肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie Buddy-program help internasionale studente nesskop by die US
Outeur: Ameera Crew
Gepubliseer: 11/06/2024

?

Om in die buiteland te studeer is 'n onvergeetlike ervaring. Nietemin hou die aanpassing by 'n vreemde land met onbekende gesigte en diverse kulture ook sekere uitdagings in. Dít is waar die Matie Buddy-program so goed te pas kom. Dié kruiskulturele makkerprogram word deur die Sentrum vir Globale Skakeling van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal aangebied. Dit help internasionale studente gewoond raak aan die lewe by die US, terwyl plaaslike studente 'n waardevolle geleentheid kry om met eweknie? uit die buiteland te skakel.

“Die Matie Buddy-program is vir studente wat belang stel om met ander kulture in aanraking te kom, en bande te bou met studente van oor die hele wêreld," verduidelik Kauthar Jardine, 'n derdejaarstudent in Internasionale Studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Sy is sedert Januarie 2023 'n Matie Buddy. “Deur hierdie tipe skakeling bou 'n mens blywende vriendskappe en help jy nuwe studente hulle plek in die Stellenbosse gemeenskap vind," voeg sy by.

Die Matie Buddy-program is een van die maniere waarop die US tuis-internasionalisering beoefen. Die doel is om plaaslike studente toe te rus met interkulturele bewustheid en vaardighede, 'n waardering vir diversiteit, en 'n beter begrip van die res van die wêreld. Dié doel word duidelik bereik te oordeel na Kauthar se ervaring tot dusver: “Ek ontmoet nie net ongelooflike en diverse mense uit alle wêrelddele nie, maar my deelname aan die program het ook 'n groot impak op my persoonlike ontwikkeling," sê sy. “Baie van die internasionale studente praat Frans, en aangesien ek Frans as 'n vreemdetaalvak het, gee dit my boonop 'n geleentheid om my Franse taalvaardighede te oefen en te verbeter."

Stellenbosch is knus gele? tussen asemrowende berge in die Wes-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die dorp se skilderagtige natuurskoon betower menige besoeker. Dít is een van die redes waarom Rachel Erben, 'n Politieke Wetenskap-student aan die College of Saint Benedict in Minnesota, Verenigde State, besluit het om as 'n semesterstudent by die US in te skryf. “Ek het 'n universiteit in Suider-Afrika gekies, want ek was op soek na 'n ander tipe studie-ervaring oorsee," sê Rachel, wat oorspronklik van Alaska is. “Toe ek foto's van die US sien, was ek dadelik versot op die natuurskoon, en dat ek boonop net 'n klipgooi is van 'n polsende stad soos Kaapstad is 'n fantastiese bonus."

Rachel en Kauthar is saam ingedeel nadat Rachel op 'n e-posuitnodiging van US Internasionaal gereageer en vir die Matie Buddy-program geregistreer het. Sy sê die program het dit sedert haar aankoms in Februarie 2024 aansienlik makliker gemaak om haar by die US tuis te maak en by die studentegemeenskap in te skakel. “Ek's so bly dat ek vir die program geregistreer het, want dit is 'n wonderlike hulpbron vir internasionale studente wat die eerste keer by die US kom studeer," sê sy. “Een van my gunstelingdele van die program is dat jou Matie Buddy jou al kontak nog voordat jy in Suid-Afrika aankom. Kauthar kon sommer tóé reeds ál my vrae beantwoord, wat my laat voel het of ek klaar deel is van die US-gemeenskap."

Nie alle internasionale studente registreer om vir hulle tyd by die US 'n Matie Buddy te hê nie. Rachel erken ruiterlik dat haar ervaring aansienlik anders sou gewees het as dit nie vir Kauthar was nie. “Om 'n Matie Buddy te hê laat jou dadelik welkom en op jou gemak voel, want daar's iemand by wie jy vir enige inligting of hulp kan aanklop. As ek nie geregistreer en vir Kauthar ontmoet het nie, sou ek soveel dinge misgeloop het en sou ek beslis nie soveel spesiale bande met studente van Suid-Afrika en die res van die wêreld gebou het nie," sê Rachel. Die Buddy-ervaring het Rachel ook gehelp om haar verwagtinge oor die lewe by die US te bestuur. “Hoewel ek nie enige negatiewe verwagtinge gehad het nie, het my Matie Buddy my beslis gerusgestel sodat ek realistiese verwagtinge oor die semester gehad het."

Die volgende groep internasionale studente word teen die middel van Julie by die US verwag. Tot dan sal US Internasionaal die veldtog #myvirtualmatiebuddy gebruik om inligting te versprei oor die beskikbare hulpbronne en dienste om studente se aanpassing by die US makliker te maak. Bly ingeskakel!