplikes te wees, vir my 'n pligsbesef wat my help om koers te hou deur uitdagende tye. Daarbenewens dien die kennis dat ons navorsing die potensiaal het om vroue se gesondheid wêreldwyd positief te be?nvloed, as kragtige motivering om struikelblokke te oorkom.

Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?

Om saam met my navorsingspan te werk, veral om studente en junior navorsers te mentor, bring vir my die grootste vreugde. Dit is persoonlik vervullend om die volgende generasie wetenskaplikes te kweek. Ek koester die uitruil van idees en my navorsingspan en ons medewerkers se gesamentlike poging terwyl ons daarna streef om die ontbrekende stukke te vind om die legkaart van progestiene in vroue se gesondheid te voltooi. Om te weet dat die werk die potensiaal het om gesondheidsuitkomste vir vroue wêreldwyd te verbeter, is ongelooflik vervullend.

Wat is jou boodskap aan jongmeisies wat daarna streef om 'n beroep in die wetenskap te volg?

Die wetenskap trek voordeel uit uiteenlopende perspektiewe en stemme, en jou idees en bydraes maak saak. Glo in jou vermo?ns en potensiaal; deur harde werk kan jy enigiets bereik wat jy wil. Jy hoort in die wêreld van die wetenskap, en moenie toelaat dat enigiemand jou iets anders wysmaak nie!

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Buite die laboratorium gun ek myself dit om ietwat van 'n kos- en wynsnob te wees – om geure te verken, nuwe kookkunste uit te toets en die perfekte wyne daarvoor te vind. Ek is ook baie lief vir sing en dans, en sing gereeld uit volle bors in die stort of ek kap dit uit op die dansvloer saam met familie en vriende.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

In my vrye tyd koester ek oomblikke saam met my man en twee dogters, veral om nuwe resepte saam te verken. Ek is baie lief vir kosmaak, veral om met Indiese en Asiatiese kookkuns te eksperimenteer. As ek nie in die kombuis is nie, sal jy my dalk kry waar ek besig is om misdaad- of hofdramareekse te kettingkyk. Ek verdiep my dikwels só in die ingewikkelde en spanningsvolle komplotte dat die navorser in my in 'n speurder of prokureur verander – tot groot ontsteltenis van my gesin!

  • Foto deur Ignus Dreyer (Die Stellenbosch-sentrum vir Fotografiese Dienste).