肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nadine Moodie bring jeugdige uitnemendheid na leierskap van US Raad
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 05/06/2024

Om terug te keer na die Universiteit Stellenbosch (US) voel altyd vir Nadine Moodie asof sy huis toe kom. Die nuutaangewese ondervoorsitter van die Universiteit se Raad koester die geleentheid om weer met ou vriende kontak te maak en weer haar gunstelingplekke op die dorp te besoek.

“Daar is net iets aan daardie Matie-kameraadskap, die opregte gasvryheid uit die hart," sê Moodie met 'n groot glimlag. “Dit strek oor geslag en ras en ouderdom. Ek is dankbaar dat ek die Matie-'magic' ervaar het en nou vanuit 'n ander perspektief daarna kon terugkeer."

Sy is sedert 2019 'n lid van die US Raad en woon tans in Johannesburg waar sy stafhoof van Discovery se Vitality-netwerk is. Haar akademiese reis aan die US het in 2005 begin. Oor die jare het sy twee grade verwerf: BA (Internasionale Studies) en BPhil (Joernalistiek).

“Toe ek aanvanklik op Stellenbosch geland het, was die diversiteitsprofiel baie anders. Ek was in St Cyprian's School, 'n baie Engelse skool in Kaapstad, en ek wou 'n bietjie van 'n uitdaging hê, maar een wat nie te ver van die huis af was nie. Ek het in 'n US-koshuis gewoon en het dit baie geniet. Ek het vriende gemaak met studente wat van klein dorpies afgekom het en wie se huistaal Afrikaans was. Ek is vandag nog met baie van hulle bevriend."

Moodie het as voorgraadse student reeds 'n impak by US gemaak. Sy was instrumenteel in die instelling van die eerstegenerasiekamp en -kursus wat op studente gemik was wat die eerste lede van hulle gesinne was wat aan die US kom studeer het.

“Hoewel ek nie 'n eerstegenerasiestudent was nie, kon ek die kwessies verstaan en het ek besef daar is leemtes vir sekere studente om sukses in die US-omgewing te behaal," verduidelik Moodie. “Dit was nie omdat studente nie akademies begaafd was nie. Dit was weens 'n gebrek aan ondersteuning."

Die inisiatief wat sy gelei het, het as 'n loodsprogram met 300 studente begin en was baie doeltreffend. Die program het met was 90% suksesvol om studente te help om hulle grade binne drie jaar te voltooi en 70% van hierdie studente het leierskapsrolle vervul.

Moodie het in 2009 die Visekanselierstoekenning vir Diens en Leierskap ontvang en in 2017 was sy een van die Mail & Guardian se Top 200 Jong Suid-Afrikaners.

Moodie beskryf haarself as 'n “nie-posisionele leier" wat inspirasie vind uit die voorbeeld wat haar ouers gestel het, verkies sy om agter die skerms te werk. Haar ma, 'n onderwyseres, en haar pa, wat in die boubedryf betrokke is, het die waardes van deursettingsvermo? en diens by haar ingeboesem.

“My ouers het my en my suster grootgemaak om 'n verskil te maak in die samelewing. My ma het aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestudeer. Sy was 38 jaar lank 'n onderwyser voordat sy in 2021 afgetree het. Sy was vir so lank as wat ek kan onthou 'n Afrikaanse onderwyser en sy het verwag dat ons die taal behoorlik onder die knie kry."

Moodie glo die joernalistiekgraad wat sy in 2012 aan die US voltooi het, het aan haar waardevolle vaardighede verskaf het wat haar in staat gestel het om sukses in die wêreld buite die akademie te behaal. Toe sy as intern by Media24 se gemeenskapskoerante begin werk het, het sy stories oor vermiste kinders, wintervloede en haweloosheid gedek. “Ek moes stories doen wat my in die harte van gemeenskappe ingeneem het. Ek dink wat wonderlik was van die joernalistiek, was dat dit my, ek sou nie sê wreed ontnugter het nie, maar ek het baie vinnig grootgeword ten opsigte van die besef van die kwessies waarmee mense te kampe het. Joernalistiek het my geleer om krities oor die wêreld te dink."

