'n Koffietafelboek ter viering van Suid-Afrika se formidabele vroue is onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) bekendgestel. Die US Museum, in samewerking met die Transformasiekantoor, het die impakvolle bekendstelling van 66 Women Who Built a Better Future for South Africa 66 Years Later aangebied.
Die boek, onder redaksie van prof Rozena Maart van die Universiteit van KwaZulu-Natal en 'n voormalige Mej Suid-Afrika, Joan Madibeng, bevat ook bydraes van twee US-akademici, dr Jean Farmer en prof Doria Daniels, wat albei by die geleentheid gepraat het.
Die boek vang die verhale vas van 66 Suid-Afrikaanse vroue op 'n aangrypende wyse en trek verbande met die historiese 1956-optog toe 20 000 vroue na die Uniegebou opgeruk het om teen apartheids-paswette te betoog.
Die geleentheid, wat deur senior personeel, studente en gaste bygewoon is, het gelei tot insiggewende gesprekke oor die stryd en oorwinnings van Suid-Afrikaanse vroue. Die sprekers het die voortdurende uitdagings wat vroue in die akademie en die samelewing in die gesig staar, belig.
Dr Zethu Mkhize, Direkteur van die Transformasiekantoor by die US, het in haar inleidende opmerkings die gehoor aan die harde werklikhede herinner wat vroue onder apartheid beleef het en daarmee saam ook die wetgewende vooruitgang gevier wat vroue vandag bemagtig.
Maart het insae gebied in die motiverings en uitdagings wat hulle beleef het om die ervarings van 'n uiteenlopende groep vroue te dokumenteer. Sy het beklemtoon hoe belangrik dit is om erkenning te gee aan vroue se voortdurende stryd en bydraes oor verskeie domeine heen.
“Die stryd van vroue wat jy in die boek sien, is nie die soort stryd waaroor mense met gemak praat nie, dit is ingewikkeld en moeilik. Maar wat na vore kom, is deursettingsvermo?, volharding en die vermo? om te sê hoewel ek my geskiedenis met my saamdra, is ek nie my geskiedenis nie. Ek is die persoon wat uitdagings te bowe kom, ek is die persoon wat oorwin het, ek is die persoon wat floreer," het Maart opgemerk.
Sy het gesê die boek vier die grasie, waardigheid, vreugde, liefde en wysheid van Suid-Afrikaanse vroue wat die veerkragtigheid van 'n land verpersoonlik wat massiewe historiese ongeregtighede en wreedheid oorkom het.
Die vroue wie se verhale in 66 Women Who Built a Better Future for South Africa 66 Years Later verskyn, kom uit verskeie velde soos die sakewêreld, die akademie en die media. Hulle is entrepreneurs, menseregte-aktiviste, geoktrooieerde rekenmeesters, ingenieurs, hoof- uitvoerende beamptes, mediese kundiges, opvoeders en mariene toesighouers – mense soos Basetsana Kumalo, Peggy-Sue Khumalo, LeAnne Dlamini, Imani Rappetti, Nwabisa Makunga, Boitumelo Semete, Amanda Dambuza, Nompendulo Mkatshwa en Olwethu Leshabane, om maar 'n paar te noem.
Die geleentheid het as platform gedien vir verskeie bydraers om hulle verhale te deel, wat die interseksionaliteit van hulle stryd en kollektiewe pogings om sistemiese hindernisse te oorkom, beklemtoon. Farmer het die voortdurende uitdagings bespreek wat swart vroue in die akademie ondervind ter illustrasie van die krag wat nodig is om jou pad in sulke ruimtes te vind.
Sy het jong vroue aangemoedig om die stryd voort te sit wat 'n ouer geslag baanbrekers begin het. “Jy het jou plek in ho?r onderwys bereik deur jou ouers en grootouers se opofferings. Jy moet die stryd voortsit. Ons gaan nie toekyk hoe jy terugstaan en mense toelaat om oor jou te loop nie. Dit is nie wat die vroue in 1956 vir jou wou hê nie. Dit is ook nie wat die 66 vroue in hierdie boek vir jou wil hê nie," het Farmer benadruk.
Daniels het oor die sielkundige en maatskaplike druk gepraat wat vroue beleef, en het beklemtoon hoe belangrik dit is om vroue se rolle in openbare én private sfere te erken. Sy het opgemerk dat hoewel daar reeds vordering gemaak is, daar nog baie werk gedoen moet word om ware geslagsgelykheid te bereik.
“Ek is 'n emeritusprofessor en tegnies afgetree, maar ek werk nog steeds soos 'n besetene. Ek is 'n eerstegenerasie swart akademikus. Dikwels, wanneer studente ouer mense in die akademie sien, dink hulle dit was maklik vir ons. Hulle besef nie ons staan in 'n omgewing wat met 'n belaaide geskiedenis gepaard gegaan het nie. My bydrae tot hierdie boek ter viering van vroue is 'n geleentheid om die stemme van die vroue wat nie vanaand hier is nie, te vereer – my ma, my ouma, my tantes en die tannies van die gemeenskap wat alles bymekaar gehou het toe ons mense na die woesteny van die Wes-Kaap en regoor die land gestrooi is."
Sy het jong vroue aangemoedig om hul stemme te laat opklink. “Maak aanspraak op wie jy is en neem standpunt in. Jy is hier omdat jy verdien om hier te wees. Jy is hier omdat jy die kennis en die vermo? het. Moenie terugstaan nie." In 'n omgewing wat steeds vyandig teenoor histories gemarginaliseerde mense kan wees, moet vroue mekaar ondersteun, het Daniels gesê. “Jy moet die deur vir ander oopmaak."
Roxanne Ross Manikkan, die eerste vroulike kommersi?le duiker in die hawe van Durban, het haar baanbrekerreis gedeel en beklemtoon hoe belangrik dit is om deur mure te breek en presedente vir toekomstige geslagte vroue te skep op gebiede wat steeds deur mans oorheers word.
Die gehoor was betrokke en het geesdriftig deelgeneem aan 'n vraag-en-antwoord-sessie wat op die aanbiedings gevolg het. Die aand is afgesluit met opmerkings van Farmer, wat die Transformasiekantoor se verbintenis tot die bevordering van geslagsgelykheid beklemtoon het en studente en personeel ondersteun het om die stories in die boek te ondersoek. Sy het 'n uitnodiging aan die Universiteitsgemeenskap gerig om betrokke te raak by die boek by die Transformasiekantoor waar 'n eksemplaar beskikbaar is.
- Die pragtige hardeband-boek kos R1 000. Eksemplare van 66 Women Who Built a Better Future for South Africa 66 Years Later kan by danielleg@arena.africa bestel word.