Danksy haar belangstelling in finansi?le joernalistiek het Moodie vir 'n rukkie as spesialis by die wêreldwye bestuursmaatskappy McKinsey gewerk. Hier was sy medeverantwoordelik vir die bestuur van projekte regoor Afrika en het sy ook vir 'n tyd lank aan gevorderde ontledingsprojekte in die Verenigde State gewerk. Haar skryfvaardighede het haar reputasie as toespraakskrywer vir die vennote by McKinsey 'n groot hupstoot gegee.

Sy het drie jaar gelede by Discovery Beperk in Johannesburg begin werk, waar haar rol as stafhoof ho?vlak strategiese verantwoordelikhede behels. Sy is in beheer van uitvoerende en bestuurskomitees en Moodie se werk behels ook die kweek van verhoudinge met verskeie belanghebbendes regoor die wêreld en gevorderde aktuari?le denke.

Haar syfervaardighede en belangstelling in finansies is een van die redes waarom sy die uitdaging geniet om in die US Raad te dien, sê Moodie. “Ek stel baie in die sakemodel van die Universiteit belang en om te help om die finansi?le gesondheid van die instelling te verseker deur nuwe inkomstestrome te ondersoek."

As een van die jongste lede van die US Raad op 32, neem Moodie haar rol as verteenwoordiger van die jonger geslag ernstig op. Sy is filosofies oor die voordeel van die jeug. “In Afrika is die gemiddelde staatshoof 70 jaar oud, maar die gemiddelde persoon is 16 jaar oud. Op dubbel daardie ouderdom dink ek ek kan van hulp wees!"

Moodie se verkiesing as ondervoorsitter van die US Raad is veral betekenisvol gegewe haar familie se historiese verbintenis met Stellenbosch. “Toe ek verkies is, het ek gedink aan my familie se skakel met Stellenbosch en hoe my oupa, wat op die dorp grootgeword het, nie toegelaat is om aan die universiteit te studeer nie. Natuurlik is die US nog steeds nie 'n perfekte instelling nie, maar soveel dinge het verander. Ek is passievol oor die Universiteit en ek is gek oor dít waarvoor ons vandag staan. Die afgelope paar jaar het my suster en baie van my neefs en niggies ook trotse Maties geword."

Moodie glo die US se krag lê in sy diversiteit. Die Universiteit spog met 'n “ongelooflike" rekord om gegradueerdes op te lewer wat positiewe bydraes tot die samelewing lewer, sê sy. “Ons alumni doen regtig wonderlike dinge daar buite. Ek loop dikwels mense by die werk raak wat ook op Stellenbosch studeer het. Die uitdaging is om te verseker dat die Universiteit voortgaan om selfs nog groter uitnemendheid op te lewer."

Dr Celeste Nel, Direkteur: Toelating & Koshuisplasing, het groot lof vir Moodie se leierseienskappe. “Nadine is 'n goedgefundeerde, sterk en deernisvolle leier. Ons is uiters bevoorreg om haar in die ondervoorsitterstoel van die Raad te hê," sê Nel.

Sy het Moodie in 2004 ontmoet toe sy St Cyprian's in Kaapstad as talentsoeker vir die US besoek het. “Nadine was destyds hoofmeisie en sy het my met haar warmte, spontaniteit, nuuskierigheid en energie oorrompel," onthou Nel. “Sy het deur haar studiejare en toe sy die beroepswêreld betree het, kontak behou. Nadine sal altyd tyd maak vir die mense om haar – al is dit net om gou by jou kantoor in te loer of om 'n vinnige boodskap te stuur om kontak te behou. As ek na Nadine kyk, sien ek nog steeds die jong 18-jarige met die drome en vasberadenheid in haar o?. Ons is uiters bevoorreg om daardie drome en vasberadenheid by die Universiteit Stellenbosch te hê."